Derde Kwartaal begin met sterk nuwevoertuigverkope

 

  • Toyota die topverkoper in besige maand
  • Vroeë aankope en bemarkingsaktiwiteit gee verkope hupstoot
  • Toyota voorloper in uitvoermark

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het voortgestoom en in Julie altesaam 11 935 nuwe voertuie van die hand gesit. Dit verteenwoordig 20% van die algehele verkope van 58 140 eenhede wat by die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) aangemeld is, en beteken dat Toyota vir die jaar tot nou Suid-Afrika se heel gewildste voertuighandelsnaam en die markleier is.

“Voertuigverkope vaar steeds goed, maar bly in pas met die verwagtinge vir ’n kleiner groeikoers vir 2013,” sê Calvyn Hamman, Senior Visepresident vir Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

Nuwevoertuigverkope het in Julie met 7,5% teenoor dieselfde maand verlede jaar gestyg, terwyl die verkope van ligte handelsvoertuie skitterend gevaar het. Die Toyota Hilux, waarvan 3 159 eenhede nuwe eienaars gekry het, bly steeds Suid-Afrika se gewildste bakkie. Toyota is ook die gewildste vervaardiger van ligte handelsvoertuie en het in Julie 4 703 eenhede verkoop. Dié syfer sluit sekere Land Cruiser-modelle en die Ses’fikile-taxi, wat plaaslik monteer word, in.

“Die onderliggende ekonomiese dryfveer kan die vraag van klante in enige rigting swaai,” sê Hamman. “Die mark word aan die een kant deur ’n stewige vervangingsiklus, aanhoudende lae rentekoerse, vroeër aankope deur klante wat prysstygings verwag, en stewige bemarkingsaktiwiteit onder alle vervaardigers, aangehits.”

Toyota Finansiële Dienste het hierdie siening bekragtig en aangekondig dat hy in Julie meer as 21% meer finansieringsaansoeke as in Junie ontvang het, terwyl die gemiddelde daaglikse verkope van 2 080 in Julie 2012 die afgelope maand tot 2 153 eenhede gestyg het.

“Die effens onderdrukte groeisyfers, groter huishoudelike skuld en stygende leefkoste – brandstofpryse ingesluit – vertraag terselfdertyd die algehele groeikoers van verkope,” sê Hamman.

Hy het ook sterk aankope deur voertuigverhuringsmaatskappye uitgewys. Dít dui op ’n vroeër begin van die motorverhuring-koopsiklus voor die hoogtepunt van die somerseisoen, en het ’n bydrae van 11,4% tot algehele verkope gelewer.

Toyota is steeds die voorste voertuiguitvoerder uit Suid-Afrika en het 25% van alle voertuie uitgevoer. Dié vervaardiger het in Julie altesaam 6 668 eenhede na lande regoor die wêreld versend.

Posted on by jonckie

Comments Off on Derde Kwartaal begin met sterk nuwevoertuigverkope