Toyota Suid-Afrika steeds markleier na 33 opeenvolgende jare!

Toyota Suid-Afrika Motors het in ’n ontspanne Desember die sleutels van nuwe rygoed aan 9 041 Toyota-klante oorhandig en sy 2012-verkoopsyfer op 121 276 afgesluit – bykans een uit elke vyf voertuie wat die afgelope jaar op plaaslike bodem verkoop is.

Toyota is ingevolge die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (NAAMSA) ook die 2012-markleier – ’n posisie wat die maatskappy al die afgelope 33 jaar beklee. Toyota het sy posisie as die grootste voertuiguitvoerder herbevestig deur 5 315 voertuie (26,9% van die algehele uitvoersyfer) in die kort Desember uit te voer.

“Ons 2012-verkoopsukses is midde plaaslike en internasionale beroering, ongekende mededinging en ’n stadiger ekonomiese groeitempo, bewys van die harde werk van ons meer as 8 500 personeel, ons network van verskaffers en komponentvervaardigers en ons sterk handelaarsnetwerk,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota SA Motors en ’n Bestuursamptenaar van die Toyota-Motorkorporasie.

Naamsa het vandag aangekondig dat 46 016 nuwe voertuie in Desember van die hand gesit is, wat effens (1,8%) beter as die ooreenstemmende maand in 2011 was, en was genoeg om die algehele 2012-verkoopsyfer tot 623 914 vir die jaar te lig. Dit is 9,2% beter as in 2011, wat beteken Suid-Afrika het sy derde agtereenvolgende jaar van bestendige groei beleef nadat verkope in 2007, 2008 en 2009 skerp gedaal het.

“Verlede jaar het selfs optimiste verras namate nuwevoertuigverkope weggebreek en onderliggende ekonomiese aanwysers oortref het. Die mark het ten spyte van effense trae ekonomiese groei en internasionale sosio-ekonomiese onsekerheid bly voortbeur.

“ ’n Sekere groeikoers is verwag namate mense na handelaarskape teruggekeer het om voertuie wat in die 2006-oplewing aangeskaf is, te begin vervang, maar dit is deur ongekende kleinhandelmededinging onder handelaars en selfs nog groter mededinging onder vervaardigers verhoog,” sê Dr. Van Zyl.

NAAMSA het Dr. Van Zyl se siening onlangs beklemtoon en gesê voertuigkopers kan nou uit 2 100 verskillende modelle uit die stal van meer as 60 voertuigfabrikate kies – iets wat bykans uniek aan Suid-Afrika is. Naamsa se verkoopsyfers dui ook daarop dat verkope van passasiersvoertuie in 2012 die hoogste was sedert voertuigverkope ’n hoogtepunt in 2006 bereik het.

Die plaaslike vraag na Toyota-gunstelinge soos die Etios (1 721 eenhede), Corolla (581 eenhede) en Fortuner (979 eenhede) het hoog gebly, maar dit was die Hilux (2 709 eenhede) wat weer Suid-Afrika se gewildste voertuig was.

Toyota se wêredklas-vervaardigingsaanleg in Prospecton in Durban, KwaZulu-Natal, het die Durbanse hawe ook goed besig gehou en 5 315 regter- en linkerstuur-modelle soos die Corolla, Fortuner en Hilux na bykans 60 bestemmings regoor die wêreld uitgevoer. Algehele voertuiguitvoer het in 2012 met 3,5% tot altesaam 269 461 voertuie gestyg, maar dit sal in 2013 aansienlik toeneem namate vervaardigers produksie van nuwe modelle begin verskerp.

“Voertuigproduksie sal in 2013 na verwagting styg namate vervaardigers produksie verhoog ten einde munt uit die Voertuigvervaardiging- en Ontwikkelingsprogram (APDP) te slaan,” sê Dr. Van Zyl.

Die APDP het op 1 Januarie 2013 in werking getree. Die uiteindelike doelwit daarvan is om voertuigvervaardigingsvermoë, wat komponent-vervaardiging insluit, teen 2020 tot 1,2 miljoen voertuie per jaar te verhoog.

“Ons verwag dat voertuigvervaardigers ’n rukkie sal neem om by die nuwe reëls in te val, maar ons glo nie dit sal voertuigverkope of beplande vervaardiging raak nie,” sê Dr Van Zyl.

“Ons verwag dat nuwemodelbekendstellings in afwagting op 2013 se Johannesburgse Internasionale Motorskou, tesame met voortgesette mededinging, groei verder sal aanvuur. Die groeitempo sal egter afneem aangesien dit teen ’n stewige 2012 vergelyk word, wat tot ’n verwagte enkelsyfer-groeikoers vir 2013 sal lei,” sê Dr. van Zyl.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Suid-Afrika steeds markleier na 33 opeenvolgende jare!