Wanaangepaste bande bekommer Bridgestone in jongste peiling

Bridgestone se bande-ondersoekprogram is nou al sewe jaar aan die gang en die eerste ondersoek vir 2013 is pas in die parkeerterrein van Pick n Pay se Primrose-tak in Germiston gedoen. Die Februarie-peiling het 1 212 bande aan 303 voertuie behels wat as deel van die ononderbroke projek om die toestand van bande in Suid-Afrika te bepaal, ondersoek is.

Die gevaarligte het onmiddellik begin flikker toe Bridgestone-personeel vasgestel het dat ’n hele 20% van die voertuie wat ondersoek is, wanaangepaste bande het. Sommige motors het selfs vier verskillende fabrikate bande gehad – ’n ander band vir elke wiel. “Voertuie wat verskillende bande aan een as het, kan skeef trek wanneer die bestuurder rem,” het Mandy Lovell, skakelbestuurder van Bridgestone Suid-Afrika, gesê. “As al vier bande van mekaar verskil, sal die voertuig nie bestendig reageer nie en kan die natuurlike padhoubalans nadelig beïnvloed word,” het sy bygevoeg. “Ons het ’n oog op hierdie probleem gehou en die voorkoms van wanaangepaste bande in 2012 se peilings was tussen 1% en 5%.”

Sy het bygevoeg dat die vorige peiling wat in Germiston gehou is, in 2011 was en destyds selfs meer wanaangepaste bande – ’n hele 31% – gehad het. “Hoewel dit steeds hoog is, is ons baie bly om te sien dit het die afgelope twee jaar met sowat ’n derde gedaal,” het sy gesê.

Van die ander aspekte van die peiling was dat die toestand en druk van bande relatief bestendig teenoor die gemiddelde uitslae van die afgelope twee jaar was. Altesaam 88% van die bande wat ondersoek is, het die verkeerde banddruk gehad (Germistonse 2011-peiling: 87%). Dit was die oorsaak dat die persentasie bande wat gevaarlike druk het (tussen 150kPa en 170 kPa) van die 5% wat in 2011 in Germiston gemeet is, tot 4% in 2013 gedaal het.

Bande waarvan die banddruk as uiters gevaarlik geklassifiseer is (minder as 150 kPa of bo 290 kPa) het 8% verteenwoordig – dieselfde as in die 2011-peiling wat in Germiston gedoen is. Die persentasie bande wat buitensporig verslete was en summier vervang moet word, het ook bestendig op 6% gestaan.

Nog ’n belangrike bevinding is dat talle bande te oud was en vervang moet word. ’n Band wat langer as vyf jaar tevore vervaardig is, begin sy buigsaamheid verloor. Dit verswak nie net sy klouvermoë nie, maar kan ook daartoe lei dat die rubber begin kraak. Bande wat baie oud is, kan in uiterste gevalle skielik bars as die samestelling erg deur krake verswak is.

“Die toestand van bande in Germiston blyk die afgelope twee jaar relatief bestendig te wees,” het Lovell gesê.

“Die daling in die voorkoms van wanaangepaste bande is bemoedigend, en so ook die klein daling in die aantal bande wat as ‘uiters gevaarlik’ geklassifiseer kan word,” het sy bygevoeg. “Ons is egter bekommerd oor die aantal ou bande.”

Lovell het motorryers aangeraai om hul voertuie na ’n bandehandelaar te neem as hul bande ouer as vyf jaar of so is, ten einde seker te maak hulle begin nie reeds tekens van ouderdomverwante verswakking toon nie. “Bande het net soos ander rubberprodukte ’n beperkte leeftyd, en net omdat hulle nog loopvlak het, beteken dit nie hulle is nog veilig nie. Laat jou voertuig se bande eerder nagaan, al is dit net om gemoedsrus te verkry,” het sy afgesluit.

Besoek ook:

Road Safety and Tyre Safety

Posted on by jonckie

Comments Off on Wanaangepaste bande bekommer Bridgestone in jongste peiling