Vier in een Parkeerplek Toyota i-ROAD maak sy buiging in Genève

SLEUTELPUNTE

  • Toyota i-ROAD, ’n nuwe vorm van vervoer, maak sy buiging in Genève
  • Kompakte, suiwer elektriese driewiel-persoonlikebeweeglikheidsvoertuig (PMV) met ’n gerieflike, toegeboude tweesitplek-kajuit
  • Nuwe Toyota ‘Active Lean’-tegnologie balanseer die voertuig outomaties in draaie of oor ongelyke oppervlakke
  • Breedte van 850mm maak dit niks groter as ’n gewone tweewiel-ryding nie, wat die i-ROAD net so maklik as ’n bromponie of motorfiets in stedelike verkeer laat hanteer.
  • Uitlaatgasvrye EV-kragbron wat bykans geluidloos is, bied reikafstand van tot 50km, en herlaai in net drie ure deur gewone kragsok

Toyota se nuwe i-ROAD, ’n persoonlikebeweeglikheidsvoertuig (PMV), maak sy wêreldbuiging by die Geneefse Motorskou, en is ’n nuwe, veelsydige vorm van vervoer wat vir strate in die stedelike omgewing ontwerp is.

Die nuweling, wat twee sitplekke agter mekaar in ’n toegeboude kajuit het, is ’n elektriese voertuig wat ’n reikafstand van tot 50km met ’n enkele batterylading kan haal. Die voertuig, wat ‘Active Lean’-tegnologie gebruik, is veilig, logies en genotvol om te ry, en vereis ook nie ’n valhelm vir die bestuurder of passasier nie.

Die iRoad is die jongste konsepmodel uit 40 jaar van Toyota se ervaring op die gebied van navorsing en ontwikkeling van voertuie wat minder energie gebruik, ’n kleiner las op die omgewing plaas en prakties aan mense se alledaagse vervoerbehoeftes voldoen. Die i-ROAD neem die maatskappy ook nader aan sy doel om die volmaakte reeks ekovoertuie te skep.

Toyota baan die weg vir verskillende soorte ekovoertuie om in die toekoms gelyktydig te bestaan deur sy hibriedsinergieaandrywingstegnologie vir elektriese inprop-hibriedvoertuie (PHEV’s), elektries aangedrewe voertuie (EV’s) en brandstofselvoertuie (FCV’s) aan te pas. Hoewel hibriedvoertuie, inprop-hibriedvoertuie en FCV’s vir langtermyn-hoofstroomgebruik geskik is, glo Toyota in die lewensvatbaarheid van elektriese voertuie om as hoofvervoer vir kort ritte in ’n stedelike omgewing te dien, en het ook tien jaar se ervaring op die gebied van navorsing en ontwikkeling van PMV’s.

Mense wat hierdie soort voertuig gebruik, wil iets hê wat geriefliker is, beter beskerming teen weerstoestande bied en veiliger as ’n bromponie of motorfiets is, maar soortgelyke voordele soos lae loopkoste, maklike parkering en maneuvreerbaarheid in ’n stedelike omgewing kan bied.

Die uiters kompakte driewiel-i-ROAD is 2 350mm lank en 1 445mm hoog, met ’n asafstand van 1 700mm. Sy heel belangrikste mate is egter sy breedte: teen ’n skrale 850mm is hy nie breër as ’n gewone tweewiel-ryding nie. Dit maak hom nie net maklik om deur spitsverkeer te vleg nie, maar beteken ook vier van hulle kan in ’n gewone parkeerplek ingepas word.

Die uitlaatgaslose elektriese kragbron gebruik ’n litium-ioon-battery om sy twee 2kW- motors in die voorwiele aan te dryf, wat vir fris versnelling en bykans geluidlose werking sorg. Sy reikafstand is nagenoeg 50km, waarna die battery in net drie uur ten volle herlaai kan word deur dit by ’n gewone, huishoudelike kragsok in te prop.

Toyota se nuwe en uiters logiese ‘Active Lean’-tegnologie is die kern van die i-ROAD se skitterende stabiliteit, veiligheid, gemak en prettige ry-karakter. Die stelsel gebruik ’n ligte aandrywer en ratmeganisme wat bokant die voorste vering aangebring is en met ’n dwarsstuk aan die linker- en regterwiele gekoppel is. ’n Elektriese beheereenheid bereken voortdurend die hoek waarteen die voertuig ingevolge die stuurhoek, tolsensor en voertuiginligting moet leun, terwyl die stelsel die wiele outomaties in teenoorgestelde rigtings op en af beweeg en die voertuig laat leun om die middelpuntvlietende krag in draaie teen te werk.

Die stelsel kom ook in werking wanneer die voertuig in ’n reguit lyn oor ongelyke oppervlakke ry. Die aandrywer maak outomaties voorsiening vir veranderinge in die padoppervlak om die romp gelyk te hou. Sy kleinste draaisirkel is ’n skrale drie meter.

’n Mens het geen spesiale opleiding nodig om die i-ROAD te ry nie; die ‘Active Lean’- stelsel sorg vir ’n unieke ry-ervaring met die genot van ’n tweewieler, maar sonder dat die bestuurder die voertuig hoef te stabiliseer wanneer hy teen lae snelhede ry of stilstaan.

Aangesien die bestuurder nooit sy of haar voete op die grond neer te sit nie, kon die
i-ROAD van ’n veiliger, weerbestande toegeboude kajuit voorsien word, en kan hy dus sonder valhelms gebruik word. Hierdie ontwerp sorg ook vir ’n meer motoragtige omgewing in die kajuit, terwyl toerusting soos beligting, lugversorging, klank en Bluetooth voorsien kan word.

Toyota beskou sy i-ROAD-konsep as ’n model wat ’n belangrike rol in die vermindering van stedelike verkeersopeenhoping en lugbesoedeling kan vertolk. Pendelaars kan openbare vervoer of gewone private voertuie gebruik om tot by stedelike vervoermiddelpunte te ry waar hulle na die Toyota i-ROAD kan oorskakel om verder tot in die middestad te ry.

Die nuwe Toyota PMV se kompakte afmetings, beweeglikheid, maklike parkering, battery wat vinnig kan herlaai en keuse van ’n oop of toe kajuit, maak dit die ideale stedelike voertuig wat van meet af ontwerp is om CO2-, NOx- en stofdeeltjie-uitlaatgasse te verminder sonder om die individuele vryheid van beweeglikheid prys te gee.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vier in een Parkeerplek Toyota i-ROAD maak sy buiging in Genève