Toyota Yaris skitter in Toyota-Kaap-Handelaartydren

Dit was ’n naweek wat groot belofte ingehou het en op een tydstip Saterdag het dit na ’n moontlike dubbele oorwinning vir die Castrol-Toyota Yaris-renspan gelyk. Maar aan die einde van die Toyota-Kaap-handelaarstydren, wat Saterdagmiddag in Brackenfell naby Kaapstad ná twee dae en tien sneltrajekte in die omgewing van Durbanville, Malmesbury en Moorreesburg geëindig het, het Johnny Gemmell en Carolyn Swan net 1,8 sekondes gekort om ’n eerste oorwinning vir die nuwe 2013-Yaris te beklink.

Hul tweede plek agter Mark Cronjé en Robin Houghton was genoeg vir Gemmell en Swan om nog twee rondes voor die einde van die reeks tot die tweede plek op te skuif nadat hul spanmaats Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee in die tweede Castrol-Toyota Yaris tot twee sneltrajekte voor die einde van die byeenkoms nog los voor was. ’n Onverwagse enjinprobleem het hulle Saterdag in die voorlaaste senltrajek laat vassteek, en hulle is in die sewende plek geklassifiseer.

Dié uitslag is nog voorlopig en onderhewig aan ’n appél dat Toyota Motorsport aangedui het dat hy van voorneme is om beswaar aan te teken teen die besluit om ’n boete van tien sekondes wat aanvanklik aan die wenners opgelê is nadat hulle in Vrydag se laaste sneltrajek te vroeg weggespring het, weer te laat vaar.

Die sesde ronde van die SA Tydrenkampioenskap oor agt rondes was die ene drama en opwinding, en het Vrydag in koue en winderige toestande begin. Saterdag was dit nat en glad nadat reën wat oornag uitgesak het, die grootste deel van Saterdagoggend voortgeduur het.

Hoewel ’n algehele oorwinning Toyota op hierdie geleentheid ontwyk het, het dié vervaardiger die klasoorwinnings in die S2000-Uitdaging vir ouer vierwielaangedrewe motors gewen nadat die plaaslike gunstelinge Jean-Pierre Damseaux en Hilton Auffray hul Span Total-Toyota Auris in die vierde posisie algeheel oor die wenstreep gestuur het. Toyota het ook die S1600-klas vir tweewielaangedrewe motors met die Toyota Etios R2 van Thilo Himmel van Namibië en sy navigator, Armand du Toit, gewen.

Daarbenewens het Toyota ook die vervaardigersprys vir die byeenkoms gewen en sy voorsprong in die algehele vervaardigerskampioenskap vergroot.

“Dit was amper ’n volmaakte naweek vir die nuwe tydren-Yaris,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons het ná die vorige tydren heelwat veranderings aangebring en daarin geslaag om bykomende verrigting uit die motor te kry. Ons was veral tevrede met die feit dat ons sneltrajekte in droë én nat toestande gewen het sonder om tussendeur enigiets aan die motor te verander.”

Gemmell en Poulter het tussen hulle sewe van die 10 sneltrajekte waaruit die 172 kilometer van die grondpad-tydren oor twee dae saamgestel is, gewen. Hulle was Saterdag in ’n sterk posisie om eerste en tweede te eindig nadat hulle aan die einde van die eerste dag kort agter die voorlopers in die tweede en derde posisie was.

“Die Yarisse het Saterdag beheer van die tydren geneem en die eerste vier van die oggend se vyf sneltrajekte gewen. Leeroy het die algehele voortou in die agtste sneltrajek ingeneem voordat ’n enjinprobleem hom laat uitval het,” het Hall gesê. “Dit is iets buitengewoons aangesien die Toyota-enjin gewoonlik onbreekbaar is. Ons sal die oorsaak daarvan fyn ondersoek sodra ons die motor terug by ons werkswinkel in Johannesburg kry. Dit was ’n groot teleurstelling vir Leeroy aangesien dit gelyk het asof hy besig was om die byeenkoms te wen.

“Dit was ’n fantastiese poging deur al twee ons jaers en ons voel baie meer optimisties oor die toekoms.”

Die volgende ronde van die kampioenskap is die Polokwane-tydren in Limpopo die naweek van 18 en 19 Oktober.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Safe Driving in Bad Weather Conditions

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Yaris skitter in Toyota-Kaap-Handelaartydren