Ligte handelsvoertuie die dryfkrag agter Augustus motorverkope

 

  • Stewige handelsvoertuigverkope
  • Vervangings en lae rentekoerse versterk verkope, maar
  • Groei vertraag
  • Staking-uitwerking in September verwag
Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) is die enigste voertuigvervaardiger wat in ’n besige Augustus deur die 10 000-kerf gebreek het. TSAM het altesaam 10 398 nuwe voertuie in ’n algehele mark van 56 112 verkope wat by die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) aangemeld is, van die hand gesit.“Augustus-verkope was effens minder as in Julie, maar heeltemal in pas met die verwagtinge en die tweede beste Augustus-verkopemaand sedert die mark sy hoogtepunt in 2007 bereik het,” sê Calvyn Hamman, TSAM se Senior Visepresident vir Verkope en Bemarking.

Die vergelyking tussen 2007 en 2013 is nie toevallig nie aangesien baie voertuigkopers nou hul voertuie wat hulle in 2007 aangeskaf het, vervang. Hierdie vervangingspatroon kan veral onder handelaarsverkope gesien word, wat 46 442 eenhede (82,7%) van die algehele mark verteenwordig het.

Handelaarsverklope was 2% hoër as in dieselfde maand in 2012, terwyl verkope aan die voertuigverhuringsmark met 3,7% teenoor dieselfde tydperk verlede jaar gestyg het. Verkope aan voertuigverhuringsmaatskappye styg gewoonlik in die laaste kwartaal van die jaar ter voorbereiding op die besige somer-toerismeseisoen.

“Handelaarsverkope het in Augustus sterk vertoon ten spyte van die staking in die motorbedryf wat nou in sy derde week is,” sê Hamman. “Dit is omdat daar gewoonlik sowat ses weke se voorraad in die netwerk tussen die vervaardiger, die afleweringsnetwerk en die handelaarsnetwerk is. As ’n mens dít in gedagte hou, sal ons die uitwerking van die staking eers in die komende maand se syfers sien.”

Die verkoopsmomentum is volgens Hamman besig om te verlangsaam nadat dit (die tempo van groei) tot onder 6% vir die jaar tot nou gedaal het.

Die afname in passasiersmotorverkope word ook in die aansoeke wat deur Toyota Finansiële Dienste ontvang en verwerk word, weerspieël. Volgens TFS het aansoeke om finansiering met 10,82% vir die maand gedaal, maar is vir die jaar tot nou steeds 1,19% hoër.

Die afname in passasiersvoertuigverkope is deur ’n aansienlike groei in al die handelsvoertuigsegmente vergoed.

Verkope van ligte handelsvoertuie (LHV), waar die Hilux met 3 339 eenhede los voor in die mark was, het met 5,3% tot algehele verkope van 14 376 eenhede gestyg.

“Baie mense verwys na die sterk groei in LHV-verkope as ’n aanwyser van positiewe ekonomiese bedrywigheid, maar dié groei is effens misleidend,” sê Hamman. “Verskeie LHV-verskaffers kon nie verlede jaar – in die ooreenstemmende verkoopstydperk – dieselfde volumes weens stakingsbedrywighede, modelveranderings en ander verskaffingsverwante uitdagings produseer nie.

“Dit verwring enige vergelykings vir vanjaar teenoor verlede jaar geheel en al. Ons siening is dat die groei onder gewone omstandighede dié in die afdeling vir passasiersmotors sou ewenaar.”

Dit is gewis nie die geval in die afdelings vir medium, swaar en ekstraswaar handelsvoertuie nie, waar die groeisyfer bykans 30% was. Saamgestelde verkope in hierdie segmente, tesame met busverkope, het van 2 776 eenhede in Junie tot 2 819 in Julie en 2 844 eenhede in Augustus – die beste verkopemaand sedert September 2008 – gestyg.

“Ons het aan die hand van ons Hino Suid-Afrika-filiaal groot prysmededinging in die handelsvoertuigsegment ervaar. Dít, tesame met tender-aflewerings aan munisipaliteite, het vragmotorverkope ’n hupstoot gegee en dit sal die volgende paar maande so bly,” sê Hamman.

Toyota het in Augustus altesaam 7 253 plaaslik vervaardigde Toyota-voertuie uitgevoer. Uitgevoerde voertuie is dikwels die eerste segment in die bedryf wat negatief deur ’n staking beïnvloed word, en algehele uitvoer regdeur die bedryf het in Augustus met 22,9% tot 19 284 eenhede gedaal.

Posted on by jonckie

Comments Off on Ligte handelsvoertuie die dryfkrag agter Augustus motorverkope