Lichtenburg wys nare kant van Bridgestone 4×4-Uitdaging

Hulle’t gekom, gekyk, en gesukkel… Dít was die verhaal van die sewende ronde van die Bridgestone-4×4-Klubuitdaging, wat deur die Lichtenburg-4×4-klub aangebied is. Die organiseerders het hierdie keer besluit om die krane tussen die ou mynhope, wat besaai was met ’n marmeragtige soort gruis wat omtrent enige 4×4 in sy spore kon stop, oop te draai.

Die organiseerders het dit nog voor die begin al duidelik gemaak dat die roete ontwerp is om die voordeel wat kortbak-voertuie soos die Mercedes-Benz Gelandewagens en Suzuki Jimny’s gewoonlik hier geniet, kort te knip. Hope perdekrag en ’n goeie skeut waagmoed sou noodsaaklik wees.

Die eerste hindernis het die atmosfeer vir die dag bepaal – die deelnemers het geen aanloop gehad om ’n bietjie momentum op te bou om ’n gladde steilte op te kom nie. Sodra hulle bo was, moes hulle hul spoed versigtig beheer ten einde om ’n skerp, moeilike draai te kom sonder om aan die anderkant van die glibberige gruishoop af te foeter.

Die 40 spanne het vinnig agter die kap van die byl vir dié gladde baan gekom: swaar op die regtervoet, afgerond met delikate maneuvers wat nodig was om deur die hekke te kom. Al die deelnemers het dié hindernis voltooi, selfs al was die gemiddelde telling net 58,2%!

Die tweede en derde hindernisse was baie soortgelyk – steil en gladde opdraandes met skerp en knap draaie deur nou deurgange (hekke).

Toe kom Hindernis Nommer 4 aan die beurt – ’n pylreguit opdraande teen ’n steil, gladde helling op, waar brute krag koning gekraai het. Nie een enkele deelnemer kon tot heel bo kom nie, hoewel verskeie spanne daarin geslaag het om die kruin so ampertjies te haal en minstens 80 van die beskikbare 100 punte bekom. Die gemiddelde persentasie hier was ’n skrale 53,3%.

Die vyfde hindernis het ’n blinddoek behels, en die siende navigator moes die blinde bestuurder in trurat deur die roete praat. Hindernis 6 was ’n bonus-uitdaging wat met ’n John Deere-trekker waarvan die stuurmeganisme omgekeerd gewerk het, aangedurf word.

Die volgende hindernis was uiteindelik die moeilikste van die dag. Dit was ’n steil en gladde afdraande teen ’n nogal ongemaklike skuins helling, gevolg deur ’n steil opdraande deur ’n onmoontlike smal hekkie, wat tot baie aksie gelei het. Die gemiddelde telling was net 31%.

Hindernis 8 was nog ’n bonus-uitdaging. Die deelnemers moes hier ’n band van ’n velling af stroop deur net ’n hoëlig-domkrag en ’n Defender wat deur Land Rover voorsien is, te gebruik. Hierdie onverwagse uitdaging het die gemiddelde telling op 31% beperk!

Hindernisse nege, tien en elf was meer produktief en het meer punte met ’n hoër gemiddelde telling opgelewer.

Maar toe duik Hindernis Nommer 12 as afskeidsuitdaging op… Hier moes die deelnemers teen nog een van daardie waaghalsige, gladde steiltes uitry, en probeer om ’n helder oranje gholfballetjie bo-op ’n lang paal met die voorste buffer af te stamp. Dié balletjie was egter wanhopig naby ’n klomp wittes – ook op pale – gebalanseer. As die bestuurders hul spoed teen die steilte en die afstand na die voorste buffer in reaksie op die navigator se bevele net effens misreken het, was dit nie net die oranje balletjie wat grond toe getuimel het nie, maar sommer ’n spul wittes ook. Die gemiddelde telling vir dié uitdaging was 34%.

Die uitslag het die dag se verhaal in detail geskets: van die 30 spanne wat deelgeneem het, het 25 minder as 80% algeheel gehaal. Die voorste vyf was egter duidelik in ’n klas van hul eie met tellings van 94,5% en hoër.

Die derde plek, wat ’n plek in die eindronde van die Bridgestone-klubuitdaging in November waarborg, is deur Johan en Maryke Reichel in hul Toyota Fortuner ingeneem. Hulle het ook ’n hand-wenas van Opposite Lock met hul skitterende telling van 96,5% algeheel losgeslaan.

Die naaswenners was Corné van der Merwe en Philip Oosthuizen in ’n Jeep Wrangler Unlimited Rubicon, waarmee hulle 98,9% behaal het. Hulle het ’n deftige stel Light Force-kolligte gewen.

Die algehele wenners was Johan Swift en Dieter Schaap in ’n kortbak-Jeep Wrangler Rubicon, wat ’n merkwaardige 99,95% aangeteken het. Hulle het ’n bande-koopbewys van R10 000 van Bridgestone SA, die hoofborg van die uitdaging, gewen.

Die belangrikste vir die drie topspanne was hul gewaarborgde plekke in die eindronde van die 2013-Bridgestone-Uitdaging. Dié byeenkoms, wat in November beslis word, behels ’n tweede prys van ’n verstelbare Tough Dog-veringstel ter waarde van R20 000, terwyl die algehele wenners ’n Conqueror Courage-veldrysleepwa van R50 000 sal wen.

 

Besoek ook:
4×4 Off-road safe driving and safe driving techniques

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Lichtenburg wys nare kant van Bridgestone 4×4-Uitdaging