Toyota Motorsport se voorbereiding vir 2014 Dakar-Veldtydren in volle swang

 

  • Span begin in Augustus met woestyntoetse in die Namib
  • Leeroy Poulter sluit as tweede jaer by span aan
  • Verbeterde Hilux-renbakkie pronk met talle verbeterings

Toyota Motorsport Suid-Afrika het ’n vars, nuwe span aangekondig om sy Dakar-veldtydrenprogram op dreef te kry ter voorbereiding op die wêreld se moeilikste motorren in Januarie 2014.

Die Dakar-kampioene Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz sal weer aan die 2014-ren deelneem, maar sal dié keer deur die Toyota-jaers Leeroy Poulter (renjaer) en Rob Howie (navigator) gesteun word.

Bouwerk aan die eerste van twee splinternuwe Toyota Hilux 4×4-veldrenbakkies het by Toyota Motorsport werkswinkel in Barbecue Downs naby Kyalami begin. Die Toyota Imperial Suid-Afrika-renspan sal aan die begin van Augustus vir vier dae na die Namib-woestyn naby Walvisbaai terugkeer om toetswerk met die 2013-Toyota Hilux waarin Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz as naaswenners in vanjaar se Dakar-ren geëindig het, in die sandduine te doen.

“Die Hilux het sy staal in die laaste twee Dakar-renne gewys en ’n sterk aanslag op die boonste posisie van die wennerspodium geloods. Ons glo Leeroy se jeugdige energie en Giniel se ervaring sal goed saamwerk om vir ’n sterk 2014-span te sorg,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemaring by Toyota Suid-Afrika Motors.

“Julle weet dat julle die harte en hoop van alle Suid-Afrikaners saam met julle in jul Hilux dra!”

De Villiers en Von Zitzewitz, wat die Dakar-ren in 2009 gewen het, sal die eerste keer sedert hul heldedaad in Januarie in Suid-Amerika herenig om met hul eie voorbereiding vir hul derde Dakar saam in die Suid-Afrikaanse span te begin en met die ontwikkeling van die ren-Hilux, wat plaaslik gebou en ontwikkel is, te begin.

Die Toyota Imperial Suid-Afrika-renspan sal ná hul derde plek in Toyota Suid-Afrika Motors se heel eerste poging in die wêreld se langste en moeilikste motorsportbyeenkoms in 2012 en hul tweede probeerslag vanjaar, toe hulle tweede was, probeer om dié ikoniese byeenkoms te wen, wat ’n groot oorwinning vir Suid-Afrikaanse Motorsport sal wees.

Die span sal weer die steun van Toyota Suid-Afrika Motors en Suid-Afrikaanse maatskappye – die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep en Toyota Finansiële Dienste – geniet.

“Die Dakar-veldtydren is ’n groot uitdaging en ons moet realisties wees oor ons kanse op ’n algehele oorwinning,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Dit is ’n groot prestasie net om die roete van 8 500 kilometer deur twee lande oor 14 dae en 13 sneltrajekte te voltooi. Ons is baie trots op ons podiumposisies in die afgelope twee byeenkomste, en sal probeer om weer op die podium te eindig. ’n Oorwinning sal ’n fantastiese beloning vir die hele span en al ons borge wees.”

Die 2014-Dakar-veldtydren begin op 5 Januarie inRosarioin Argentinië en eindig op 18 Januarie inValparaisoinChile. Die roete behels sewe sneltrajekte in Argentinië sowel as die rusdag op 11 Januarie inSalta.Chileis die gasheer vir die oorblywende ses sneltrajekte. Die motorfietsdeelnemers sal ook ’n marathon-sneltrajek en ’n oornaghalte inPeruhê.

Hall het in sy kommentaar oor die nuwe Dakar-Hilux bevestig die voertuig sal weer onafhanklike agtervering hê, en sal ’n string veranderings ondergaan wat ontwerp is om hom vinniger te maak. “Ons sal alles wat ons in die afgelope twee Dakar-renne geleer het, in ag neem, en ook alle moontlikhede ondersoek om nog meer krag op te tower.

“Die reëls vereis dat ons ’n produksie-enjin uit die vervaardiger se stal moet gebruik, en hoewel die turbolose vyfliter-V8 in ons ren-Hilux hom tot nou puik en sonder probleme van sy taak gekwyt het, kyk ons na maniere waarop ons op die gebied van blote spoed nog meer mededingend teen ons hoofteenstanders en hul turbo-aangejaagde motors kan wees,” het Hall bygevoeg.

  • Die nuwe Toyota Imperial SA Dakar-spanaankondiging het gepaard gegaan met die bekendstelling van die nuwe Dakar-weergawe van die Toyota Hilux. Meer inligting oor hierdie spesiale model is beskikbaar deur alle Toyota mediaverskaffers.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, Michelin, Mistral, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard en TFM.

Besoek ook:

Veilige Bestuur op grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Motorsport se voorbereiding vir 2014 Dakar-Veldtydren in volle swang