Ingeligte besluite oor versekering belangrik aan die begin van die jaar!!

Ons het allerlei voornemens so aan die begin van die jaar. Baie van hierdie voornemens en doelwitte gaan oor ons fisiese gesondheid en ons finansiële welstand. Die Desember vakansie is ‘n tyd wat ons dikwels oortree in beide hierdie areas. Ons eet en drink te veel en ons spandeer te veel geld op reis, verblyf en vermaak.

Dit gebeur dikwels dat ons hierdie tyd van die jaar ingrypende besluite neem om ons gesondheid en finansies te verbeter. Ons moet egter versigtig wees om nie enige advies oorhaastig te volg nie. Net soos met ons dieet moet ons ook seker maak dat ons finansiële besluite ingeligte besluite sal wees!

Versekering is ‘n area waar baie Suid-Afrikaners deeglik bewus gemaak word van moontlike besparings. Daar is ‘n magdom versekeraars met ‘n verskeidenheid produkte wat onder ons aandag gebring word deur advertensies op televisie, radio, die internet of selfs via sms.

Dit is egter baie belangrik – selfs al word ons aangeraai om veranderinge te maak met die druk van ‘n knoppie – dat ons ‘n rukkie langer spandeer te einde seker te maak dat ons korrek verseker is. Dit is uiters belangrik om bewus te wees dat prys nie net die enigste oorweging moet wees nie!

‘n Goeie voorbeeld is maar net om te kyk na die geweldige haelskade aan die Oos-Rand aan die einde van 2012. Baie motoreienaars het met skok verneem dat hul goedkoper motorversekering nie dekking teen haelskade gebied het nie!

Waarom juis nou jou versekeringspolis weer ontleed?

Dit is goeie advies om elke jaar weer noukeurig te let op jou versekeringsprofiel – en met die aanvang van die jaar is daar dikwels veranderende lewensomstandighede wat jou versekeringsbehoeftes mag beinvloed.

Buiten die ooglopende duurder kersgeskenke wat gespesifiseer moet word op die korttermynversekeringskontrak is daar ook veranderende lewensomstandighede. Dikwels is daar nuwe jonger bestuurders in die gesin of ‘n student wat vir die eerste keer die huis verlaat en hul voertuig gaan bestuur in ‘n nuwe area.

Dit is dus baie belangrik dat die versekeraar bewus gemaak word van alle nuwe inligting, ‘n nuwe kwotasie verkry word en sommer vergelykende kwotasies van ander versekeringsmaatskappye ook aangevra word.

Met GeselsVersekering sal ons graag in 2013 hulp verleen met navrae oor versekering en wenke verskaf te einde te verseker dat die regte versekering verkry word.

‘n Voorspoedige 2013 vir almal!

Posted on by jonckie

Comments Off on Ingeligte besluite oor versekering belangrik aan die begin van die jaar!!