Toyota Motorsport takel Sasol -Tydren met splinternuwe Yaris

Leeroy Poulter

Die Sasol-tydren, die tweede ronde van die 2013-SA Tydrenkampioenskap, is ’n byeenkoms wat die Castrol-Toyota-tydrenspan al sewe keer gewen het sedert die tydren 21 jaar gelede (in 1992) begin het – drie keer met die Conquest, twee keer met die RunX en twee keer met die Auris.

Dié fabriekspan sal vanjaar op 19 en 20 April in Mpumalanga die langste en moeilikste tydren van die jaar met die splinternuwe Toyota Yaris aandurf.

Die nuwe Yaris, die jongste in ’n string suksesvolle Toyota-tydrenmasjinerie, is by Hallspeed in Kyalami vir Toyota Motorsport ontwerp en gebou. Die motor het sy nasionale kampioenskapsbuiging in die seisoen se openingsbyeenkoms, die Total-tydren in KwaZulu-Natal, gemaak en ten spyte van ’n gebrek aan toetswerk met Leeroy Poulter en Elvene Coetzee in die kajuit vierde geëindig nadat hulle tot die heel laaste sneltrajek in die derde plek was. Hul spanmaats Johnny Gemmell en Carolyn Swan het die Yaris se eerste sneltrajekoorwinning aangeteken, en tussen hulle het die twee Castrol-Toyota-spanne altesaam tien indrukwekkende top-10-sneltrajekposisies beklink.

Gemmell en Poulter het elk al voorheen die vonkelwyn in die Sasol-tydren geproe – Gemmell in 2007 in ’n Castrol-RunX, en weer in 2009 in ’n Castrol-Auris, en Poulter in 2011 in sy eerste jaar in Klas S2000, en ook in ’n Castrol-Auris.

’n Derde Yaris, in die kleure van Imperial Toyota, is sedert die Total-tydren vir Giniel de Villiers en sy nuwe navigator, Greg Godrich, wat in die openingstydren sesde in ’n Auris was, gebou.

“Dit is ’n groot taak om ’n splinternuwe tydrenmotor van die grond af te bou, maar ons het ’n goeie grondslag gehad waarop ons die tydren-weergawe van die tweedeur-Yaris kon grond, al was ons ná die einde van die 2012-serisoen onder groot druk wat tyd betref,” het die spanhoof, Glyn Hall, self ’n oudtydrenkampioen (in 1990), gesê.

“Ons het alles in die nuwe motors ingebou wat ons uit die Yaris se voorgangers, wat selfs ’n paar tydrenoorwinnings ingeryg het, geleer het. Dit is nou net ’n geval van kry die kilometers agter die rug, doen die toetswerk en ontleed al die moontlikhede.

“Om eerlik te wees – ons aanvanklike toetswerk is in die Total-tydren gedoen, en ons was doodtevrede met die uitslag. Ons het ’n paar probleme gehad, en het dit opgelos. Ons het in die ses weke tussen die twee byeenkomste ook heelwat toetswerk met die twee Castrol-motors gedoen gekry, maar ek moet erken ek wens ons kon meer doen,” het Hall gesê.

“Giniel se nuwe motor sal ook eers die dag voor die Sasol-tydren heeltemal klaar wees, dus sal hy ongelukkig ook sonder enige toetswerk moet gaan deelneem. Ons is egter vol vertroue dat ons ’n baie mededingende pakket het en dat al drie spanne hulle goed van hul taak sal kwyt.”

Die Sasol-tydren begin Vrydag 19 April om 10:00 in die Sabie-markplein in Mpumalanga, en eindig Saterdag 20 April in Nelspruit. Die roete dek ’n stuk of 600 kilometer waarvan 210km sneltrajekte teen die stophorlosie sal wees – drie op teer (in Sabie, Witrivier en Nelspruit), 11 in die York Timber-plantasies naby Sabie, Graskop, Witrivier en Hendriksdal op grond, en ’n laaste, kort sneltrajek op gras by die Laeveld-skouterrein.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Johnny Gemmell

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Motorsport takel Sasol -Tydren met splinternuwe Yaris