Toyota Corolla: Die wêreld se gewildste motor Wêreld-topverkoper met meer as 40 miljoen verkope

Toyota City, Japan, 5 September 2013 – Die Toyota-Motorkorporasie (TMC) kondig vandag aan dat saamgestelde verkope van die Toyota Corolla, die wêreld se gewildste motor, in Julie die 40-miljoen-kerf verbygesteek en altesaam 40,01 miljoen eenhede verkoop het. Dié mylpaal vier nog ’n geskiedkundige prestasie vir Toyota se standhoudende wêreldmotor.

Toyota het in November 1966 ’n nuwe aanleg in die Takaoka-distrik in die Aichi-prefektuur net vir die vervaardiging van die Corolla geopen. Vervaardiging het twee jaar later, met die klem op streekspesifieke voertuie, in Australië en Maleisië begin. Toyota het sy algehele jaarlikse produksie van 1965 tot 1968 van 480 000 tot 1,1 miljoen voertuie verhoog – ’n bewys van die Corolla se massiewe bydrae tot die groei van die maatskappy.

Die Corolla, wat deesdae by 15 aanlegte regoor die wêreld vervaardig en monteer word, verteenwoordig een uit elke vyf voertuie wat in die 76 jaar van Toyota se geskiedenis verkoop is.

Toyota het die Corolla in 1968 na Noord-Amerika begin uitvoer, en die vroeë verkoopsukses in hierdie mark het gehelp om saamgestelde wêreldverkope net vier jaar ná sy bekendstelling oor die 1-miljoen-kerf te stoot. Die Corolla het in 1997 die wêreld se topverkoper-model geword, met saamgestelde verkope wat op meer as 22,65 miljoen eenhede te staan gekom het. Meer as ’n miljoen Corollas is jaarliks van 2002 af verkoop; verlede jaar is altesaam 3 180 Corollas per dag regoor die wêreld in meer as 150 lande en streke van die hand gesit. Dit skakel om in ongeveer een Corolla elke 30 sekondes.

Van links: 1966-Corolla; Japan, Noord-Amerika en Europese markte se 11e-generasie-modelle

Die Corolla-hoofingenieur Shinichi Yasui het gesê hy voel hierdie motor word deur mense regoor die wêreld gekoester. “Ek is baie trots dat ek ’n bydrae tot sy grondslag kon lewer en is baie dankbaar aan almal wat Corollas gehad het en so lief vir hul voertuie was.

“Die kern van die Corolla se sukses is die getroue oordrag van die destydse hoofingenieur, Tatsuo Hasegawa, se oorspronklike ontwikkelingskonsep: dat die Corolla geluk en voorspoed aan mense regoor die wêreld moet bring.”

Die Corolla is oorspronklik ontwerp om aan die veranderende behoeftes van Japan se pendelaars in die middel-1960’s te voldoen. Hasegawa het besef die meeste verbruikers se daaglikse pendeltyd het weens die feit dat Japan so vinnig uitgebrei het, begin toeneem het. Die behoefte vir ’n persoonlike voertuig was aan die toeneem, en hierdie insig het Hasegawa gehelp om die eerste Corolla in die vooruitsig te stel. Sy leierskap het die Corolla sedertdien gedefinieer: volgehoue ontwikkeling, en ontwerp om in elke mark aan verbruikers se behoeftes te voldoen.

Toe die eerste Corolla uit die fabriek gery het, was baie basiese veiligheidseienskappe net as bykomende toerusting beskikbaar. Toyota het later besluit om aan gesinsbehoeftes te voldoen en baie hiervan deel van die standaard-toerusting te maak. Toyota se verbintenis tot beter en beter gehalte en voortdurende toevoeging van nuwe standaard- veiligheidseienskappe in die bekostigbare Corolla het gehelp om te verseker dat gesinne regoor die wêreld dié motor steeds bo enige ander model verkies.

Die geskiedenis van die immer ontwikkelende Corolla, wat deurspek is van voorbeelde van nuwe tegnologie en beter gehalte, versinnebeeld Toyota se pogings om klante se vereistes vooruit te loop en immer verbeterende motors te voorsien.

Nog geskiedenis oor die Corolla:

http://www.toyota-global.com/showroom/vehicle_heritage/corolla/

 

 

Verwysing 1: Bestaande Corolla-aanlegte

Naam van maatskappy, land Aanvang van Corolla-vervaardiging
Takaoka-aanleg (TMC), Japan November 1966
Toyota Motor Thailand (TMT), Thailand Augustus 1972
Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM), Suid-Afrika Mei 1975
Toyota de Venezuela (TDV), Venezuela April 1986
Toyota Motor Kanada (TMMC), Kanada November 1988
Indus-Motormaatskappy (IMC), Pakistan Maart 1993
Toyota Motor Turkye (TMMT), Turkye September 1994*
Toyota Motor Viëtnam (TMV), Viëtnam September 1996
Toyota do Brasil (TDB), Brasilië September 1998
Kuozui Motor, Taiwan Maart 2001
Toyota Kirloskar Motor (TKM), Indië Februarie 2003
Tianjin FAW Toyota Motor (TFTM), China (twee aanlegte) Mei 2004
Toyota Motor Mississippi (TMMMS), Verenigde State Oktober 2011
Miyagi Ohira-aanleg, Toyota Motor Oos-Japan, Japan Mei 2012
*Geen Corolla-vervaardiging tussen 2006 en 2013; vervaardiging van 11e generasie Corolla begin in Junie 2013

 

Verwysing 2: Die geskiedenis van die Corolla

Jaar Maand Grootste mylpale
1966 Sept. Eerste Corolla ry uit TMC se Takaoka-aanleg in Toyotastad
Nov. – Verkope van tweedeur-sedan met viergang-handratkas (vloerwisseling) begin by Toyota Publica-handelaars in Japan; pryse in Tokio wissel van 432 000 jen vir die standaard-model tot 495 000 jen vir die deluxe-weergawe

– Uitvoer na Australië begin

1967 Mei Vierdeur-sedan en ligte paneelwa word by die reeks gevoeg
1968 Feb. Oorsese vervaardiging begin by Assembly Services Sdn. Bhd. (ASSB) in Maleisië
Apr. Uitvoer na die VSA begin
Mei Uitvoer na Kanada begin
Julie Vervaardiging begin by wat nou die Toyota-Motorkorporasie van Australië is (TMCA)
1969 Mrt. Toyota Publica-handelaarsnetwerk verander na Toyota Corolla
Begin van 33-jaar-lopie as topverkoper in Japan
1970 Mei Tweede generasie word bekend gestel
Miljoenste eenheid verkoop
1972 Aug. Vervaardiging begin by Toyota Motor Thailand
1973 Feb. Vervaardiging begin by Toyota Ierland (TI)
1974 Apr. Derde generasie bekend gestel
1975 Mei Vervaardiging begin by Toyota Suid-Afrika Motors
1976 5-miljoenste eenheid verkoop
1979 Mar. Vierde generasie bekend gestel
1981 Des. Vervaardiging by TI beëindig
1982 10-miljoenste eenheid verkoop
1983 Mei Vyfde generasie bekend gestel
1986 Apr. Vervaardiging begin by wat nou Toyota de Venezuela is
Sept. Corolla FX-vervaardiging begin by New United Motor Manufacturing (NUMMI) in die VSA
1987 Mei Sesde generasie bekend gestel
1988 Nov. Vervaardiging begin by Toyota Motor Kanada
1989 Okt. Vervaardiging begin by Toyota Motor Philippyne
15-miljoenste eenheid verkoop
1991 Junie Sewende generasie bekend gestel
1993 Mrt. Vervaardiging begin by Indus Motor in Pakistan
1994 Sept. – 20-miljoenste eenheid verkoop

– Vervaardiging begin by wat nou Toyota Motor Turkye is (TMMT)

1995 Mei Agtste generasie bekend gestel
1996 Sept. Vervaardiging begin by Toyota Motor Viëtnam
Des. Vervaardiging by TMMT beëindig
1998 Mar. Vervaardiging begin by PT. Toyota Motor Indonesië (TMMIN)
Aug. Vervaardiging begin by Toyota do Brasil se Indaiatuba-aanleg
Sept. Corolla Liftback-vervaardiging begin by Toyota Motor (VK)
1999 Julie Vervaardiging by TMCA beëindig
2000 Aug. Negende generasie bekend gestel
25-miljoenste eenheid verkoop
2001 Mrt. Vervaardiging begin by Kuozui Motor in Taiwan
2003 Jan. Vervaardiging begin by Kirloskar Motor in Indië
Okt. Vervaardiging by TMMIN beëindig
2004 Feb. Vervaardiging begin by Tianjin FAW Toyota Motor (TFTM) se Xiqing-aanleg in China
2005 30-miljoenste eenheid verkoop
2006 Okt. Tiende generasie bekend gestel
Des. Vervaardiging by TMUK beëindig
2007 Mei Vervaardiging begin by TFTM se TEDA-aanleg in China
Aug. Vervaardiging by ASSB beëindig
Des. Vervaardiging by TMP beëindig
2009 35-miljoenste eenheid verkoop
2010 Apr. Vervaardiging by NUMMI beëindig
2011 Okt. Vervaardiging begin by Toyota Motor, Mississippi, in die VSA
2012 Mei – Vervaardiging begin by wat nou Toyota Motor Oos-Japan se Ohira-aanleg in die Miyagi-prefektuur is

– Elfde generasie bekend gestel

– Vervaardiging begin by Sichuan FAW Toyota Motor (SFTM’s) se Changchun-aanleg in China

2013 Julie – Vervaardiging begin by TMMT

– 40 miljoenste eenheid verkoop

– Vervaardiging by SFTM beëindig

 

KENNISGEWING: “Corolla” verwys na voertuie wat onder die Corolla-naam, soos hieronder vermeld, verkoop is. Modelle wat deesdae verkoop word, word in vet letters gelys:

Japan: Corolla Axio, Corolla Fielder, Corolla Rumion, Corolla-sedan, Corolla-paneelwa, Corolla-koepee, Corolla Levin, Corolla-hardekap, Corolla Liftback, Corolla-stasiewa, Corolla FX, Corolla Ceres, Corolla Spacio, Corolla RunX

Buite Japan: Corolla (sedan, stasiewa, luikrug), Corolla EX, Corolla Altis, Corolla Millenium, Corolla Verso, Corolla Matrix

Toyota's Prospecton manufacturing plant in Durban, KwaZulu-Natal.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Corolla: Die wêreld se gewildste motor Wêreld-topverkoper met meer as 40 miljoen verkope