Castrol-Toyota -Renspan wen SA Veldrenkampioenskap

 

  • Duncan Vos/Rob Howie (Toyota Hilux) wen Ford-handelaars-400-veldren
  • Anthony Taylor/Dennis Murphy (Toyota Hilux) beklink kampioenskap
  • Toyota jaag Vervaardigerskampioenskap sesde agtereenvolgende keer los

 

Duncan Vos en Rob Howie (Castrol-Toyota Hilux) het die Ford-handelaars-400-veldren, die voorlaaste ren in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap, Saterdag by Thaba Nchu in die Vrystaat gewen terwyl hul spanmaats Anthony Taylor en Dennis Murphy vierde was en genoeg punte losgejaag het om die 2013-kampioenskap vir produksievoertuie ’n ronde voor die einde van die seisoen te beklink.

Vos en Howie se oorwinning – hul eerste hierdie seisoen – het die Castrol-Toyota-renspan se oorwinningstog tot vyf verleng, terwyl Taylor en Murphy vier byeenkomste op pad na hul eerste en Toyota se 16e kampioenskap agtereenvolgens gewen het.

Taylor, wat in verlede jaar as naaswenner uit die stryd getree het, en Murphy, wat eers van vanjaar af as nasionalekampioenskapsnavigator deel van die Toyota Motorsport-span is, was op pad om hul vyfde agtereenvolgende oorwinning te beklink nadat hulle in Vrydag se voorren die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel het. Hulle het hul voorste posisie naby aan die einde van die eerste van die byeenkoms se twee rondtes oor 170 kilometer elk afgestaan nadat hulle vermoed het hulle het van die roete afgedwaal, en het omgedraai net om later te besef hulle was van die begin af reg. Daarbenewens het hulle ’n pap wiel in die digte stof van die voertuie wat intussen by hulle verby is, opgedoen. Dit het hulle by die verpligte kuipestop in Thaba Nchu by die halfpadmerk in die ren tot sesde laat terugsak.

Taylor-hulle het die tweede rondte indrukwekkend aangedurf en nie net die vinnigste tyd van al die deelnemers opgestrel nie, maar tot twee sekondes agter Lance Woolridge en Ward Huxtable, wat derde was, opgeskuif.

“Ek en Dennis het besef ons het ’n goeie kans om die kampioenskap vandag nog hier te beklink en ons is baie in ons skik dat ons dit met nog een ronde oor voor die einde van die seisoen reggekry het,” het Taylor gesê. Hy het nou ook veldtydrenne by sy talle enkelsitplek- en sedanmotorkampioenskapstitels wat hy deur sy renloopbaan opgestapel het, gevoeg.

“Ons moes ná ons probleme in die eerste rondte van die ren hard druk, en dit is ’n groot verligting dat dit genoeg was om ons eerste titel te wen. Ek en Dennis het goed saamgewerk, die Hilux was die hele seisoen fantasties en die steun van ons tegniese span was die beste.”

Die byeenkoms is op die tradisionele knap en tegniese roete in warm, droë en stowwerige toestande met veldbrande in ’n omgewing waar dit van Januarie af nog nie weer gereën het nie, geheel en al deur Toyota oorheers.

Die spanhoof, Glyn Hall, was vol lof vir sy twee spanne. “Dit is ’n skitterende uitslag vir die hele renspan,” het hy gesê. “Almal het hulle puik van hul taak gekwyt en ons het weer bewys dat die Hilux die absolute gunsteling is. Baie geluk aan Anthony en Dennis met hul eerste kampioenskap, en baie geluk ook aan Duncan en Rob, wat hul oorwinning uit en uit verdien het. ’n Groot dankie ook aan al die private Toyota-jaers, wat weer ’n groot bydrae gelewer en ons gehelp het om die vervaardigerskampioenskap te wen.”

Vos en Howie, die uittredende kampioene, was baie in hul skik met hul algehele oorwinning ná ’n probleemvrye ren. “Ons het vandag die volmaakte lopie gehad – geen probleme met die Hilux nie, en Rob het geen foute met die aanwysings gemaak nie,” het Vos gesê. “Veldtydrenne is deesdae só mededingend dat ’n mens dit nie kan bekostig om ’n navigasiefout te maak of ’n pap wiel op te doen as jy wil wen nie. Ons het vandag gedoen wat ons moes. Baie geluk aan Anthony en Dennis – hulle verdien daardie kampioenskapstitel dubbel en dwars!”

Benewens Vos en Howie se oorwinning in die vooraanstaande Klas SP, het private Toyota-jaers ook eerste en tweede in Klasse D en E geëindig.

Die Horn-broers Johan en Werner (Toyota Land Cruiser) het Klas D gewen met Jason Venter en Vincent van Alleman (Toyota Hilux) in die tweede plek, terwyl Douglas Fear en Kurt de Villiers (Toyota Hilux) Klas E gewen het met Johan Pretorius en Gesina Dauth (Toyota Hilux) wat die naaswenners was.

Toyota het ook die vervaardigerskampioenskap vir die byeenkoms gewen en genoeg punte in die algehele vervaardigerskampioenskap losgejaag om van sy sesde agtereenvolgende en sewende algehele vervaardigerskampioenskap in die 12 jaar van die reeks te beklink.

Die laaste ronde van die kampioenskap is die Atlas Copco-400 in Westonaria die naweek van 22 en 23 November 2013.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, 4×4 MageWorld, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter www.twitter.com/toyotasa.

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol-Toyota -Renspan wen SA Veldrenkampioenskap