Toyota fokus op gesinspret met konsepmotor vir Tokyo-Speelgoedskou

Watter beter plek is daar om ’n motor te onthul wat daarop gefokus is om die gesin bymekaar te bring as ’n speelgoedskou? Toyota doen dit vandeesweek met die onthulling van die Camatte57s, ’n sportiewe, oopdak-gesinsgefokusde konsepmotor wat in die kleurvolle omgewing van die Kids’ Life Zone by die Tokyo-speelgoedskou uitgestal word.

Toyota se nuwe konsepmodel gaan juis daaroor om idees te deel om die volmaakte motor te bou, en word aangehits deur die pret wat ma’s, pa’s en kinders oor geslagte heen gedeel het deur saam goed te maak. Die betrokkenheid van kinders om die vorm en voorkoms van ’n motor te kies, sal hierdie bestuurders van die toekoms meer oor die pretaspekte van motorry help leer.

Die Camatte57s se romp bestaan uit 57 klein, ligte, verwyderbare panele in ’n wye reeks verskillende kleure en vorms. Die oopdak-roadster-tipe rompstyl sorg vir die pretfaktor, en laat almal in die motor die kleurvolle buitekant wat hulle geskep het, geniet.

Die pedale en sitplekke kan só verstel word dat selfs kinders die motor kan bestuur. Die posisie van die regterkantste agtersitplek sal volwassenes in staat stel om met die stuur en remwerk te help sodat die kinders hul bestuursvermoë van vroeg af op die regte, veilige plekke – nie op openbare paaie en snelweë nie – kan begin ontwikkel.

Die motor, wat elektriese aandrywing het, is 3 000 mm lank, 1 440 mm breed en 1 000 mm hoog, en het sitplek vir drie.

Nota: Die naam Camatte is afgelei uit die Japannese woord vir sorg en is bedoel om “sorg vir ander” en “sorg vir motors” te beteken. Die nommer 57 staan vir die aantal bakpanele. Die “s” staan vir die Japannese woord sawaru, wat aanraking beteken. Die naam weerspieël dus die gedagte dat mense meer betrokke by mekaar en hul motors moet wees.

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota fokus op gesinspret met konsepmotor vir Tokyo-Speelgoedskou