Lexus onthul vlymskerp LF-NX sportnuts-konsepmodel

Lexus onthul kompakte sportnuts-konsepmodel met kenmerkende en gebeitelde stilering

• LF-NX pronk met kragtige en doeltreffende hibried-kragbron

• LF-NX kry nuwe raaksensitiewe afstandbeheer-raakskerm

• ‘Mensgerigte’ L-Finesse-binneruimontwerp
Lexus sal die LF-NX, ’n kompakte sportnuts-konsepmodel, by die 2013-Frankfurtse Motorskou (IAA) onthul.

Die LF-NX, wat deur Lexus se unieke hibriedkragbron-tegnologie aangedryf word, balanseer verrigting en ekonomie terwyl dit vir sportnuts-verrigting ingestel is.
Die nuwe LF-NX-konsepmodel se buitekant-ontwerp is ’n ontwikkeling van Lexus se L-finesse-ontwerpbenadering – met goedgevormde buitepanele en ’n kragtige, lae houding.

Die voorkant word deur Lexus se reeds kenmerkende uurglas-sierrooster en onafhanklike pylvormige dagligryligte (DRL) onderskei, terwyl sy unieke hoekstilering die buffer van die voorste vleuels met ’n aggressiewe, vertikale snit onderskei.

Van die kant gesien pronk die LF-NX met ’n duidelike diamantvormige gordellyn, terwyl die glaswerk ’n koepee-agtige silhoeët vorm. Die sy-aansig word deur gespierde, swart-afgewerkte wielnisse afgerond.

Die agterkant het gestileerde lighulsels wat afwaarts tot by die agterbuffer strek, wat ’n skerp, lugdinamiese agterrand skep. Die Lexus LF-NX-konsepmodel is in ’n nuwe, geborselde silwer afgerond, wat dit laat lyk asof die voertuig uit ’n soliede stuk metaal gebeitel is.

Die binneruim weerspieël die LF-NX se gedetailleerde buitekant met sterk, kragtige vorms wat ’n bestuurder-geiënteerde kajuit in ’n ergonomiese omgewing skep.

Die voorpaneel, wat ’n voortsetting van die ‘mensgerigte’ L-finesse-ontwerpbenadering  is, is in ’n boonste vertoonsone en ’n onderste praktiese sone verdeel – ’n ontwerp wat in verskeie suksesvolle geslagte van Lexus geslyp is.

Die ontwerp sorg vir intuïtiewe interaksie met die voertuig se toekomstige tegnologie, wat raaksensitiewe elektrostasiese skakelaars en ’n nuwe afstand beheer-raakskerm insluit.

Die LF-NX se sportnuts-eienskappe word versterk deur die krag en verfyning van die binneruim se uitgekerfde metaaloppervlakke wat regdeur deur geel/swart leerinsetsel-bekleedsel met teenstellende stikwerk en gekunstelde blou instrumentebeligting aangevul word.

Verdere besonderhede, veral wat die verskillende kragbronne betref, sal nader aan die bekendstelling aangekondig word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Lexus onthul vlymskerp LF-NX sportnuts-konsepmodel