Toyota help wetenskaplikes om lewe op Mars te bestudeur

Daar ís lewe op Mars. Dis nou Mars, die grootste dadelplaas in die suidelike halfrond, in die dorre, Marsagtige landskap by Klein Pella naby Pofadder in die Noord-Kaap.

Dit is hier, in hierdie afgeleë en yl verkende deel van Suid-Afrika, waar Toyota Suid-Afrika Motors wetenskaplikes aan die hand van sy Enviro-uitreikprogram en in samewerking met die internasionale Strepieskode van Lewe-inisiatief sal bystaan om skaars en bedreigde plantspesies te versamel en te bestudeer.

Die 2013-Toyota-Enviro-uitreik, die vyfde in hierdie jaarlikse wetenskaplike studieprojek wat daarop ingestel is om ons natuurlike rykdom te beskerm en biodiversiteitsverlies te bekamp, het op 2 April begin by die Klipbokkop-bergreservaat naby Worcester in die Wes-Kaap, en duur tot 14 April. Wetenskaplikes en studente van die Universiteit van Johannesburg, die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir Biodiversiteit, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Kaaspstad, sal verskeie floristies interessante terreine in die uiters dorre Gariep-streek besoek. Dit sluit die Gariep-woestyn en die Boesmanland-eilandberge- en kwarts-lappies sowel as die boonste Nama-Karoo-gebied in.

Die doel is om gedroogde plantmateriaal vir herbarium-monsters en DNS-strepieskodering in te samel, sowel as om inligting oor spesiedigtheid, bevolkingspeilings van bedreigde spesies en habitat- en bedreigingsevalueringsdata te versamel, terwyl inligting oor plantbenutting ook aangeteken sal word.

“Hoewel die omgewing hoofsaaklik uit die Nama-Karoo bestaan, behels dit ook biostreke van die groot ekologiese savanne- en vetplant-Karoo-gemeenskappe sowel as die Gariep-woestyn langs die Oranjerivier, ’n streek met talle skaars en minbekende platspesies wat ’n bestaan in van Suid-Afrika se dorste omgewings maak,” het die leier van die projek, Prof. Michelle van der Bank, van die Universiteit van Johannesburg, gesê.

“Baie van hierdie plante is net in min en baie ou herbarium-rekords bekend. Ons het nou, danksy die waardevolle en voortgesette steun van Toyota Suid-Afrika Motors, die geleentheid om navorsing oor die bevolking en habitatte en alles wat dié plante bedreig, te doen.

“Dit sal verbeterde bewaringsevaluering en meer akkurate omgewingsinligting moontlik maak, wat noodsaaklike komponente is om die bewaring van skaars en bedreigde spesies te verseker wanneer hierdie data op die ondersteuningstelsels van ontwikkeling van bewaringsplanne en grondgebruiksbesluite toegepas word.”

Suid-Afrika is die derde mees mega-uiteenlopende land ter wêreld, en huisves bykans 10 persent van die wêreld se plantspesies. “Suid-Afrika sal sonder wesentlike kennis van hierdie diversiteit beperk word in sy vermoë om hierdie nasionale bate te benut om oplossings vir omgewingsveranderinge en veranderende uitdagings op die gebied van menslike welstand te vind,” het Prof. Van der Bank bygevoeg. “Daarbenewens sal geen ander geslag teen die huidige ongehoorde tempo van uitsterwing toegang tot die aantal en diverse spesies hê wat ons nou het nie (baie daarvan bly steeds onbekend aan wetenskaplikes).

“Die hulpbronne wat ons biodiversiteit behels, veral spesies wat nie baie bekend is nie, is dus van uiterste belang, en die behoud daarvan vir toekomstige geslagte is van deurslaggewende belang. Pogings soos die 2013-Toyota-Enviro-uitreik stel wetenskaplikes in staat om groot vordering op die gebied van ondersoek van hierdie versteekte skatte te maak, wat die bewaring daarvan verseker,” het Prof. Van der Bank afgesluit.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir Biodiversiteit het hom tot die vestiging van ’n nasionale elektroniese Flora verbind, waarin al die spesies in die land teen 2020 aangeteken sal word ten einde Suid-Afrika in staat te stel om aan die teikens van die Wêreldwye Strategie vir Plantbewaring (GSPC) te voldoen.

Die samestelling van kleiner, meer hanteerbare streeksgebonde Floras vir Suid-Afrika word egter weens die ontsaglike skaal van die Suid-Afrikaanse flora as eerste stap op pad na hierdie gesamentlike doelwit vereis. Verskeie sulke Floras vir Suid-Afrika is al voltooi, met die gevolg dat die Noord-Kaapse Nama-Karoo tesame met die aangrensende somerreënvalgebiede die laaste oorblywende streek in die land is wat nog hierdie floristiese navorsing moet ondergaan. Dit sal ook waardevolle inligting voorsien om bewaringstrategieë op te stel – veral in die lig van die verskillende moontlike bedreigings vir die streek, soos die voorgestelde hidrouliese gasontginning (fracking) en allerhande ander mynbedrywighede in dele van die Karoo.

Die 2013-Toyota-Enviro-uitreikprojek is deel van die navorsingsverdrag onder die leiding van Kanada, die internasionale Strepieskode van Lewe-inisiatief, waarby 26 lande (Suid-Afrika ingesluit) betrokke is en honderde vooraanstaande wetenskaplikes saamvoeg om monsters te versamemel, hul DNS-strepieskode-aantekeninge te verkry en ’n organisatoriese rekenaarnetwerk te bou om die inligting te berg en vir gebruik in spesie-identifikasie en ontdekking te deel. Die iBOL-deelnemers sal teen 2015 DNS-strepieskode-aantekeninge vir vyf miljoen monsters, wat 500 000 spesies verteenwoordig, versamel het, wat ’n uiters doeltreffende identifikasiestelsel sal wees vir spesies wat in die algemeen deur mense ontdek word, en die grondslag lê vir die daaropvolgende vordering ten opsigte van ’n strepieskode-verwysingsbiblioteek vir alle vorms van lewe.

Bykomende inligting is beskikbaar by:

African Centre for DNA Barcoding – http://www.acdb.co.za

iBol-projek – http://ibol.org

Toyota-Enviro-uitreik 2013 – http://www.toyotaoutreach.com

ispot-Suider-Afrika – http://www.ispot.org.za/

Wêreldstrategie vir plantbewaring – http://www.plants2020.net/

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota help wetenskaplikes om lewe op Mars te bestudeur