Toyota FJ Cruiser nou nog beter in die veld

Land Cruiser se moderne weergawe van die oorspronklike FJ40 wat sy buiging in die 60’s gemaak het, die klassieke FJ Cruiser, was ’n verrassende verkoper op die plaaslike sportnuts-treffersparade – dié ‘retro-bielie’ haal gemiddeld 70 verkope per maand.

Toyota se Hoofbestuurder van Bemarkingskommunikasie, Kerry Roodt, gee toe dat die klassieke lyne van die FJ Cruiser deurslaggewend in sy aanvanklike sukses was, maar ’n mens moet nie uit die oog verloor dat dit steeds ’n Land Cruiser is nie. “Die FJ vervat die kritieke Land Cruiser-DNS wat beteken ’n mens kan na en deur die mees veeleisende omgewings reis, en veilig terugkom.

“Die FJ het ’n indrukwekkende grondvryhoogte (245mm), ’n invalshoek van 34 grade, vertrekhoek van 31 grade en oorbruggingshoek van 29 grade. Laasgenoemde twee afmetings is die beste van enige voertuig in sy klas.

“Die jongste weergawe is nou danksy die toevoeging van verskeie hardebaard-veldryverbeterings heeltemal onoorwinlik.”

Die jongste opgraderings vir die 2013-FJ Cruiser sluit in:
• Die toevoeging van ’n tweede tenk wat sy brandstof-inhoudsvermoë tot 159 liter meer as verdubbel. Die toevoeging van hierdie subtenk van ’n bykomende 87 liter om die hooftenk van 72 liter aan te vul, verbeter sy teoretiese reikafstand tot meer as 1 000 km.

• Die gebruik van kruipwerking, wat Crawl Control genoem word – ’n beheerstelsel waar die bestuurder sy voet van die versneller kan lig sodat die voertuig oor erge of baie gladde terrein kan ry. Dit help om teen steil hellings uit te klim of af te ry, laat die voertuig loswikkel as hy vasval, en help ook in modder, sand en gruis, sowel as om deur water te ry. Crawl Control word in L4 (laestrek) gebruik en ontkoppel tydelik teen snelhede hoër as 25 km/h, of vinniger as 10 km/h wanneer die agterste ewenaar gesluit is. Die bestuurder kan ’n draaiskakelaar in die nuwe oorhoofse konsole gebruik om een van vyf voorafgestelde snelhede te kies.

Die stelsel behou outomaties ’n lae, eenvormige spoed teen hellings op en af deur die enjinverrigting en hidrouliese remdruk te beheer, wat die bestuurder in staat stel om net op die stuurwerk te fokus. Die stelsel verhoog voertuigstabiliteit in uiterste veldry-situasies deur wieltol tot die minimum te beperk en te verhinder dat die wiele vasslaan. Die stelsel het ook die bykomende voordeel dat dit moontlike skade aan die voertuig voorkom deur die spoed oor geharde terrein sagkens te beheer. Dit verminder die las op die dryfstelsel deur die enjin-uitset en remverrigting soepel te beheer.

Die FJ Cruiser voldoen aan al die vereistes wanneer dit by standaard-toerusting kom: elektries beheerde vensters reg rondom, leeroorgetrekte stuurwiel met satelliet-kontroles vir die klankstelsel en Bluetooth-toerusting, ingeboude klank/CD-stelsel met ses luidsprekers en ’n iPod-verbinding, sokke vir bykomende klank- en USB-verbindings, ’n kragtige lugversorgingstelsel, bykomende kragsok, en spoedbeheer. Nog iets wat genoem kan word, is die unieke plafonbedekking wat as luidspreker-membraan dien, en sodoende ’n meevoerende klankervaring bied. Die FJ pronk ook met Toyota se agterkant-monitorstelsel, wat ’n tru-videokamera, elektro-chromatiese binnetruspieël en videoskerm in die truspieël behels om agteruitry in al die modelle te vergemaklik.

Die hersiene FJ Cruiser is soos voorheen steeds in twee weergawes te koop – Standard en Sports Cruiser, waar laasgenoemde deur sy raafswart verftema, bykomende chroombeslag wat chroomafwerking in die opgeboude luginlaat insluit, FJ-drumpelplate, volle noodwielbedekking aan die agterdeur en leersitplekbeslag onderskei word. Nog chroomhoogtepunte word in die deurhandvatsels, buitespieëls, buffers en verkoelerbeslag aangetref. ’n Stel Sport-kentekens rond die pakket af.

Al twee dié modelle word aangedryf deur ’n V6-petrolenjin van 4,0 liter wat 200 kW en 380 Nm bied, en gekoppel is aan ’n outomatiese 5-gang-ratkas, deeltydse 4×4, ’n elektriese ewenaarslot vir die agteras en aktiewe kloubeheer-tegnologie wat aan- of afgeskakel kan word om veldry-klimvermoë te vervolmaak.

Pryse:

• FJ Cruiser 4.0 V6 4×4 outo – R462 200
• FJ Cruiser 4.0 V6 4×4 Sports Cruiser outo – R485 200

Al die weergawes van die FJ Cruiser word deur ’n diensplan van 5 jaar / 90 000 km en ’n waarborg van 3 jaar / 100 000 km gedek. Dié modelle word ook deur die ToyotaCare-padbystandsdiens gesteun, wat klante noodpadhulpdiens 24 uur per dag bied en algehele gemoedsrus verseker.

Besoek Ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota FJ Cruiser nou nog beter in die veld