Die Splinternuwe Toyota Auris – Maak gereed om in die kollig te wees

‘n Splinternuwe gees is besig om in Toyota onder die wakende oog van die maatskappy se charismatiese President en Uitvoerende Hoof, Akio Toyoda, pos te vat.

Toyoda, wat daarop uit is om motors te bou wat ’n meer lonende ry-ervaring gee, dog hul legendariese gehalte en betroubaarheid behou, streef daarna om bestuurders ’n meer innemende ervaring agter die stuur te bied. Hierdie vasberadenheid het reeds tot die briljante nuwe 86 gelei, waarna die ingenieurs die oog op Toyota se middelgrootte luikrug in die C-segment gefokus het. Die gevolg? Die betowerende, splinternuwe 2013-Auris, ’n motor wat jy ewe oortuigend met jou hart en jou verstand kan aanskaf.

Volgens Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking, het die nuwe Auris dramaties verander: “Die motor lyk nou baie skerper en staan meer uit. Hy is laer en het visueel ’n meer dinamiese houding, maar die hersiening is dieper as net onder die vel. Die hele pakket is ligter, die hantering en stuur is heerlik sappig danksy die veerstelsel en elektriese kragstuur wat verfyn is, en die motor voel in die algemeen ratser en lewendiger, maar ek is baie in my noppies dat ek kan sê hy ry nog skitterend – hy is selfs nog meer toegewend.”

Kyk hoe lyk hy!

Die Auris, wat van meet af ontwerp is om die voordele van sy minder gewig en laer swaartekragmiddelpunt te benut, het ’n splinternuwe buitekant met ’n sterker profiel wat van groter selfvertroue getuig. Die motor is 4 275mm lank, wat sy algehele lengte met net 30mm verleng het, hoewel sy asafstand van 2 600mm dieselfde bly, wat hom een van die mees kompakte motors in sy klas maak. Iets waarop ’n mens gerus kan let, is sy algehele hoogte van met 55mm verlaag is en hom een van die laagste voertuie in sy segment maak (sonder dat dit ’n invloed op die welstand van sy insittendes het).

Die nuwe Auris se voorkoms, wat Toyota se kontemporêre ontwerp-denkrigting stewig volg, pronk aan die voorkant met die nuwe “familie-gesig” met karakterlyne en fyn detail, soos die nuwe kopligte wat die motor se breedte en hurkende houding laag bokant die pad beklemtoon. Die motor hurk laer as sy voorganger, en sy ryhoogte is 10mm laer as dié van die vorige model.

Twee strileringseienskappe wat gerus genoem kan word, is die Under Priority-sierroosterontwerp en die Keen Look-wenkbrouvormige kopligte met ligdiode-dagligryligte. Die Under Priority-ontwerp van die sierrooster behels ’n groot, trapesiumvormige onderste deel wat tot in die voorste buffer strek, en die kleiner boonste gedeelte wat oor die hele breedte tussen die kopligte strek. Die lae, swiepende enjinkaplyn aan die onderkant, wat oorheers word deur ’n nuwe, groter Toyota-kenteken wat laer as dié van sy voorganger aangebring is, sit net bokant die boonste sierrooster met sy middelgemonteerde verchroomde dwarsbalkie wat op die oog af tot in die kopligsamestelle strek om die breedte van die voertuig te beklemtoon.

Die groot onderste sierrooster, wat ingeboude misligte met verchroomde omlystings aan weerskante het, voeg ’n klavierswart-afwerking saam met ’n swewende chroominsetsel by die onderste liplugskort, wat die breë houding van die nuwe Auris en sy stewige, viervoetige houding beklemtoon.

Die motor het van die kant gesien ook ’n sterker voorkoms, met ’n skuinser windskerm en die kantglas wat verder agtertoe verleng is. ’n Duidelike stygende heuplyn beklemtoon die motor se heupe. Die buite-truspieël is tot binne die vensterraam verskuif, terwyl die middelste en agterste pilare wat verswart is tesame met die skerper hoek van die agterpilaar, verdere visuele slaankrag lewer. Buiten die estetiese voordele bied die nuwe ontwerp aansienlike lugdinamiese voordele, wat in die geheel tot beter brandstofdoeltreffendheid en rybaarheid lei. Die sleursyfer is van 0,292 tot net 0,277 verlaag.

Soos reeds genoem is die nuwe Auris se ryhoogte 10mm laer, wat die gaping tussen die wielnisse en bande verklein en die wiele stywer in die romp laat pas, wat die nuwe voertuig se slanke en meer vaartbelynde voorkoms verder beklemtoon. Kopers kan tussen ’n nuwe 15”-wieldopontwerp vir die 1.3-weergawe of 16”-allooisierwiele vir die 1.6-modelle kies.

Die groter stertdeur wat wyer oopmaak, het ’n sterk, bolronde oppervlak. Dit word deur ’n ingeboude daklugskort afgerond en het ’n nuwe, omvoustertlig-ontwerp wat die vorm van die agterste drukvlerk sowel as die agtervenster verstewig. Dit versterk ook die skouer oor die agterste wielboog. Die nuwe buffer met ingeboude flikkerligte op die uithoeke beklemtoon die nuweling se breë, bestendige en sportiewe houding aan die agterkant.

Sit regop en neem kennis

Die binneruim, wat meer ruimte en groter gemak vir die insittendes bied, se décor pronk met verbeterde gevoelsgehalte en ’n groter eenheidsin vir ’n meer geïntegreerde gevoel aan die hand van bestendige vorms, kleur, beligting en afwerking.

Die voorpaneel kombineer ’n sterk, horisontale ontwerplyn om die breedte en ruimte van die voorste kajuit te beklemtoon, met ’n meer ergonomiese, bestuurder-geöriënteerde uitleg van die instrumente en skakelaars.

’n Helder, eenvoudige twee- of drie-meter-ontwerp in die instrumentehuisie pronk met wit naalde en syferwerk. Al die skakelaars gebruik dieselfde lettertipe as dié van die instrumentehuisie en die middelkonsole, wat ’n weelderige voorkoms en deurlopende visuele bestendigheid verleen. Die meters se omslystings, wat ’n sterk gevoel van visuele koördinasie na die nuwe binneruim bring, is net soos die middeltoring, die afwerking van die transmissietonnel, die lugversorging- en klankkontroles en die deurhandvatsels alles in ’n bypassende, hoëgehalte-silwersatynafwerking afgerond.

Die luguitlate, die beheerpaneel vir die klankstelsel, die transmissietonnel en die stuurwiel het alles ’n silwerverf-afwerking. Die voorpaneel van die hoërgraad-modelle is in egte leer met dubbele stikwerk afgerond.

Die boonste oppervlak van die voorpaneel en skouer van die deurbeslag is in sagte materiale afgewerk, terwyl die kajuitpilare met doekstof bedek is. Die ratkierieknop met sy nuwe ontwerp en die stuurwiel self is in die beste gehalte Nappa-leer met enkelry-stikwerk afgerond. Die binnehandvatsels en deurhandvatsels is met ’n sagte tekstuur afgerond, terwyl die deure se armleunings dikker opgestop is.

Die nuutontwikkelde sitplekke kan verder skuif en hoër gestel word, en sorg vir uitstekende gemak. Die sitplekhoogte is met 40mm verminder, terwyl die stuurkolom se kantelhoek met twee grade verlaag is, wat ’n meer betrokke bestuursposisie skep. ’n Nuutontwikkelde sportsitplek bied selfs nog meer sydelingse steun danksy hoëropgestopte dysteunsegmente vir die XS- en XR-weergawes.

Die nuwe voorsitplekontwerp verleng die agterste knieruimte met 20mm, terwyl die agterdeur groter oopmaak. Die laairuim is 50mm langer en die stertdeur maak nou 90mm groter oop. Die Auris, wat die bykomende veelsydigheid van ’n dubbeldoel-laairuim en 60:40-verdeelbare agtersitplekke het, bied nou 360 liter se vragruim teenoor die 283 liter van die vorige model.

Die praktiese bruikbaarheid van die nuwe Auris se binneruim word deur funksionele eienskappe en ruimskootse bergplek bevorder. Dit behels ’n paneelkissie, sonbrilhouer, klerehake, munthouer, vier beker- en vier bottelhouers, ’n skuifbare armleuning in die middelkonsole met ’n dokumenthouer, talle bergruimtetjies in die voorpaneel en agterste middelkonsole vir snuisterye, drie bykomende 12-Volt-kragsokke en ’n hulpsok vir eksterne toerusting, ’n verwyderbare pakkierakkie, bagasieruimhake en dubbelvlak-bagasieruimdek.

Die intreevlak-1.3 X- en 1.6 Xi-modelle is goed toegerus. Dié modelle se standaard-toerusting is kleurgepaste deurhandvatsels en buite-truspieëls, afstand beheerde sentrale sluiting, lugversorging, klankstelsel met CD-speler en vier luidsprekers en stuurwielkontroles, USB/iPod-verbinding, elektriese vensters voor en agter, elektries verstelbare buite-truspieëls sowel as ’n leerbedekte stuurwiel en ratkierieknop, om maar net ’n paar van die grootste hoogtepunte te noem. Die 1.3 X het 15”-staalwiele (met lugdinamiese wieldoppe) terwyl die 1.6 Xi met 16”-allooisierwiele toegerus is.

Die beter toegeruste 1.6 XS-weergawe het allerlei bykomstighede soos die klankstelsel-vertoonskerm met truratkamera, ses luidsprekers, sportsitplekke voor, misligte en Bluetooth.

Die vlagskip-XR het buiten die standaard-toerusting ook leerbekleedsel regdeur, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, verhitte sitplekke voor, laerugsteun, outomatiese kopligte, elektrochromatiese binne-truspieël, sleutellose toegang en aansitterknop.

Die nuwe Auris is in ses kleure beskikbaar, wat twee nuwe skakerings insluit – Avant-garde Bronze Metallic en ’n lewendige oranje wat Inferno Metallic genoem word.

n Wye reeks enjins beskikbaar

Die kragbron-reeks speel ’n deurslaggewende rol in die meer sportiewe rigting wat die nuwe Auris inslaan. Die behels nou ’n keuse van topenjins in hul klas, waaronder twee petrol-weergawes met die verrigtings- en ekonomiese voordele van Toyota Optimal Drive, tesame met die hibriedweergawe, wat uniek in sy klas is en ’n lewensvatbare proposisie word deurdat dit binne die bereik van die grootste moontlike gehoor is. (Neem asseblief kennis dat die Auris HSD-modelle eers in Februarie 2013 bekend gestel sal word.)

Toyota Optimal Drive

Toyota Optimal Drive is ’n kombinasie van verreikende gevorderde tegnologie en interne verbeteringsprogramme wat ontwerp is om die verrigtingsbalans en rygenot met brandstofekonomie en min uitlaatgasse te balanseer.

Hierdie uiteenlopende tegnologie fokus op vier kernaspekte van kragbronontwikkeling:

Eerstens, ’n ligter enjin deur gewig te verminder deur super-ligte en hoogs kompakte enjinkomponente en transmissies regdeur die nuwe Auris-enjinreeks in te span.

Tweedens, die beperking van meganiese verlies tot die absolute minimum deur die gebruik van Valvematic – ’n verdere ontwikkeling van VVT-i – in die 1.6-petrolenjin, nuwe rollertuimelaartegnologie en kleiner en ligter suiers in al twee petrolenjins, olie met ’n laer vloeitraagheid, en 6-gang-handratkaste regdeur die nuwe Auris-reeks.

Derdens word die ontbrandingsdoeltreffendheid in die nuwe Auris-enjinreeks vervolmaak deur die gebruik van hoë drukverhoudings van 11,5:1, Valvematic, die verfyning van die inlaatpoort- en ontbrandingskamer-ontwerp, en suierverkoeling deur olie-inspuiting.

Vierdens verminder ’n nuwe laaibeheerstelsel die alternator se kragopweklading op die enjin in die ry, wat brandstofdoeltreffendheid verbeter. Die stelsel beheer die hoeveelheid krag wat deur die alternator na gelang van die heersende bestuurstoestande opgewek word. Wanneer die bestuurder die voet lig, verhoog die stelsel die stroomspanning in die kragopwekkingsiklus om die battery beter te laai, terwyl die stroomspanning op alle ander tye verlaag word. Die gevolg is dat die algehele enjinlading wat deur kragopwekking veroorsaak word, verminder word, wat brandstofverbruik verbeter.

Dubbele VVT-i-petrolenjin van 1,33 liter

Die wegspringpunt in die Auris-reeks is die 1,3-liter-petrolenjin wat met dubbele intelligente veranderlike kleptydbeheer (VVT-i) toegerus is, en ’n hoë drukverhouding van 11,5:1 het, wat die hittedoeltreffendheid van die enjin verhoog. Dié enjin lewer 73 kW en ontwikkel sy maksimum-wringkrag van 128 Nm teen 3 800 r/min.

Hierdie skitterende dinamiese verrigting word met ’n gemiddelde brandstofverbruik van 5,8 ℓ/100km en 134 g/km se CO2-uitlaatgasse gekombineer – ’n 3%- en 4%-verbetering teenoor dié van die vorige model.

Die klein boor en lang slag van dié eenheid, wat sy bestaan aan Toyota se uitgebreide motorsport-ervaring te danke het, is ontsettend lig en kompak, wat die voertuig se krag-tot-gewig-verhouding verbeter. Die enjin het ’n hars-tipe silinderkopdeksel en inlaatspruitstuk, en die inlaatpoort se binnekant is glad gemaak om lugvloei ten gunste van beter ontbrandingsdoeltreffendheid te vervolmaak.

Dubbele VVT-i help om die enjinreaksie regdeur die hele toerestrek te verbeter deur die inlaat- en uitlaat-kleptydreëling van die lugvloei en brandstof-toevoer te eniger tyd by die heersende toestande te laat aanpas. Die stelsel verbeter nie net wrinkrag teen lae en medium enjinselhede nie, maar verminder ook uitlaatgasse en verbeter brandstofdoeltreffendheid.

Valvematic-petrolenjin van 1,6 liter

Valvematic, wat die beste doeltreffendheid, krag en wringkrag in sy klas bied, is nog ’n ontwikkeling van Toyota se uiters suksesvolle dubbele intelligente veranderlike kleptydbeheer-stelsel (Dual VVT-i).

Valvematic neem die VVT-i-tegnologie ’n stappie verder deur kleplig- en -tydbeheer by die veranderlike tydreëling van die inlaatklep te voeg. Dit verbeter die inlaatlugvloei-volume en spoedbeheer – en sodoende ook die beheer van die ontbrandingsproses – om meer krag vir minder brandstofverbruik met minder CO2-uitlaatgasse te lewer. Die gebruik van Valvematic verminder ook wrywings- en pompverlies onder ligte enjinladings, wat brandstofverbruik verder verminder.

Valvematic-doeltrefendheid word verder deur die gebruik van ’n inlaatspruitstuk waarvan die lengte verander kan word, verbeter. Dit dien as ’n versneller teen lae enjinsnelhede, wat die inlaatlugspoed vir die beste moontlike ontbrandingsdoeltreffendheid bevorder.  Die spruitstuk is teen hoër enjinsnelhede heeltemal oop, wat die lug kortpad laat kies en meer lug na die ontbrandingskamer stuur, wat kraglewering verhoog.

Die 1,6-liter-Valvematic-enjin, wat met ’n 6-gang-handratkas of die Multidrive S-palwisseltransmissie beskikbaar is, skop 97 kW uit en ontwikkel 160 Nm se wringkrag teen net 4,400 r/min.

Die enjin het in samewerking met die handratkas ’n brandstofverbruik van 6,2ℓ/100km in die gekombineerde siklus, en stel net 145g/km se CO2-uitlaatgasse vry – onderskeidelik 11% en 14% minder. Die Multidrive S-transmissie verminder brandstofverbruik en uitlaatgasse tot 6,1 ℓ/100 km en 143 g/km onderskeidelik.

 

Multidrive S-palwissel-transmissie

Die Multidrive S-palwisseltransmissie wat nou vir die 1.6 Valvematic-petrolenjin in die nuwe Auris beskikbaar is, is ’n palwissel-transmissie (CVT) met ’n heeltemal outomatiese en naatlose ratwisseling, of ’n sekwensiële trapsgewyse 7-gang-Sport-werking. Hierdie ratkas, wat ’n evolusie-weergawe van die eerste stelsel in die oorspronklike Verso is, sorg vir die ‘natuurlikste’ en rybaarste ervaring wat ’n palwissel-transmissie kan bied.

Die stelsel is in outomatiese modus vervolmaak om stil en ekonomies te werk, en pas die transmissie te alle tye perfek by die enjin aan deur die hoek van die versnellerpedaal, die voertuig se spoed en die remkrag voortdurend te monitor. Die stelsel het ook ’n Sport-modus wat vir lewendiger reaksie en meer regstreekse enjinbeheer ingestel is, terwyl die trapsgewyse transmissieposisie met die rathefboom gekies kan word.

Let op hoe hy ry

Toyota het die insette op die gebied van rydinamika in die nuwe Auris verhoog deur gewig te verminder en die swaartekragmiddelpunt te verlaag, terwyl rompstewigheid terselfdertyd aansienlik versterk is. Hoewel die basiese vering-uitleg onveranderd bly, is die voorste en agterste stelsels nogtans hersien om ’n beter balans tussen bestuurderterugvoer, lewendige reaksie en ritgemak te bied. Die elektriese kragstuur is ook verbeter en het ’n vinniger stuurverhouding – ’n kernelement wat die bestuurder ’n meer betrokke ervaring gee.

Laer, ligter en stewiger

Die algehele hoogte, wat met 55mm verminder is, kom op 1 460mm te staan en maak die nuwe Auris een van die laagste motors in die C-segment. Die omvattende gebruik van hoësterkte staal in die rompsamestelling – veral die boonste deel – het gehelp om die algehele gewig van die nuwe Auris gemiddeld met tot 50kg te verminder, terwyl dit ook ’n bydrae tot die laer swaartekragmiddelpunt gelewer het. Daarbenewens het die gebruik van hoësterktestaal dit moontlik gemaak om die stertdeuropening ten volle te benut. Dit het gehelp om die romp stewiger te maak, wat verder deur die gebruik van nuwe steunpunte en versterkings aan die onderkant van die romp en aan die voor- en agterkant van die struktuur versterk is.

Laer swaartekragmiddelpunt

Die nuwe Auris, wat ligter en sterker materiale vir die boonste deel van die rompstruktuur inspan en munt slaan uit die bestuurdersposisie wat 40mm laer is, het ’n swaartekragmiddelpunt wat aansienlik laer as dié van die eerste weergawe is. Dit is ’n deurslaggewende element vir hantering, hoëspoed-stabiliteit en ritgemak.

’n Motor met ’n laer swaartekragmiddelpunt is minder aan romprol blootgestel. Die nuwe Auris se minder romprol beteken die ingenieurs kon meer van die vering-gedrag op ritgemak en dinamiese verrigting fokus, pleks daarvan om negatiewe rompbewegings reg te stel.

Hersiene vering vir beter ritgemak

Die grootste verandering in die benadering tot die voertuig se argitektuur het die ingenieurs gehelp om die verskillende elemente van die onderstel te heroorweeg.

Talle komponente van die voorste MacPherson-stuttipe vering is hersien, wat die ontwerp van die boonste hegpunt, veerstopper, kronkelveer en skokbreker insluit. Die veertempo is verminder en die skokbrekers verfyn om groter ritgemak met beter hantering te bewerkstellig.

’n Nuwe steunpunt vir die voorvering is ontwikkel om hoëfrekwensie-vibrasies en padgeraas te verminder, terwyl ’n nuwe veerstopper van poli-uretaan rompbeheer en ritgemak verbeter. Die wringstaaf-stelsel aan die agterkant is hersien en het nou ten volle ontwikkelde sleeparmbus-eienskappe en – net soos in die geval van die voorvering – nuut-ontwikkelde kronkelvere en skokbrekers met ’n kleiner veertempo en beter dempwerking. Hierdie maatreëls werk alles saam om die ritgemak, stabiliteit en hantering aansienlik te verbeter.

Verbeterde elektriese kragstuur (EPS)

Die stuur moes by die beter verrigting van die nuwe platform aangepas word om bestendigheid te behou. Beter beheer van rompbewegings het die ingenieurs in staat gestel om ’n meer regstreekse stuurverhouding (14,8 pleks van 16,0) te gebruik – ’n deurslaggewende faktor om presisie te verbeter en ’n meer innemende ryervaring te bied. Die stuurkolom het terselfdertyd munt uit strukturele veranderings geslaan, wat vibrasie tot die minste beperk en ’n meer lineêre stuurgevoel bied.

Die nuwe EPS-beheerlogika onderdruk stuurkragwisselings wat deur ongelykhede op die padoppervlak veroorsaak word, en gee die bestuurder beter stuurbeheer. Die stuurbeheereenheid beheer ook die hoeveelheid selfbelyningswringkrag ingevolge die voertuigspoed, en sorg vir meer verfynde stuurwerking.

Verbeterde NVH-maatreëls

Omvattende verbeterings aan die nuwe Auris se NVH-maatreëls (geraas, vibrasie en grofheid) verseker dat hierdie nuwe Toyota nie net ’n geriefliker rit bied nie, maar ook merkbaar stiller is. Uitgebreide klankdemping in die enjinkompartement, voorste wielnisse en voorpaneel het enjin- sowel as padgeraas in die kajuit aansienlik verminder.

Die oordrag van enjingeraas na die kajuit is deur die gebruik van dempingsmateriaal aan die enjinkap en tussenkap sowel as ’n klankdemper aan die buitekant van die voorpaneel tot die minimum beperk.

Padgeraas word deur die toevoeging van klankdempingsmateriaal in die wielnisse opgeslurp, terwyl dikker en groter dempmetariaal op die vloeroppervlak gebruik word. Die binnedringing van geraas in die kajuit word verder deur die gebruik van wielnis-kantstroke en syskermstroke verminder.

 

Veiligheidskennisgewing

Die nuwe Auris behou Toyota se hoë standaard vir aktiewe en passiewe veiligheid, en is daarop uit om vyf sterre in die 2013-Euro NCAP-botstoetsgradering te verkry. Voetganger-impakverrigting het ten spyte van die feit dat die voorste enjinkaplyn heelwat laer is, nie in die slag gebly nie, en ’n verskeidenheid energie-absorberende komponente, waaronder die buffersteunpunte en onderste pan, help om botsenergie te beperk.

Al die modelle in die Auris-reeks is toegerus met ABS, EBD en Remhulp. Daarbenewens het al die modelle lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, sowel as kantlugsakke voor. Die XR-modelle kry gordynskild-lugsakke sowel as ’n knielugsak vir die bestuurder.

Neem kennis

Die nuwe Auris, met ’n wegspringprys onder R200 000, word die mees bekostigbare intreevlak-model in die uiters mededingende C-segment. Soos Crompton dit stel: “Die kwistige toerusting tesame met die dinamiese gekunsteldheid en bekostigbare prys beteken dat Toyota se vlagskip-luikrugreeks gewis enige verstandige verbruiker se inkopielys sal haal.”

 

1.3 X – R195 000 (BTW ingesluit)

1.6 Xi – R217 500

1.6 XS – R228 600

1.6 XR – R253 200

1.6 XR CVT – R265 600

Die nuwe Auris word deur ’n drie jaar/100 000km-waarborg bevoordeel. Al die Auris-modelle het ’n vyf jaar/90 000km-diensplan. Die nuwe modelle word ook deur die ToyotaCare-padbystandsdiens gedek, wat 24 uur se padhulp aan klante bied om algehele gemoedsrus te help verseker.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Die Splinternuwe Toyota Auris – Maak gereed om in die kollig te wees