Meer verkoopsdae gee voertuigverkope in April ‘n hupstoot

 

  • April-verkope styg met 8 312 eenhede
  • Meer verkoopsdae deur hoër daaglikse verkoopkoers gesteun
  • Uitvoersyfers bly styg
Marksegment April 2012 April 2013 %-verandering
Passasiersvoertuie 29 516 34 346 +16,4%
Ligte handelsvoertuie 11 007 14 045 +27,6%
Medium handelsvoertuie 731 904 +23,7%
Swaar handelsvoertuie 364 403 +10,7%
Ekstra swaar handelsvoertuie 920 1 123 +22,1%
Busse 70 99 +41,4%
Uitgevoerde voertuie 17 657 22 907 +29,7%
Algehele mark (plaaslik) 42 608 50 920 +19,5%

Die 58 verskillende voertuigfabrikate in Suid-Afrika het in April altesaam 50 920 eenhede van die hand gesit nadat hulle deur ’n ononderbroke verkopemaand met baie bemarkingsaktiwiteit bevoordeel is.

Volgens die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) het verkope met 17,54% teenoor die treffer-verkope in Maart 2013 gedaal, maar met 19,5% teenoor dieselfde maand in 2012 gestyg.

“Die bedryf is gewis deur die ekstra verkoopsdae wat ons in April bygekry het, bevoordeel,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President vir Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, met verwysing na die Paasvakansiedae wat in Maart vanjaar geval het.

“Die bedryf het nie net meer dae in April gehad om voertuie te verkoop nie, maar het ook meer motors per dag verkoop, wat hul daaglikse verkoopkoers van 1 937 eenhede per dag in April 2012 tot 2 122 eenhede verhoog het.”

Die toename in daaglikse verkope is volgens Hamman bewys van die lewendige bemarkingsaktiwiteit, die groot aantal nuwe voertuie en voortgesette vervangingsneiging onder private kopers. Hamman noem ook die voortgesette lae rentekoersomgewing en die verwagting onder kopers van ’n moontlike prysverhoging in die nabye toekoms, wat verkope ’n hupstoot gegee het.

Die vervangingsiklus word in statistiek wat deur Toyota Finansiële Dienste (TFS) verskaf word, weerspieël. Finansieringsaansoeke wat deur TFS verwerk is, het met 15,7% teenoor Maart 2013 en 25% teenoor April verlede jaar gestyg.

Toyota het sy posisie as markleier behou nadat hy 9 896 motors in April verkoop het, terwyl die Hilux steeds Suid-Afrika se gewildste enkele model met plaaslike verkope van 3 227 eenhede bly. Die Hilux is ook aan die voorpunt van Toyota se voortdurende uitvoersukses. Sy altesaam 7 222 eenhede wat in die algehele uitvoermark van 22 907 eenhede verskeep is, beteken Toyota is nou verantwoordelik vir een uit elke drie motors wat van Suid-Afrika af uitgevoer word.

“Verkope het met altesaam 7,5% vir die jaar tot nou gestyg, en ons verwag dat dit vir die res van die jaar teen dié pas sal voortduur,” sê Hamman.

Posted on by jonckie

Comments Off on Meer verkoopsdae gee voertuigverkope in April ‘n hupstoot