Toyota FT-86 Open-Konsepmodel by Geneefse Motorskou onthul

 

  • Toyota gaan FT-86 Open by Geneefse Motorskou onthul
  • Konsepmodel geskep om reaksie ten opsigte van die moontlike ontwikkeling van ’n kabriolet-weergawe van die 86-sportkoepee te meet
  • Sagtekap-ontwerp sorg dat 2+2-sitplekuitleg behoue bly en het die minste moontlike impak op bagasiebakruimte
  • Unieke kleurskema in Milaan geskep om dié stad se status as voorste wêreld-ontwerper te weerspieël

 

Toyota sal sy nuwe FT-86 Open-konsepmodel die eerste keer by die Geneefse Motorskou ten toon stel. Dié motor is spesifiek gebou om mense se reaksie vir die moontlike bekendstelling van ’n oopdak-weergawe van sy wêreld-erkende 86-sportkoepee te toets.

Die konsepmodel is ontwerp om die lewendige, uiters innemende en toeganklike verrigtings- en hanteringsvermoëns van die 86 met die bykomende aantrekking van oopdak-motorry te vermeng.

Sy buite-afmetings is dieselfde as dié van die koepee (4 240 mm lank, 1 750 mm breed en 1 270 mm hoog), terwyl die gewone model se vaste metaaldak deur ’n sagtekappie vervang word wat uit verskillende lae bestaan en ’n agtervenster van glas het. Die nuweling het dieselfde 2+2-sitplekuitleg aan die binnekant, terwyl die dak agter die agtersitplekke kan wegvou, wat die minste impak op die ruimte het wat vir bagasie beskikbaar is.

Die skoumotor het ’n spesiale kleurskema van suiwer wit en vlootblou wat deur Toyota Boshoku Milan Design (TBMD) ontwerp is om die gees en atmosfeer van Milaan, een van die wêreld se voorste sentra vir mode en ontwerp, vas te vang.

Die romp is spierwit en in teenstelling met die blou dak. Die wit geperforeerde leerbekleedsel wat aan die binnekant gebruik word, is in lae oor ’n vlootblou agtergrond met goue geelkleurige steke gestik terwyl goudkleurige matte ook gebruik word.

Die FT-86 Open gebruik dieselde platform en kragbron as die 86. Sy hartklop is ’n turbolose viersilinder-bokserenjin van 1 998 cc. Dié enjin is met Toyota se D-4S-tegnologie vir regstreekse inspuiting toegerus en sit laag in die motor, wat help om die motor se swaartekragmiddelpunt te verlaag, en lewer tot 100 perdekrag per liter. Die enjin dryf die agterwiele deur ’n sesgang-handratkas met kort ratkieriebewegings of ’n outomatiese sesgaang-transmissie aan. Laasgenoemde pronk met die wêreld se vinnigste pedaalwisseling – net twee tiendes van ’n sekonde.

Dieselfde MacPhersonstutvering voor en dubbele mikvering agter as wat in die 86 aangetref word, word  hier gebruik om ’n regstreekse stuurgevoel, blitsige reaksie en goeie beheer in die hand te werk. Die elektriese kragstuur het ’n vinnige ratverhouding van 13,1:1 wat by dié van renmodelle kan kers vashou, terwyl groot, lugverkoelde remskywe voor en agter vir skitterende pedaalgevoel ten gunste van fynproewer-motorbeheer sorg.

Toyota het talle gebiede uitgeken wat verdere ingenieursevaluering sal vereis om die uitwerking van die kabriolet-ontwerp op verrigting, rompstewigheid, balans, gewig en lugdinamiese eienskappe te bepaal. Die 86 is egter met eienskappe soos raamlose deure van meet af met ’n kabriolet-model in gedagte ontwerp, wat beteken die impak op die strukturele integriteit deur na ’n oopdak-model oor te skakel, behoort nie juis ’n probleem te wees nie. Doeltreffende maatreëls om rompstewigheid te behou, soos die gebruik van deurslotversterkings, word ondersoek.

Die 86 het ’n bykans volmaakte 53:47-gewigsverdeling tussen die voor- en agterkant, wat help om die volmaakte reaksie op selfs die kleinste stuur-, versneller- en reminsette te lewer, sowel as ’n lae swaartekragmiddelpunt van net 460 mm. Hoewel die gebruik van ’n sagtekap die swaartekragmiddelpunt waarskynlik nog laer sal maak, sal verdere ingenieursontleding gedoen moet word om dieselfs balans as in die koepee te bewerkstellig.

Die 86 laat die skaal op net 1 257kg kantel – danksy omvattende gewigsbesparende maatreëls, wat die motor ’n krag-tot-gewigverhouding van nagenoeg 117 kW per ton gee. Die ingenieursontwikkeling van die kabriolet om dit ’n “gewigsneutrale” naasbestaande van die koepee te maak, sal ’n kern-studiefokus wees as Toyota besluit om die projek verder te ontwikkel.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota FT-86 Open-Konsepmodel by Geneefse Motorskou onthul