Landies knou mekaar in Bridgestone-uitdaging

Die voorlaaste ronde in Bridgestone se 4×4-klubuitdaging vir 2013, wat deur die Land Rover-eienaarsklub van Suid-Afrika aangebied is, was ’n riller van ’n byeenkoms.

Die saamtrek, wat by die Leeuwenkloof-omgewingsgesinde 4×4-terrein naby Hartbeespoortdam gehou is, het meer as 30 Landies gelok – nuwe en ouer Defenders, Discovery’s en selfs ’n ou Range Rover. En hoewel die beste 4×4 in die kollig was, was pragmatisme aan die orde van die dag: talle sogenaamde “Land Rover-herwinningsvoertuie” (ook bekend as Toyotas) was byderhand om deelnemers wie se voertuie onmoontlik vasgeval het, uit te sleep.

Tipiese 4×4-klubuitdaging-byeenkomste het tot tien hindernisse, maar die LROC-roete het net drie, wat in seksies verdeel was, gehad. Elkeen was gemerk asof dit ’n gewone klubuitdaging-hindernis was. Nog iets wat van die gewone Uitdagingsbyeenkomste afgewyk het, was dat die deelnemers toegelaat is om in die hindernisse stil te hou sonder om gestraf te word.

Die eerste stel hekke het ’n skerp steilte behels, wat deur ’n selfs nog steiler afdraande gevolg is. Die meeste spanne het hier goed gevaar, maar hulle toe probleme op die hals gehaal deur teen puntevretende wit paaltjies en hekke vas te ry.

Die volgende “hindernis” was ’n nuutjie: die bestuurders moes laestrek gebruik, hul voertuig teen luierspoed laat ry, uitspring en die Landy deur ’n spul hekke deur die oop venster bestuur terwyl hulle langs die voertuig stap (of trippel!). Dit was nogal interessant, hoewel die laaste gedeelte vir die dag se beste vermaak gesorg het.

Dit was ’n steil, gladde opdraande, ’n skerp draai of twee, en ’n paar bome en hekke om die voertuie te troef. Dit was ’n goeie uitdaging vir van die meer ervare deelnemers, maar die nuwelinge het gesweet. Een van die vroeë ongevalle was ’n Discovery IV waarvan die bestuurder ’n lyn en taktiek gekies het wat die voertuig teen ’n boom laat vasfoeter het. Daarbenewens het ’n Defender sy nuweling-bestuurder in die eerste draai só in die pekel laat beland dat dit ’n uur en ’n half en drie van die gewillige Toyotas geneem het om die Landy te herwin.

Dit was vir die roetehoof die teken om die byeenkoms eerder te beëindig – ’n hele aantal onervare bestuurders moes dié hindernis nog aandurf, maar hy het besluit om halt te roep voordat iemand seerkry.

Dit was dit, en dit het tyd geword om die tellings bymekaar te tel.

Die derdeplekwenner, wat ’n hand-wenas van Opposite Lock gewen het, was Warren Vos in ’n kortbak-Defender V8. Die naaswenner was Adriaan Aucamp – wat ten spyte van ’n gebreekte been deelgeneem het – in sy Range Rover, wat hy Rachel gedoop het. Aucamp het ’n stel Light Forcekolligte, ook van Opposite Lock, gewen.

Die kampioen vir die dag was Alex van der Horst in sy Defender 90, wat die res van die Landy-brigade met vaardigheid, vernuf en veldryvermoë uitoorlê het. Alex het ’n geskenkbewys van R10 000 van Bridgestone Suid-Afrika losgery.

Die omgewingsprys van R2 000 is deur Wian Smith, wat ook in ’n Defender was, gewen.

Nog inligting: www.bridgestone.co.za

Posted on by jonckie

Comments Off on Landies knou mekaar in Bridgestone-uitdaging