Toyota wys sy ME.WE konsepmodel

ED2 (Toyota se Europese ontwerpstudio in Sophia Antipolis, suid-wes van Nice, Frankryk) en Studio Massaud* het hul kennis en vaardighede saamgevoeg om ’n motor te ontwerp wat daarna streef om op ’n nuwe manier in mense se persoonlike vervoerbehoeftes te voorsien.

Synde motors toenemend aan beperkings onderwerp word, het ED2 en Studio Massaud hulle padgebruikers – bestuurders en voetgangers – in die middel van hul ontwerpplanne geplaas. Die fokus is op die begeerte vir vryheid, plesier, emosie en die vermoë om sonder beperkings te kan reis, terwyl mense se sin vir persoonlike verantwoordelikheid en verbintenis tot goeie buurskap terselfdertyd aangespreek word.

Die gevolg is ’n motor wat ’n moderne wêreldsiening vir reis inneem en deel van ’n breër visie is oor hoe om by die omgewingsuitdagings aan te pas wat die toekoms van persoonlike beweeglikheid sal vorm. Dit is ’n pakket wat sonder fieterjasies en as “anti-oortolligheids”-voertuig verwek is. Die Toyota ME.WE verteenwoordig kortliks die oorgang van die kultuur van “meer” na een van “beter”.

Die voertuig

ME.WE is daarop uit om ’n string werklikheidsteenstrydighede op te los – nie aan die hand van die herontwerp van wat ’n motor is nie, maar deur ’n nuwe benadering te volg tot iets wat eenvoudiger, meer geskik en realisties is; ’n alternatiewe voertuig teenoor dié wat bloot oor “passie en status” gaan. Die oogmerk was ‘doen meer en ontwerp beter’ en gebruik minder. Dit was moontlik om vermoë, gehalte en genot te verhoog deur die stroom hulpbronne en beperkings te verminder.

Voorbeelde van hierdie denkrigting van meer en beter, sluit in:

  • Lig en duursaam: die ME.WE het ’n buisraam-struktuur waaraan ligte dog geharde polipropileen-panele panele gemonteer is.
  • Individueel en standaard: die gevormde panele word gemaak deur ’n koste-doeltreffende vervaardigingsproses te gebruik, maar die panele kan maklik verpersoonlik word.
  • Vryheid en verantwoordelikheid: die ME.WE is ’n bakkie, oopdakmotor, veldryer en klein stadsmotort in een. Die motor val in die smaak van ’n wye reeks gebruikers, en het ’n klein eko-afdruk danksy sy lae gewig en die materiale wat vir sy vervaardiging gebruik word.
  • ME en WE: die konsep-model se naam druk sy gelyktydige besorgdheid uit oor persoonlike welstand (ME) sowel as dié van ander (WE).

 

Die ME.WE word deur elektrisiteit aangedryf, en gebruik dieselfde wielmotors as die Toyota
i-ROAD, terwyl die batterye net soos in die iQ EV onder die vloer is. Die hele binneruim kan danksy die afwesigheid van die tradisionele beperkinge van gewone kragbronne in sy geheel aan die voertuig se insittendes en hul bagasie gewy word.

Die ligte samestelling weens die gebruik van aluminium en polipropileen-panele help om die motor se gewig tot die geteikende 750kg te beperk – sowat 20 persent minder as ’n gewone supermini-motor wat van staal gemaak is. Die romppanele, wat 100 persent herwin kan word, weeg net 14kg.

Bamboes word in die samestelling van die vloer en vir die kajuit se horisontale oppervlakke gebruik, en is gekies omdat dit ’n hernieubare hulpbron is en terselfdertyd sag op die oog val. Die ME.WE kan binne en buite maklik skoon gehou word deur dit net op die gewone manier te was.

Die ME.WE is ’n intelligente reaksie op die ekologiese gevare van massavervaardiging en die stygende aantal motors op die wêreld se paaie, aangesien dit van materiale gemaak is wat help om die energie wat hy verbruik sowel as die CO2– en ander skadelike uitlaatgasse wat hy afskei, te verminder.

Die eenvoud van sy ontwerp word deur die gemak van sy gebruik geëwenaar. Die wielmotor-stelsel (elektriese motor binne-in die wiel self) beteken die voertuig kan met twee- of vierwielaandrywing gebruik word, en hy kan rowwer terrein as ’n gewone motor aandurf – sonder die bykomende gewig van ’n tradisionele 4×4-transmissiestelsel.

Die kajuit gee voorkeur aan die bestuurder en passasiers, wat beteken bagasie kan op die dak onder ’n voubare, weerbestande kunsrubber-bedekking vervoer word. Die agterkant het egter ook ’n bagasieruim wat in ’n platform soos dié van ’n bakkie uitgeskuif kan word.

Die agterste banksitplek is op spore op die vloer gemonteer, en kan weggevou en onder die voorste sitplek geberg word as dit nie gebruik word nie. Dit kan ook geheel en al uitgehaal word en selfs as toevallige pieknieksitplek ingespan word.

Die eenvoud van die ontwerp word ook in die instrumentepaneel aangetref. Dit bestaan uit ’n enkele skerm bokant die stuurwiel, en vertoon die voertuig se spoed, die battery-lading, en rit-inligting en navigasie-aanwysings wat deur ’n slimfoon gelewer word. Die foon self word onder die skerm gemonteer sodat die bestuurder die kajuitomgewing met sy eie keuse musiek en ander toepassings kan verpersoonlik, en terselfdertyd goed soos die kajuittemperatuur kan beheer.

 

Die verhitting en verkoeling word deur ’n energie-doeltreffende lugpomp en elektriese sitplekverwarmers versorg sodat kragverbruik tot die minimum beperk word. Al die vensters – selfs die windskerm – kan oopgemaak word om ’n oopdak-gevoel te bied.

 

Tegniese spesifikasies

 

AFMETINGS  
Lengte (mm) 3 440
Breedte (mm) 1 750
Hoogte (mm) 1 600
ONDERSTEL EN ROMP  
Onderstel-samestelling Aluminium-buisraam
Romp Polipropileen-panele
Rymassa (kg) 750
ENJIN EN TRANSMISSIE  
Kragbron 4 elektriese wielmotors
Ligging van batterye Onder die vloer
LUGVERSORGING  
Verhitting/verkoeling Hittepomp wat min energie gebruik, en elektriese verwarmers vir die sitplekke

 

Le Rendez-vous Toyota

 

ME:WE maak sy buiging by Le Rendez-vous Toyota, Toyota se splinternuwe handelsnaam-aktiwiteitsentrum in die Champs Elysées in Parys.

 

*Jean-Marie Massaud

Jean-Marie Massaud, ’n argitek, uitvinder en ontwerper, is in 1966 in Toulouse, Frankryk, gebore. Hy het in 1990 aan die École Nationale Supérieur de Création Industrielle – Les Ateliers, Paris gegradueer en saam met Marc Berthier begin werk. Hy en Daniel Pouzet het Studio Massaud saam in 2000 gestig en sy belangstelling op die gebied van argitektuur en ontwerp uitgebrei.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota wys sy ME.WE konsepmodel