Strawwe uitdaging vir die McCarthy-4×4-klub

Al die bestanddele vir ’n televisie-sepie was daar – drama, ongelooflike uitdagings, spanning, en tonne opwinding. Dit was die sesde ronde van die 2013-Bridgestone-klubuitdaging, wat dié keer deur die McCarthy-4×4-klub aangebied is.

Die roete het uit 10 hindernisse by die Renosterpark-4×4-baan oos van Pretoria bestaan. Die organiseerders en beamptes het oudergewoonte met die ondersteuning van Bridgestone se 4×4-skakelbeampte, Daniel Barbosa, vir ’n paar baie strawwe uitdagings gesorg.

Die Klubuitdaging-formaat het daartoe gelei dat ’n aantal nuwe spanne hulle daarby aangesluit het. Dit was ’n groot uitdaging vir baie – veral dié wat nog nooit aan ’n veldrybyeenkoms deelgeneem het nie, maar ook iets wat hulle baie gehelp het.

“Ek het só baie oor my bakkie en 4×4-vaardighede in só ’n kort tydjie geleer … en ek het nog ses hindernisse om kaf te draf!” het een van die nuwelinge geskerts. “Wanneer ons klaar is, sal ek alles weet wat oor 4×4-ryery te wete is.”

Die eerste van die 40 spanne het die veeleisende baan net ná agtuur die oggend aangedurf. Dit was egter in die eerste hindernis reeds duidelik dat dit moeilik gaan wees om enigsins punte aan te teken. Die hoogste telling nadat die eerste vier deelnemers dié hindernis “voltooi” het, was 15 uit ’n moontlike 100 punte!

Die tweede hindernis was baie soortgelyk: ’n knap en tegniese uitdaging, wat min ruimte vir foute gelaat het. ’n Voltelling van 100 was weereens net wensdenkery – al wat die deelnemers noodgedwonge moes doen, was om eerder te keer dat hulle te veel punte verloor.

Die res van die dag se hindernisse het aanhoudend die moeilikste uitdagings opgedis: knap en tegnies, met min punte. Die sesde hindernis het egter as ’n buitengewone uitdaging uitgestaan. Hier moes die deelnemers eers ’n steil bult met ’n skerp draai te bowe kom, waarna ’n steil afdraande met diep spore gevolg en die voertuie se wiele gelig het, en uiteindelik ’n oënskynlik onmoontlike skerp draai deur ’n diep sloot aan die onderkant met ’n effense opdraande deur ’n hek vir die eindpunt.

Al die deelnemers moes eers na ’n veiligheidspraatjie luister, terwyl die beamptes byderhand was om te help. Almal het dit aan die einde van die dag gemaak, hoewel daar gewis ’n paar benoude gille in van die kajuite was waar die wiele van die grond af gelig het terwyl die voertuie ongemaklik skuins gery het!

Uiteindelik was dit tyd om die tellings op te tel, maar die meeste wou nie waag om te voorspel wie die wenners sou wees nie. Almal het ’n moeilike tydjie op die roete gehad en sakke vol punte afgestaan.

Toe alles verby is, het die derde plek – en ’n hand-wenas van Opposite Lock – aan Mitch Viljoen en Letisha du Toit in hul bykans onveranderde Suzuki Jimny (63,18%) behoort. Raymond en Anel Martin in nog ’n Suzuki Jimny, die warmgemaakte Zukzilla, was tweede nadat hul algehele persentasie op 67,73% te staan gekom het. Die naaswenners het ’n stel Light Force-kolligte – ook van Opposite Lock – gewen.

Die Jeep Grand Cherokee van Danny Daniels en Tjaart Scheepers het die louere met ’n skitterende 73,18% ingeoes – goed genoeg om die eerste prys, ’n bande-geskenkbewys van R10 000 van die hoofborg, Bridgestone SA, op te raap.

Die drie voorste spanne het ook inskrywings in die eindronde van die 2013-Bridgestone-klubuitdaging gewen. Dit sal gewis ’n wyle neem voordat hulle sal vergeet hoe hard hulle vir hul plekke gewerk het!

Besoek ook:

4×4 Off-Road Driving Techniques and Safety

4×4 Vehicles and Car Insurance

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Strawwe uitdaging vir die McCarthy-4×4-klub