Verkope van nuwe voertuie bly op koers in November

Verkope van nuwe voertuie het in November ná ’n lewendige Oktober ietwat verslap en op altesaam 53 134 nuwe voertuie te staan gekom. Dit is 8,1% laer as die baie sterk vorige maand, maar is steeds beduidend beter (7,3%) as die ooreenstemmende maand in 2011.
“Die kern-markaanwysers is nog in November teenwoordig,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota SA Motors. “Inflasie het opwaarts begin neig, maar rentoekoerse bly op ’n geskiedkundige laagtepunt. Dit word verder deur groot mededinging tussen handelaars en voertuigfabrikate ondersteun, sowel as die feit dat baie kopers na die mark terugker om voertuie wat hulle in die sterk verkoopstydperk van 2005 tot 2008 aangeskaf het, te vervang.”
Hierdie sienings word beklemtoon deur syfers van Toyota Finansiële Dienste (TFS). Toyota-voertuie wat deur TFS gefinansier is, het met 13,34% teenoor November 2011 en ’n indrukwekkende 21,88% teenoor dieselfde maand in 2010 gestyg, wat duidelik daarop dui dat voormalige kopers na die mark terugkeer.
Toyota het sy posisie as algehele markleier behou nadat hy in November 11 240 nuwe voertuie van die hand gesit het. Hierdie verkoopsyfers stoot die maatskappy se markaandeel tot die tweede hoogste syfer vir die jaar (21,2%). Toyota het ook sy posisie as vooraanstaande voertuiguitvoerder in Suid-Afrika behou nadat 7 603 plaaslik vervaardigde Toyota-voertuie deur Durban se hawe na bestemmings regoor die wêreld uitgevoer is.
“Die mark bly op pad na ’n syfer van tussen 622 000 en 628 000 voertuie vir die hele jaar,” sê Dr. Van Zyl. “Dit is heeltemal in pas met die algehele markverwagting en stel ’n hoë teiken vir 2013. Ons glo die mark sal in die nuwe jaar soortgelyk bly namate groei afneem.”
Verkope van medium en ekstraswaar handelsvoertuie het in dié deel van die mark met 7% en 7,8% onderskeidelik gestyg, terwyl die afdeling vir ligte handelsvoertuie effens afgeneem het.
Die swaarhandelsvoertuigmark, wat as persentasie van die handelsvoertuigmark uitgedruk word, gee steeds die pas in dié deel van die voertuigmark aan met ’n groeisyfer wat met 14,5% gestyg het.
Toyota is ook nog stewig op die spoor om die 33e agtereenvolgende jaar as die Suid-Afrikaanse markleier aangewys te word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Verkope van nuwe voertuie bly op koers in November