Toyota -verkope stu voort in Junie

• Mark ondersteun deur vervaardigers; nie onderliggende ekonomie
• Toyota voer 25% van alle voertuie van Suid-Afrika uit
• Daling in groei verwag

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het in Junie voortgestoom en altesaam 10 087 nuwe voertuie van die hand gesit. Dit is bykans 19% van die algehele verkope van 53 562 eenhede wat by die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) aangemeld is.

 

“Junie se verkoopsyfer is baie naby aan dié van die hoë syfers in 2007 (waarvan 54 025 eenhede in Junie 2007 verkoop is) en dui daarop dat die mark ten spyte van die ietwat onderdrukte ekonomiese aanwysers steeds besig is om sterk te vertoon,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

 

Verkope van nuwe voertuie het met 3,3% teenoor dieselfde maand verlede jaar gestyg en was dieselfde as verkope in Mei. Die Toyota Hilux, waarvan 3 070 eenhede van die hand gesit is, is steeds Suid-Afrika se gewildste verkoper.

 

Volgens Hamman word die mark sterk deur mededinging onder voertuigvervaardigers aangehits eerder as ’n onderliggende krag in die ope mark. Hy sê egter dat ’n mate van momentum is sigbaar in die manier waarop kopers hul aankope vervroeg in afwagting op moontlike prysverhogings en die moontlike styging in die leningskoerse van banke aan privaatkopers styg.

 

“Die mededinging in die Suid-Afrikaanse mark is ongelooflik sterk,” sê Hamman. “’n Goeie voorbeeld daarvan is die aantal eenhede wat ’n vervaardiger vir sy eie bemarkingsdoeleindes en hul eie personeel aanskaf. Sommige vervaardigers se eie voertuigaankope was nagenoeg 5% van hul algehele verkope.”

 

Die bedryf verwag ondanks die hoë mededinging egter ’n daling in die tweede helfte van die jaar.

 

“Ekonomiese groei, die huishoudelike skuldlas in vergelyking met inkomste, en algehele skuld dui alles op ’n afname in die mark met beperkte momentum om verdere groei te ondersteun,” sê Hamman. “Ons sal nader aan die einde van die derde kwartaal ’n styging in aankope deur staatsinstansies en voertuigverhuringsgroepe ervaar, maar dit sal nie genoeg wees om maandelikse groeisyfers terug tot dubbelsyfergroei te laat styg nie.”

 

Toyota dui ook steeds die weg op die gebied van voertuiguitvoer aan. Dié maatskappy het in Junie vanjaar 6 462 eenhede na 58 lande regoor die aardbol uitgevoer, wat meer as 25% van die algehele voertuiguitvoer uit Suid-Afrika verteenwoordig.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota -verkope stu voort in Junie