Lexus SA bevestig koms van splinternuwe ES 250

 

  • Lexus ES 250 sal by Johannesburgse Internasionale Motorskou onthul word
  • Skep nuwe ‘toeganklike’ weeldesegment

Lexus Suid-Afrika het bevestig dat dié weeldefabrikaat sy modelreeks plaaslik gaan uitbrei deur die splinternuwe ES 250 in November 2013 by sy Lexus-modelreeks te voeg. Die Johannesburgse Internasionale Motorskou sal heel gepas die eerste openbare uitstappie vir die nuwe model wees. Die ES, wat in Japan gebou word, is oorspronklik in 1989 bekend gestel, en die huidige sesde geslag is amptelik die wêreld se topverkoper-Lexus-sedan.

Justin Ryan, die hoofbestuurder van Lexus SA, het gesê die toevoeging van die nuwe ES sal Lexus se voortgesette verbintenis tot klante en vernuwing versterk.

“Die plaaslike bekendstelling van die ES volg regstreeks op klante se vraag na ’n meer toeganklike, waarde-geöriënteerde weeldeproduk uit die Lexus-stal, en ons is baie in ons skik met die feit dat ons nie een nie, maar twee weergawes bekom het en terselfdertyd ons portefeulje vir vernuwende hibriedvoertuie uitgebrei het (die ES 300h kan aanvanklik op versoek bestel word).

“Die nuwe ES val prysgewys net onder die IS-reeks, maar wat sy kajuit betref, bied hy eerder die soort ruimte wat in die GS aangetref word – beskou dit as die ruim en gemaklike alternatief vir die meer dinamies gefokusde IS- en GS-reekse.

“Die ES, wat deftig gestileer dog paslik onbeskaamd is, word het ’n onderstel wat bevredigende ry-eienskappe en ’n ongelooflike soepel rit bied. Sy ongehoorde standaard-toerusting, vooraanstaande tegnologie en hoëgehalte-binneruim wat deurspek is van al die jongste weelde en deftighede, vul die hele pakket aan,” het Ryan gesê.

Die nuwe ES in ’n oogopslag

Die nuwe ES is die jongste model wat met die sterk gelaatstrekke van die nuwe Lexus pronk: die dramatiese vorm van die uurglas-sierrooster. Ander treffende L-Finesse-aangespoorde kenmerke sluit in ’n sterk skouerlyn, daglig-ryligte, en ’n breë houding laag bo die pad. Kort voorste en agterste oorhange – aan weerskante van ’n asafstand wat met 45mm verleng is – en dramatiese 17”-allooisierwiele beklemtoon ook die gevoel van ’n doelgerigte houding.

  • Die binneruim bied die beste ruimte in sy klas tesame met ’n verbeterde sitposisie agter die stuur. Die jongste ES het ’n kleiner stuurhoek as die vorige weergawe (wat nié in Suid-Afrika beskikbaar is nie), wat die gevoel van beheer agter die stuur verbeter, terwyl die voorste sitplekke ten gunste van bykomende kopruimte nog 15 mm laer kan verstel. Kopruimte agter is 20 mm meer, terwyl die agterste knieruimte met ’n merkwaardige 60 mm vergroot is.
  •  Die ES se binneruim sorg vir ’n harmonieuse balans tussen innemende warmte, ergonomiese intelligensie, en die beste tegnologie in sy klas. Uitstaande kenmerke sluit in die tweede-generasie afstand beheerde raakvlakstelsel wat volmaak by die volkleur-monitor van 200 mm inpas, volledige ingeboude satelliet-navigasie, leerbekleedsel met hoëgehalte-stikwerk regdeur en stemmende beligting. Die ES deel ook baie eienskappe met die nuwe GS, soos sy wyserhorlosie en die Nano-e-klimaatstelsel. Bykomende standaard-toerusting sluit in ’n glasdak, afstand beheerde sleutellose toegang, elektries verstelbare sitplekke met sitplekverwarmers (met geheuewerking vir die bestuurdersitplek), ’n elektrochromatiese binne-truspieël, trurat-monitor en parkeerhulp. Die klavierswart afwerking en sjampanje-silwer beslag van die middelkonsole spreek van die weelderige styl wat regdeur die kajuit aangetref word.

 

  • Die nuwe ES het ook ’n magdom uiters gevorderde passiewe en aktiewe veiligheidskenmerke. Dit behels: baanwisselhulp met blindekol-monitor, voertuigstabiliteitsbeheer, en sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD) en noodremhulp (BA). Die nuweling het ook tien lugsakke as deel van sy standaard-toerusting.

 

  • ’n Draaiknop word ingespan waarmee die bestuurder die ECO-, NORMAL-, of SPORT-verstellings vir die outomatiese transmissie kan kies. Dit sorg vir verskillende ervarings in die ES oor ’n wye spektrum – van uiters ekonomiese en ontspanne motorry in ECO, waar eienskappe soos versnellerreaksie en lugversorging vir volmaakte doeltreffendheid aangepas word, tot die baie meer sportiewe en meer direkte SPORT-werking. Die instrumentehuisie se beligting weerspieël die atmosfeer: blou vir ECO en rooi vir SPORT.

 

  • Die ES 250 word aangedryf deur ’n nuwe viersilinder-enjin van 2,5 liter, met dubbele VVT-i-werking vir die tweeling-nokasse, en lewer 135 kW teen 6 000 r/min met 235 Nm se wringkrag teen 4 100 r/min. Die motor kan met die hulp van sy gewone outomatiese sesgang-ratkas in minder as tien sekondes tot 100 km/h versnel, en ’n topspoed van oor die 200 km/h haal.

 

  • Die Lexus ES 300h (aanvanklik op bestelling beskikbaar) gebruik ’n viersilinder-enjin van 2,5 liter met enkele VVT-i-werking, ’n dubbele nokas en die Atkinson-siklus (118 kW teen 5 700 r/min met 213 Nm se wringkrag teen 4 500 r/min) wat met ’n elektriese motor van 105 kW saamspan. Die elektriese motor word deur ’n nikkelmetaalhidried-battery van 650V aangedryf en lewer 151 kW saam met die petrolenjin. Die Lexus ES 300h, wat ’n palwissel-transmissie het, versnel in 8,5 sekondes tot 100 km/h en haal ’n topspoed van 180 km/h.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus SA bevestig koms van splinternuwe ES 250