Goeie buurmanskap kan help om eise teen die versekering te beperk!

Ons leef dikwels in ‘n gejaagde wêreld waar ons verby mekaar leef. Ek moet self skuldig pleit dat dit lank was voordat ek my buurman ontmoet het nadat ek in ‘n meenthuis my intrek geneem het. Vandag egter loer ons dikwels in by mekaar en kyk saam rugby en help mekaar waar moontlik.

In die verlede het mense, veral op die platteland, baie meer moeite gedoen om mekaar te leer ken en bystand te verleen in tye van krisis. Ons almal onthou geleethede soos by die afsterwe van ‘n ouer of geliefde waar die bure kos gebring het en hulp aangebied het.

Dit is jammer dat hierdie onderlinge oor-en-weer kuiers vir baie van ons in die stede huidig maar ‘n skaars gedoente blyk te wees. Dit is veral nou in tye van misdaad en geweld nodig dat ons nader aan mekaar moet leef! ‘n Ekstra paar oë kan ‘n waardevolle afskrikmiddel wees vir misdadigers.

Vertroue en vriendskap tussen bure het my ouers altyd toegelaat om die volgende te doen:

–          Bure op hoogte te hou van reisbeplanning en afwesigheid van die huis.

–          Gereeld met die bure te kommunikeer wanneer lank van die huis af weggebly word.

–          Bure te vra om ‘n ogie te hou oor die huis.

–          Te verseker dat enige dier wat agtergelaat word behoorlik gevoed is.

–          Soms in mekaar se afwesigheid sommer die posbus skoon te maak en ‘n sproeier oor die gras te hou in die warm somerdae.

–          ‘n Ekstra paar sleutels te hou by die bure en hul dan sommer toe te laat om deur die huis te gaan en te kyk of die alarm, yskas en elektrisiteit en allerlei skakels nog in orde is.

Hierdie goeie buurmanskap kon dan nie net vir voornemende misdadigers waarsku dat daar wel iemand by die huis teenwoordig is nie –maar ook in geval van nood kon hierdie gevare vinnig aangespreek word en die skade beperk word!

Moet nooit die waarde van goeie buurmanskap onderskat nie – jy mag dalk nie net ‘n beter vriend wees nie –maar ook ‘n paar Rand spaar!

Posted on by jonckie

Comments Off on Goeie buurmanskap kan help om eise teen die versekering te beperk!