Castrol Toyota – Renspan skuif al nader aan tweede agtereenvolgende veldrenkampioenskap

 

 

  • Anthony Taylor/Dennis Murphy (Toyota Hilux) 1e algeheel en 1e in Klas SP
  • Duncan Vos/Rob Howie (Toyota Hilux) 2e algeheel en 2e in Klas  SP
  • Johan en Werner Horn (Toyota Land Cruiser) 1st in Klas  D
  • Toyota wen vervaardigersprys

 

Anthony Taylor en Dennis Murphy (Klas SP-Castrol-Toyota Hilux) het hul vierde agtereenvolgende oorwinning in die Suid-Afrikaanse Donaldson-veldtydren-kampioenskap gewen toe hulle Saterdag die sesde ronde van die reeks oor agt byeenkomste in Vryburg, Noordwes, oorheers het.

Hulle is die tweede keer ná mekaar deur hul spanmaats, die verdedigende kampioene Duncan Vos en Rob Howie, wat ná 400 kilometer 7 minute en 52 sekondes agter hulle was, oor die wenstreep gevolg. Die oudkampioene Chris Visser en Japie Badenhorst (Ford Ranger) was nog 2 minute en 34 sekondes verder agtertoe in die derde plek.

Die Vryburg 400, wat Vrydag met die kwalifiserende voorren oor 60 kilometer afgeskop en Saterdag twee rondtes oor 170 kilometer met ’n verpligte kuipestop van 15 minute behels het, was die eerste veldren in die Vryburg-omgewing in 20 jaar. Die roete se sanderige en tegniese dele met klipperige gedeeltes en bome en bosse was baie uitdagend en tipies aan die Kalahari.

Taylor en Murphy, wat hul eerste en Toyota se derde agtereenvolgende kampioenskap najaag, het nou ’n gaping van ’n baie handige 20 punte teenoor die naasvoorlopers, Visser en Badenhorst, met nog twee rondes oor voor die einde van die seisoen.

Vos en Howie is in die derde plek en het die gaping agter Visser en Badenhorst tot 23,5 punte verklein.

Toyota het ook die vervaardigersprys vir die byeenkoms gewen en hul aansienlike voorsprong in die algehele vervaardigerskampioenskap nog verder ten opsigte van ’n sesde kampioenskapstitel vergroot.

Johan Horn en Werner Horn (Malalane Toyota-Land Cruiser) was 13e algeheel en eerste in Klas D, en het tot 20 punte agter die klaskampioenskapsvoorlopers Jason Venter en Vincent van Alleman (4×4 Mega World-Toyota Hilux), wat 15e algeheel en tweede in die klas was, opgeskuif.

“Dit was ’n puik uitslag vir die span,” het Glyn Hall, die spanhoof van die Castrol-Toyota-renspan, gesê. “Die Toyota Hilux 4×4’s het hul gesag regdeur die naweek – van Vrydag se voorren, toe Anthony en Duncan ver voor hul teenstanders was – getoon en die 400 strawwe kilometer sonder probleme kafgedraf.

“Daarbenewens het Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee ’n winsgewende uitstappie as nie-amptelike deelnemers in hul 2013-Dakar-Veldtydren-Toyota Imperial-Hilux gehad en sodoende talle komponente en verskillende verstellings vir aanstaande jaar se Dakar-byeenkoms in Januarie beproef. Dit het Leeroy ook waardevolle tyd agter die stuur voor sy eerste Dakar-ren gegee.”

Taylor en Murphy was baie tevrede met hul oorwinning. “Dit was ’n moeilike ren in moeilike toestande op ’n baie moeilike roete,” het Taylor gesê. “Dit was ’n nagmerrie vir die navigators, en Dennis het hom puik van sy taak gekwyt. Dit was baie maklik om ’n fout te maak wat ons duur te staan kon kom, en ons het in die laaste rondte net daarop gefokus om op die pad en uit die moeilikheid te bly,” het Taylor gesê.

Vos-hulle was ewe trots op hul vertoning. “Ons taak nadat ons die voorren Vrydag in die tweede plek agter Anthony en Dennis voltooi het, was om voor so veel as moontlik ander aanspraakmakers op die kampioenskap te eindig,” het Vos gesê. “Ons Hilux het die hele dag soos klokslag geloop en ons is bly ons kon hulle help om so goeie uitslag te bewerkstellig.”

Die voorlaaste ronde van die kampioenskap is die Thaba’Nchu 400-veldren in die Vrystaat, en word die naweek van 11 en 12 Oktober beslis.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

 

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook: Veilige bestuur op Grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota – Renspan skuif al nader aan tweede agtereenvolgende veldrenkampioenskap