Castrol Toyota die groot gunstelinge in veldtydrenreeks

Die stryd om die algehele oorwinning in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap verhoog Vrydag en Saterdag aansienlik in die voorlaaste ronde, die Ford-handelaars-400 in Thaba Nchu in die Vrystaat, waar die Castrol-Toyota-span die groot gunstelinge is.

Die kampioenskapsvoorlopers, Anthony Taylor en Dennis Murphy, wat die laaste vier rondes agtereenvolgens gewen het, en hul spanmaats, die verdedigende kampioene Duncan Vos en Rob Howie, is in die kollig in hul Klas SP-Toyota Hilux-inskrywings. Taylor-hulle het ook die vooraanstaande Toyota-Woestynren in Botswana, wat dubbele punte behels het, gewen terwyl die span in die onlangse Sun City 400 en Vryburg 400 telkens eerste en tweede was.

Taylor en Murphy (135,5 punte), wat maar eers van hierdie seisoen af saam jaag, het hul teenstanders in hul soeke na hul eerste kampioenskap oorheers en geniet ’n gesonde voorsprong van 20 punte teenoor die oudkampioene Chris Visser en Japie Badenhorst (115,5 punte). Die Toyota Motorsport-span se voordeel kan tot 24 punte styg aangesien die reeks oor net sewe van die agt rondes tel en elke span sy swakste punte vir een ronde buite rekening kan laat (wat aan die einde van die seisoen gedoen moet word).

Vos, ’n vyfmalige kampioen, en Howie is op die oomblik derde en het 92 punte, en met altesaam 50 punte wat in die laaste twee rondes nog op die spel is, is hulle die enigste ander span wat die reeks nog kan beklink. Hul rol in die oorblywende twee rondes sal egter wees om so veel as moontlik punte van Visser en Badenhorst af te rokkel en hul spanmaats te help om die kampioenskap te wen.

“Ons het ’n goeie lopie tot dusver vanjaar gehad,” het die Toyota Motorsport-spanhoof Glyn Hall gesê. “Maar daar is nog baie werk om te doen voordat ons kan ontspan en nog ’n kampioenskapsukses kan geniet. Die mededinging is straf en hoewel hulle nog net een ren gewen het, was Chris en Japie baie bestendig en is hulle altyd ’n groot gevaar.

“Ons takel dit soos altyd as een byeenkoms op ’n keer, en het ons versigtig op die Thaba Nchu-ronde voorberei. Dit was nie nodig om baie verbeterings aan die Toyota Hilux aan te bring nie. Die voertuie is omtrent so goed as wat ons hulle kan kry sonder om ’n splinternuwe weergawe te bou, en ons is vol vertroue dat ons ons goeie lopie tot die einde van die seisoen kan volhou.”

Toyota Motorsport het spesiale toestemming by die Veldtydrenmotorvereniging van Motorsport Suid-Afrika verkry om ’n opgedateerde weergawe van die 2013-Dakar-veldtydren-Hilux voor die res van die renveld in al twee dae van die komende ren te toets. Die 2009-Dakar-wenners Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz, wat in Januarie vanjaar in ’n merkwaardige tweede plek in Suid-Amerika uit die stryd getree het, sal die voertuig beman en in die kleure van die amptelike Toyota Imperial Suid-Afrika-span jaag.

Die voertuig voldoen nie aan die reëls van die nasionale kampioenskap nie aangesien dit onafhanklike agtervering het, en sal dus nie deel van die amptelike uitslag wees nie.

“Ons het gevra om die ren in Thaba Nchu te gebruik om ’n aantal nuwe vering- en ander komponente sowel as ’n nuwe enjinbeheerstelsel voor die 2014-Dakar-veldtydren in Januarie te toets,” het Hall gesê. “Die feit dat ons toegelaat word om dit te doen, is bewys van die ongelooflike steun wat ons in veldtydrengeledere geniet sedert ons Dakar-avontuur aan die einde van 2011 begin het.

“Die twee nuwe Hilux-bakkies wat ons vir die 2014-Dakar bou, is op skedule, maar sal nie betyds gereed wees om dit in werklike rentoestande soos hierdie te beproef nie. Die Thaba Nchu-roete, wat oor twee dae sowat 400 kilometer behels, sluit hoëspoed-gedeeltes sowel as ’n paar tegniese uitdagings tussen koppies en klipperige gedeeltes in. Dit sal ’n goeie toets wees vir die komponente wat ons moet beproef, en sal Giniel ook ’n kans gee om ons van waardevolle terugvoer te voorsien.”

 

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter www.twitter.com/toyotasa.

Vir 4×4 Versekering kyk ook: 4×4 Vehicle Insurance and Road Safety

Besoek ook:

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota die groot gunstelinge in veldtydrenreeks