5 Sterre vir Lexus IS in Europese NCAP-botstoetse

Lexus het in sy strewe na die beste veiligheid in sy nuwe IS-sportsedan daarin geslaag om volpunte in die onafhanklike Europese NCAP-botstoetse te verkry, wat bevestig dat dit een van die veiligste motors is wat nog getoets is.

Die IS het ’n telling van 91 persent vir die beskerming van volwassenes, 85 persent vir kinderbeskerming, 80 persent vir voetgangers en 66 persent vir die verrigting van veiligheidshulpmiddels verkry. Dié syfers saam het tot ’n algehele vyfster-gradering soos in die meegaande tabel gelei:

Die nuwe IS het op die gebied van voetganger-beskerming die beste telling gekry van alle groot gesinsmotors wat nog deur die Euro-NCAP getoets is – hoofsaaklik weens die verrigting van sy nuwe opwip-enjinkap- en buffer-ontwerp. Dié eienskappe word regdeur die hele IS-reeks aangetref. Sensors in die buffer bespeur wanneer ’n voetganger getref is, en ontplooi drywers wat die enjinkap laat oplig om bykomende ruimte bokant die harde komponente van die enjin te skep. Die stelsel kan tussen voetgangers van verskillende groottes onderskei, en werk teen verskillende voertuigsnelhede.

 

Wat die beskerming van volwassenes betref, het die Euro NCAP-toets die aandag gevestig op die volpunte van die IS in die sykantbotstoets, die puik beskerming vir die bestuurder en voorste passasiers danksy knielugsakke, en die goeie beskerming teen sweepslag-beserings.

Die IS het op die gebied van kinderbeskerming volpunte vir die beskerming van babas van 18 maande en driejarige kleuters gekry.

Die kern van die Lexus IS se skitterende veiligheidsverrigting is sy stewige, impak-absorberende romp. Dit word deur ’n omvattende reeks aktiewe en passiewe veiligheidstoerusting ondersteun, wat alles ontwikkel is om die beste moontlike beskerming in alle toestande te bied.

Die nuwe IS, wat ook van Lexus se unieke, ingeboude voertuigdinamikabeheerstelsel gebruik maak, het suksesvol op die uitmuntende veiligheidsverrigting van sy voorganger verbeter deur ’n volledige pakket veiligheidstoerusting in te sluit, waaronder sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), kloubeheer (TRC) en voertuigstabiliteitsbeheer (VSC).

Al die IS-modelle slaan verder munt uit agt lugsakke as deel van hul standaard-toerusting, waaronder knielugsakke vir die bestuurder sowel as vir die voorste passasier.

Die Suid-Afrikaanse IS-reeks bestaan uit die IS 350, IS 350 EX en IS 350 F-Sport.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on 5 Sterre vir Lexus IS in Europese NCAP-botstoetse