Stewige verkope in Maart verbloem groeidaling in motormark

 

  • Maart tradisioneel die sterkste maand van die jaar
  • Verkope effens laer as dieselfde maand in 2012
  • Druk op besteebare inkomste duur voort
Marksegment 2012 2013 %-verandering
Passasiersvoertuie 38 996 37 596 -3,6%
Ligte handelsvoertuie 14 605 14 794 +1,3%
Medium handelsvoertuie 983 1 015 +3,3%
Swaar handelsvoertuie 426 393 -7,7%
Ekstraswaar handelsvoertuie 1 011 1 036 +2,5%
Busse 131 112 -14,5%
Voertuig-uitvoer 23 968 28 338 +18,2%
Algehele mark (plaaslik) 56 152 54 946 -2,1%

 

Maart, wat buiten Oktober gewoonlik die grootste voertuigverkopemaand is, het aan die verwagtinge voldoen en altesaam 54 946 nuwevoertuigverkope is vir die maand by die Nasionale Vereniging van voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) aangemeld.

Nuwevoertuigverkope was 3,3% hoër as in Februarie, maar laer in vergelyking met Maart verlede jaar. Dit was in pas met verwagtinge van ’n laer groeisyfer vir 2013, maar was ook die gevolg van die feit dat Paasnaweek vanjaar in Maart met gepaardgaande minder verkoopsdae geval het.

Toyota het stewig vertoon en algehele verkope van 10 593 of byna 20% van die algehele Suid-Afrikaanse voertuigmark aangeteken. Die maatskappy het ook tot ’n sterk oplewing in uitvoerverkope gelei – altesaam 8 779 voertuie is na linker- en regterstuur-bestemmings in Afrika en Europa uitgevoer.

“Voertuigverkope het in Maart ’n hupstootjie weens verskillende faktore gekry,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors. “Maart word gewoonlik as die einde van die eerste kwartaal, sowel as die einde van die belastingjaar van baie openbare en private maatskappye, deur talle grootmaat-transaksies en finale tenders gekenmerk. Dit word natuurlik aangehits deur hoë kleinhandelaktiwiteit van voertuighandelaars wat die kwartaal met positiewe syfers wil afsluit.”

Volgens Dr. Van Zyl word hierdie positiewe faktore deur toenemende druk op besteebare inkomste verreken. Verskeie brandstofprysstygings en voortgesette voedselprysinflasie het ’n demper op huishoudelike besteding geplaas, wat die siening van ’n laer groeisyfer vir 2013-voertuigverkope ondersteun.

Toyota se raming vir verkope word deur finansierings- en goedkeurde aansoeke van Toyota Finansiële Dienste (TFS) bevestig. TFS het ’n daling van 7,59% in finansieringsaansoeke vir Maart ervaar, maar 9,9% meer aansoeke vir die kwartaal in sy geheel ontvang.

Verkope van ligte handelsvoertuie bly springlewendig danksy die Hilux waarvan 3 637 eenhede van die hand gesit is, terwyl dié van medium, swaar en ekstraswaar handelsvoertuie gemengde sukses gehad het, maar wat in pas met verwagtings was.

“Ons verwag dat voertuigverkope die res van die jaar weer sal groei, maar dit sal teen ’n baie stadiger pas as in 2012 wees. Hierdie verwagting neem ’n laer BBP-groeitempo en voortgesette druk op besteebare inkomste aan die een kant, en voortgesette bemarking, baie nuwevoertuigbekendstellings en ’n lae rentekoers-ongewing aan die ander, in ag,” sê Dr. Van Zyl.

Posted on by jonckie

Comments Off on Stewige verkope in Maart verbloem groeidaling in motormark