Staking kniehalter groei in motorverkope

 

  • Toyota behou gewildheid te midde van daling in voertuig-aflewerings
  • Motorverhuringsverkope gee mark ’n hupstootjie
  • Voertuiguitvoer daal skerp
Marksegment September 2012 September 2013 %-verandering
Passasiersvoertuie 39 489 39 792 +0.8%
Ligte handelsvoertuie 13 283 12 014 -9.6%
Medium handelsvoertuie 778 886 +13.9%
Swaar handelsvoertuie 469 462 -1.5%
Ekstraswaar handelsvoertuie 1 011 1 033 +2.2%
Busse 63 94 +49.2%
Voertuig-uitvoer 26 646 6 622 -75.1%
Algehele mark (plaaslik) 55 093 54 281 -1.5%

 

Toyota Suid-Afrika Motors bly Suid-Afrika se gewildste voertuigvervaardiger ten spyte van ’n verlies aan vervaardigingsvermoë weens die vroeëre staking in die motorvervaardigingsbedryf en die huidige staking in die komponentvervaardigingsbedryf.

Volgens die verkoopsyfers wat deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) aangekondig is, hetToyotaaltesaam 9 761 voertuie in die algehele mark van 54 281 eenhede van die hand gesit.Toyotahet in September ook nog 1 913 voertuie uitgevoer.

Die voertuigmark het met 1,5% teenoor September 2012 gedaal, maar was 3,2% laer as in Augustus 2013. Dit is ’n beduidende afname in die lig van die verskynsel dat voertuigverkope gewoonlik teen die einde van ’n kwartaal begin versnel namate handelaars en vervaardigers werk daarvan maak om kwartaallikse verkoopsteikens te haal.

“Die mark toon die eerste tekens van die tekort in die verskaffing van plaaslik vervaardigde voertuie, soos die Toyota Corolla, Hilux en Fortuner. As ’n mens in ag neem dat vervaardigers gewoonlik sowat ses weke se voorraad in die verskillende fases van die voertuig-waardeketting hou (wat berging, aflewering en handelaarsvoorraad insluit) en as die staking in die komponentebedryf hierdie week nog voortduur, sal voertuigverkope in Oktober nog verder daal as wat verwag word,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President vir Verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

Hamman verduidelik dat die daling in verkope ’n uitwerking op die algehele groei in voertuigverkope vir 2013 sal hê, terwyl die geskatte daaglikse verlies van R600 miljoen waaronder die motorbedryf gebuk gaan, ongetwyfeld ’n uitwerking op die land se bruto binnelandse produk vir vanjaar sal hê.

Die aanvanklike uitwerking van die verskillende motorbedryfstakings is ook in die verkope vir die jaar tot nou te bespeur. Dié syfer het tot 5% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar gedaal. Dit is ver onder baie se aanvanklike bedryfsgroeiverwagtinge van 10% of meer. Die verlies aan vervaardiging en die vertraging in voertuigverskaffing sal aanhou om die verkope van plaaslik vervaardigde volume-verkopers vir die res van 2013 te beïnvloed.

Die algemene daling is effe teengewerk deur die aansienlike aankope deur die motorverhuringsmaatskappye. Motorverhuurders is besig om reg te maak vir die Kersseisoen en baie van die voertuie verkoop is deel van vooraf-bespreekde tender-aankope.

Voertuigverkope deur die handelaars-netwerk is wel geknou, maar die impak is versag deur die verkope van ingevoerde voertuie.

“Die daling in voertuigverkope en die voortgesette stakings sal ook ’n uitwerking in die algemene sakevertroue hê,” sê Hamman. “Die meeste van die onlangse bedryfsaanwysers het dié sentiment aan ’n negatiewe kant geplaas, wat op sy beurt toekomstige voertuigverkope sal raak.”

Sekere positiewe nuus vorm egter ’n teenwig vir die daling in sakevertroue, waaronder die Reserwebank se besluit om die rentekoers onveranderd te laat, en vandeesmaand se effense daling in die brandstofprys.

“Die brandstofprys is en bly ’n gunsteling-besprekingspunt. Ons bespeur groter belangstelling in ons vooraanstaande hibriedtegnologie, veral vandat ons ons Yaris- en Auris-hibriedmodelle bekend gestel het,” sê Hamman.

Nog ’n positiewe verandering in voertuigverkope is die algemene goeie verkope in die afdelings vir medium, swaar en ekstraswaar handelsvoertuie. Handelsvoertuie word gewoonlik uit ingevoerde komponente aanmekaargesit, en hierdie bedrywighede kon dus ten spyte van die staking in die komponentvervaardigingsbedryf hervat word.

Toyota Suid-Afrika Motors monteer die hele Hino-vragmotorreeks by sy Prospecton-aanleg inDurban.

Posted on by jonckie

Comments Off on Staking kniehalter groei in motorverkope