Bloemfontein verras met stand van bande – Bridgestone

Bande van Bloemfontein se voertuie is naby aan die bopunt van Bridgestone se reeks openbare peilings wat banddruk en toestand betref. Dít blyk uit die jongste bande-peiling, wat op 24 Augustus in die parkeerterrein van die Suidelike Sentrum-Pick n Pay gedoen is.

“Hoewel Bloemfontein se bestuurders nie dieselfde rekord-hoogtepunt van dié in die Centurion-peiling vroeër vanjaar behaal het nie – altesaam 98% van die bande wat destyds daar nagegaan is, het die regte druk gehad – het die Vrystaters die tweede plek ingeneem,” het Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, gesê. “Die belangrikste bevinding van die Bloemfonteinse peiling was die min aantal bande waarvan die banddruk as ‘uiters gevaarlik’ beskou word,” het sy bygevoeg.

Bande wat in die peiling as ‘uiters gevaarlik’ geklassifiseer word, is dié waarvan die druk minder as 150kPa of hoër as 290kPa is. Bande met ’n druk tussen 150kPa en 180kPa word as ‘gevaarlik’ geklassifiseer, terwyl dié tussen 180kPa en 290kPa veilig is. Net 4% van die bande wat in Bloemfontein nagegaan is, het in die afdeling ‘uiters gevaarlik’ geval, teenoor 7% in Port Elizabeth en 8% in Germiston nadat bandepeilings vroeër vanjaar daar gedoen is.

Bloemfontein het ook min bande opgelewer wat weens die loopvlak wat buitensporig afgeloop het of as gevolg van skade soos snye, kneusplekke en blaasbulte as onveilig beskou kan word. Net 4% van die bande wat nagegaan is, het hierdie soort foute gehad – net ’n kortkop agter die 3% wat in Centurion aangeteken is, maar aansienlik beter as Germiston (6%) en Port Elizabeth (7%).

Die Bloemfonteinse bandepeiling het 1 256 bande aan 314 motors behels. Die span van Bridgestone het nie net die banddruk geneem en die gehalte van die bande ondersoek nie, maar elke voertuig ook vir onpaar bande wat fabrikaat en loopvlakpatrone betref, nagegaan. Hierdie probleem is nogal algemeen, en kan tot onvoorspelbare padhouvermoë en remverrigting lei. Net 3% van die voertuie wat in Bloemfontein ondersoek is, het onpaar bande gehad – ligjare van die skokkende 20%-onpaarbande wat vroeër in 2013 in Germiston bespeur is.

Lovell het gesê 2013 was tot dusver een van die mees produktiewe in die Bridgestone-bandepeilingsprojek. “Die projek duur al sewe jaar, en ons het vanjaar al 4 600 individuele bande op vier verskillende plekke nagegaan,” het sy gesê. “Die data wat ons in dié projek versamel het, het baie met die bande-opleidingsprogramme wat ons vir instellings soos SANParke doen, gehelp,” het sy gesê. “Die meeste mense aanvaar bande as vanselfsprekend, maar wanneer die studente sien hoe die toestand van bande in die alledaagse wêreld verwaarloos word – en begin besef wat die gevolge kan wees – verander hul benadering teenoor bande summier,” het sy gesê.

Bridgestone het wetstoepassers genooi om met haar in verbinding te tree om toegang tot die data te verkry om hulle met wetstoepassing te help. “Die data oor die gehalte van bande kan wetstoepassing vergemaklik deur amptenare te help om die soort probleme wat meer waarskynlik in hul omgewing voorkom, te bepaal,” het sy verduidelik. “Die gevaar van botsings weens swak bande kan makliker verminder word deur op algemene bandefoute te fokus,” het sy afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Bloemfontein verras met stand van bande – Bridgestone