Koop Pienk teen Borskanker

As jy ’n stel pienk klepdoppies vir R50 by jou naaste Supa Quick-handelaar koop, sal Bridgestone die hele bedrag aan die PinkDrive-borskankerinisiatief skenk om borskanker te help bestry. Dít is die nuus van dié bekende bandevervaardiger, wat reeds met PinkDrive saamwerk deur bande vir hul vloot mobiele mammografie- en onderrigeenhede te voorsien.

“Die pienk klepdoppies bestaan uit ’n stel van vier en kan by Supa Quick-handelaars regoor Suid-Afrika ten bate van die PinkDrive-veldtog aangeskaf word,” het Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, gesê. “Die doel met die mobiele mammografie-eenhede is om vroue maklike toegang tot ondersoeke vir borskanker te gee, veral nou in Oktober, wat borskankerbewustheidsmaand is,” het sy verduidelik.

Hoe vroeër borskanker opgespoor word, hoe beter is die kanse op suksesvolle behandeling. Baie Suid-Afrikaners het egter nie toegang tot die tegnologie wat gebruik word om borskanker op te spoor nie, en PinkDrive is daarop uit om hulle met moderne ondersoekhulpmiddels en onderrig te bereik.

Die pienk klepdoppies is nie net vir vroue nie, maar iets wat die manne ook kan gebruik. Dit is nie algemeen bekend dat borskanker mans ook kan raak nie, en PinkDrive het Suid-Afrikaners daaraan herinner dat mans en vroue bo 40 mammogramtoetse behoort te laat doen om met die vroeë opsporing van borskanker te help.

PinkDrive het tot nou meer as 5 000 gratis mammogramme gedoen, meer as 50 000 gratis kliniese borsondersoeke uitgevoer en borsgesondheidsonderrig aan meer as 70 000 Suid-Afrikaners gegee.

“Ons moedig motoriste aan om hul pienk klepdoppies so gou as moontlik te gaan koop om ons met hierdie verdienstelike saak te help. Wys jou familie en vriende jy gee om en kry hulle om ook in te spring,” het Lovell gesê. “Jy kan ook by www.pinkdrive.co.za gaan kyk om meer oor borsgesondheid te lees, en by www.bridgestone.co.za vir nog inligting oor die pienk-klepdoppie-projek. Dié veldtog duur van Oktober tot Desember en al die geld wat met die verkoop van die klepdoppies ingesamel word, sal aan die PinkDrive-borskankerinisiatief oorhandig word,” het Lovell gesê.

Posted on by jonckie

Comments Off on Koop Pienk teen Borskanker