Naamsa voertuigverkope vir Januarie dui op sterk verkope momentum

• Voertuigverkope oortref verwagtinge
• Toyota bly voorste voertuig-uitvoerder
• Hilux-verkope dryf LHV-markherlewing

Die Suid-Afrikaanse nuwevoertuigmark het selfs die mees optimistiese ontleders verras nadat die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) in Januarie verkope van altesaam 55 007 nuwe voertuie aangeteken het. Dit is 14,1% beter as dieselfde maand in 2012 en onthul dat die nuwe jaar sterk begin het.

Passasiersvoertuigverkope het met 12,3% teenoor Januarie 2012 gestyg, maar wat nog belangriker is, is die feit dat dit met 19,4% teenoor Desember-verkope gestyg het, terwyl verkope van ligte handelsvoertuie met 20% teenoor dieselfde maand verlede jaar gestyg het.

“Die mark het die versneller vanjaar gewis vroeg ingetrap, maar ek sal huiwer om nou reeds optimistiese voorspellings te waag voordat ons Februarie se verkope by die sommetjie kan voeg,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President: Verkope en Bemarking van Toyota Suid-Afrika Motors.

Hamman wys op die bekende gebruik van die oordrag van voertuigregistrasies van die voorafgaande vakansieseisoen na die nuwe jaar, wat Januarie-verkope beter maak as wat verwag is. Dit is in Januarie vererger deur onnatuurlike hoë verkope aan motorverhuringsmaatskappye. Nie minder nie as 8 821 eenhede (’n 52,6%-styging teenoor Januarie 2012) is ’n maand ná hul gewone piekseisoen aan motorverhuringsmaatskappye verkoop.

Daarbenewens het talle voertuigvervaardigers in Desember 2011 en Januarie 2012 – ná die oorstromings in Thailand, ’n belangrike verskaffingsbasis vir plaaslike vervaardigers – gesukkel om vervaardigings- en verkoopsbestellings te vul. Hierdie vorige daling in verkope sal enige vergelyking met dieselfde maande in 2012/2013 onnatuurlik hoog laat lyk.

“Verkope was in Januarie 2013 egter ten spyte van hierdie invloed baie goed. Al die belangrike marksegmente, wat passiersvoertuie, uitvoer (49,9% hoër), handelsvoertuie en handelaarsverkope insluit, was in Januarie baie positief,” sê Hamman.

Ander positiewe neigings sluit in handelsvoertuigbestellings en finansieringsaansoeke aan Toyota Finansiële Dienste.

Hino Suid-Afrika het sy teikens oorskry en sy Januarie-verkope met nie minder nie as 36,8% teenoor dieselfde maand verlede jaar verhoog.

“Hino se sterk verkope van swaar en ekstraswaar handelsvoertuie dui op voortdurende kapitale belegging en dek die tafel vir ’n positiewe jaar, hoewel teen ’n laer groeikoers as verlede jaar,” sê Hamman.

Skuif ’n mens van die korporatiewe aanwysers na private kopers, het Toyota Finansiële Dienste (TFS) 31,6% meer voertuigfinansieringsaansoeke in Januarie teenoor dieselfde maand verlede jaar en bykans 24% aansoeke meer teenoor Desember 2012 ontvang. Dit dui ook op ’n sterk onderliggende vraag na nuwe voertuie.

“Die bedryf het die gewoonte om verkoopsyfers vir Desember, Januarie en Februarie te kombineer en die gemiddelde te bereken om ’n beter aanduiding van die verkoopneigings vir die nuwe jaar te kry deur al die seisoenale onreëlmatighede uit te skakel,” sê Hamman.

“Nuwe modelle en ’n relatiewe lae rentekoersomgewing sal die mark ’n hupstoot gee, hoewel die koopbesluit ten gunste van kleiner voertuie en voertuie met kleiner enjins sal bly namate die neiging om kleiner passasiersvoertuie te koop, voortduur.

“Ons verwag op grond hiervan dat die mark in 2013 sal bly groei, hoewel die groei kleiner teenoor dié van 2012 sal wees.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Naamsa voertuigverkope vir Januarie dui op sterk verkope momentum