Lexus skuif nader aan produksieweergawe van nuwe LF-NX Turbo-konsepmodel by Tokio-Motorskou

’n Nuwe weergawe van die LF-NX HV-kompakte kruismotor-konsepmodel wat vroeër vanjaar by die Frankfurtse Motorskou onthul is, maak vandeesweek sy buiging by die Tokio-Motorskou as die LF-NX Turbo. (Die jongste foto’s kan reeds afgelaai word.)

Die nuwe LF-NX Turbo se tweeliter-enjin, wat begeesterde verrigting met skitterende brandstofdoeltreffendheid kombineer, baan die weg na die bekendstelling van turbo-aangejaagde petrolenjins in toekomstige Lexus-modelle.

Ontwerp

Die LF-NX Turbo deel die vernuwende, treffende ontwerp van die HV (hibried)-weergawe, wat vroeër vanjaar in Frankfurt te sien was, met die toevoeging van talle detail-veranderings aan die binne- en buitekant, wat die verrigtingspotensiaal van sy nuwe tweeliter-turbo-enjin weerspieël.

Die hersiene vooraansig pronk met die Lexus-uurglasrooster wat gerookte chroombeslag en ’n bykomende smal, swart maasdraadbedekte onderste luginlaat bokant ’n dowwechroom-lugskort insluit. Dit beklemtoon die nuweling se laer swaartekragmiddelpunt en sportiewer verrigting.

Die wielnisse en onderste opslagskerm is in blink, swart verf afgewerk, terwyl die boonste skerm dowwechroom-afwerking het. Die gerookte chroom-afwerking in die sierrooster word in die omhulsel en boonste oppervlak van die deurspieëls herhaal.

Die nuwe, laer buffer aan die agterkant word deur ’n lugdinamiese verspreier oor die hele breedte – ook met dowwechroom-afwerking – beklemtoon. Uitdruklik gevormde uitlaatpype, wat die stilering van die regop luginlate in die voorste modderskerms weerspieël, word aan weerskante aangetref.

Die konsepmodel pronk met stewiger allooisierwiele en nuwe grootte bande, wat die HV se 255/50R20-rubber met 255/45ZR20’s vervang en die voertuig ’n meer sportiewe voorkoms met ’n breë houding wat vertroue inboesem, gee.

Die verrigtingspotensiaal word in die kajuit deur rooi beligting vir die belangrikste kontroles, meters, Lexus se Remote Touch Interface en raakskermkontroles weerspieël.

 Kragbron

Die LF-NX Turbo-konsepmodel pronk met Lexus se eerste turbo-aangejaagde petrolenjin.

Die viersilinder-enjin van 2,0 liter gebruik Lexus se gevorderde waaier-brandstofinspuiting met hoëspoed-warrelluginlaat en D-4S- en VVT-i-ontstekingstegnologie. Die uitlaatspruitstuk is deel van die silinderkop, terwyl die enjin met ’n dubbelkrul-turbo-aanjaer met ’n aktiewe morssluisklep toegerus is.

Die uitlaatspruitstuk, wat die volmaakte uitlaatgastemperatuur bewerkstellig, sorg vir hoë verrigting, brandstofdoeltreffendheid en min uitlaatgasse, terwyl die turbo-aanjer regdeur die grootste moontlike toerestrek doeltreffend bly.

Die eenheid is ten gunste van vinnige versnellerreaksie ontwikkel, maar bied nogtans skitterende brandstofekonomie.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus skuif nader aan produksieweergawe van nuwe LF-NX Turbo-konsepmodel by Tokio-Motorskou