Toyota maak sy merk op die Suid-Afrikaanse Zeitgeist

Dit was die jaar van die iPad 3, Lady Gaga, Gangnam Style, Caster Semenya, die Toyota 86 en die Toyota Etios.

Dít is volgens die internet-soekenjinreus Google, wat onlangs sy Zeitgeist 2012, ’n oorsig van die gewildste soekwoorde ter wêreld en in spesifieke lande, gepubliseer het. Die maatskappy het in die samestelling van die lys meer as ’n triljoen soeknavrae ontvang, dit van gemorspos filtreer en in ’n fieterjasievrye lys van die gewildste onderwerpe op die net opgeneem.

Suid-Afrika se gewildste motorverwante soek-onderwerp vir 2012 het twee van die land se nuwe voertuie wat die grootste besprekingspunt was, weerspieël. En ten spyte van die feit dat die nuwe 86 eers in die tweede helfte van die jaar bekend gestel is, het dié nuwe Toyota-sportmotor bo-aan die soeklys vir die jaar gestaan.

“Die 86 verpersoonlik ons nuweproduk-denkrigting,” sê Glenn Crompton, Vise-President vir Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.

“Die 86 is ’n fynproewer-sportmotor wat die entoesiastiese bestuurder beloon en terselfdertyd van die beste waarde vir geld op die mark bied. Ons doen alles moontlik om die waglys te verkort, maar die 86 bly in groot aanvraag regoor die wêreld.”

Dit is egter nie net die publiek wat belangstelling in die 86 toon nie. Die motor is ook as een van die 2013-Wesbank/SA Gilde van Motorjoernaliste se Motor van die Jaar-finaliste gekies en is onlangs as die Australiese- en Top Gear-Motor van die Jaar aangewys.

Nog ’n motor wat amper net so gewild was, maar ’n heel ander deel van die mark bereik het, was die Toyota Etios. Dié begrotingsbuksie- en -sedankombinasie is die eerste in sy klas wat ’n lewendige 1,5-liter-petrolenjin aan ’n diensplan en die beste bergruimte in sy klas aan ’n baie bekostigbare prys gekoppel het.

“Al twee dié voertuie is uiters belangrike modelle vir Toyota Suid-Afrika,” sê Crompton. “Ons het die sportmotormark ná ’n afwesigheid van baie jare met die 86 betree, en het daardeur bewys die wag was gewis die moeite werd. Die Etios vul op sy beurt die gaping wat deur Suid-Afrika se voormalige gunsteling, die Toyota Tazz, gelaat is. Die motor het hom reeds as geestelike opvolger van die Tazz bewys met verkope van oor die 2 000 voertuie per maand.”

Google se Zeitgeist-verslag (wat tydsgees beteken) herinner sy gebruikers aan die interessantste, gewildste en mees omstrede onderwerpe van ’n omstrede 2012. Onderwerpe soos die orkaan Sandy, Lance Armstrong, die Olimpiese Spele en Chad le Clos herinner die leser aan dít wat Suid-Afrikaners die afgelope jaar aan die gons gesit het. Nog inligting oor hierdie interessante verslag is beskikbaar by
http://www.google.com/zeitgeist/2012/#south-africa/ 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota maak sy merk op die Suid-Afrikaanse Zeitgeist