Giniel De Villiers by Goodwood -Spoedfees vereer

 

  • Giniel ontvang Goodwood-jaerstoekenning
  • Ren-Hilux vierde vinnigste in Goodwood-woudsneltrajek
  • Al die onlangse Toyota Le Mans-renmotors uitgestal

Die Kaapse renjaer Giniel de Villiers en sy Dakar-Hilux het die eer der ere in die geselskap van al die wêreld se legendariese topjaers ontvang toe hy by vanjaar se Goodwood-spoedfees met die jaersprys beloon is. Dit was die twintigste keer dat hierdie fees in Engeland gehou is.

De Villiers (41) het die Hilux op ’n paar blitsrondtes op die Goodwood-woudsneltrajek oor 4 km geneem, en is deur die baanbeamptes en die roetehoof as die naweek se opwindendste jaer aangewys. Hierdie toekenning het min mense verras aangesien Giniel en sy Hilux die vierde vinnigste van al die deelnemers aan die woudsneltrajek was en net deur Wêreldtydrenkampioenskapsmotors geklop is.

“Die ouens was mal oor die bakkie!” sê Giniel oor die toeskouers en die handjie vol navigators wat gelukkig genoeg was om ’n beurt in die Hilux te kry. “Ek het die Hilux Vrydag op twee wiele gehad, en die mense het dit nogal geniet.”

Giniel het vanjaar ná sy eerste besoek in 2012 na Goodwood teruggekeer. “Ons kom hierheen om ’n bietjie pret te hê en die Dakar-ren-Hilux ten toon te stel, maar dit is in ’n sekere sin ook die geestelike begin van ons Dakar-veldtog, wat aan die einde van die maand met mag en mening in die Namib-woestyn sal afskop,” sê Giniel.

Die Toyota Imperial Suid-Afrika Dakar-spanhoof, Glyn Hall, was byderhand om Giniel se jaagwerk te monitor. “Giniel se deelname aan Goodwood maak my baie opgewonde oor ons komende toetse in Namibia. Ons het baie veranderings en verbeterings om te beproef, en dit sal ons ’n goeie idee gee oor wat ons kanse in die 2014-Dakar is.”

Hoewel die Hilux die berugte woudsneltrajek getem het, hetToyotasy ryk renervaring op teer ook ten toon gestel.

Die bekende motors en berugte renjaers by die fees het ook al drie Toyota se fabrieksingeskrewe Le Mans-renmotors ingesluit – waaronder die TS030-hibriedmotor wat die naaswenner in vanjaar se moordende uithouren oor 24 uur was. Die renjaers Alex Wurz en Anthony Davidson was byderhand om met hierdie vuurwa teen die bekende hellings van Goodwood op te jaag.

Ander Toyota-legendes het ingesluit die GT-One-Le Mans-motor van 1998 en 1999 en wat met die renjaers Martin Brundle en Emanuel Collard herenig is, verskeie Celica-renweergawes, die laaste fabrieksingeskrewe Toyota Corolla WRC, en ’n klassieke AE86 wat langs ’n spesiale Toyota 86-model, die FT86-oopdak-konsepmodel, gestaan het.

“Die Goodwood-spoedfees is ’n ongelooflike saamtrek,” sê Giniel. “Die atmosfeer met al die grootse en geskiedkundige renmotors en renjaers wat daar was, het die asem weggeslaan. As jy van motors hou, moet jy minstens een keer in jou leeftyd daar wees!”

’n Geraamde 150 000 mense het die Goodwood-spoedfees bygewoon.

Posted on by jonckie

Comments Off on Giniel De Villiers by Goodwood -Spoedfees vereer