Padveiligheid met ‘n glimlag hierdie Feesgety

Die Arrive Alive webwerf wil graag vir alle motoriste ‘n veilige feesgety toewens! Ons wil graag hierdie feestyd die baie ernstige boodskap van padveiligheid kombineer met ‘n paar sketse wat ook ‘n glimlag kan bring vir die Suid-Afrkaanse motoris!

Ons deel graag die volgende wenke vir veiligheid op die pad!

Beplanning van Roetes en Padreëls

Gehoorsaam die Padreëls en dra altyd jou bestuurslisensie by jou.

Beplan die roete na jou bestemming en gee jouself genoeg tyd om jou bestemmming te bereik.

Gebruik ‘n goeie GPS navigasie toestel of ‘n padkaart ten einde jou roete akkuraat te beplan.

Vir gemoedsrus volg liefs die hoofpaaie en tolpaaie – indien jy wel die minder bekende paaie gaan volg maak seker dat jy bewus is van die afstand tussen dorpe.

Moenie sonder brandstof gaan staan nie – beplan vooruit waar jy brandstof gaan ingooi.

Beplan waar jy gaan stop vir ‘n ruskans – indien jy met kinders reis is dit ‘n goeie idee om hul mee te deel waar jy gaan stilhou en vir hoe lank.

Verwittig ‘n vriend of familielid wat nie saamreis nie watter roete jy gaan volg. Dit is raadsaam om hom of haar op hoogte te hou van jou vordering en wanneer jy jou bestemming bereik.

Probeer om bestuur in die nag te vermy.

Aanvaar dat nie alle bestuurders so wetsgehoorsaam soos jy mag wees nie.

Voertuig padwaardigheid

Maak seker dat die voertuig ten volle padwaardig is voor jy vertrek.

Alle ligte, rigtingaanwysers, remme, stuur, uitlaatstelsels, bande, olie en water moet vooraf nagegaan word vir foute en herstel of opgevul word indien nodig.

Maak seker dat jou nood toerusting soos domkrag, moersleutel, waarskuwings-driehoek en spaarband in ‘n werkende en goeie toestand is voordat jy vertrek. Maak ook seker jy weet hoe om dit te gebruik.

Neem jou voertuig vir ‘n behoorlike meganiese ondersoek ‘n tydperk voor jou vertrekdatum sodat jy genoegsaam tyd het om enige reperasies te doen.

Gaan jou skokbrekers behoorlik na voor die vertrek.

Moet nie jou voertuig oorlaai nie!

Bestuurder en bestuursvaardigheid

Rus behoorlik voordat jy vertek.

Neem ‘n ruskansie ongeveer elke 2 ure of 200km.

Moenie drink en bestuur nie – indien jy beplan om wel alkoholiese drankies te geniet, reël vir alternatiewe vervoer sodat jy nie agter die stuurwiel hoef te wees nie!

Wees bedag agter die stuur en vermy goeters wat jou aandag kan aftrek soos gesprekke op die selfoon, teksboodskappe ens.

Wees verantwoordelik ten opsigte van veiligheidsgordels – dra altyd jou veiligheidsgordel en maak seker dat passasiers behoorlik vasgegordel is.

Volgens wet is dit die bestuurder se verantwoordelikheid om seker te maak dat almal vasgegordel is! Dit is ‘n misdaad om nie seker te maak dat ‘n kind onder 14 jaar vasgegordel is of in ‘n veiligheidstoel sit waar die voertuig so ‘n veiligheidsstoel het.

Kleuters en kinders onder 12 jaar oud moet liefs op die agtersitplek vasgegordel wees of in ‘n veiligheidsstoel vasgegordel wees.

Babas onder een jaar oud of onder 10kg moet liefs in ‘n veiligheidsstoel op die agtersitplek vasgegordel wees in die tru-posisie.

Verdedigende Bestuur

Bestuur verdedigend! Kansvatters is ongelukmakers!

Wees sigbaar – bestuur met jou ligte aan!

Hoofligte moet gedomp word voordat dit die sig van aankomende verkeer kan belemmer.

Bly te alle tye binne die spoedgrens!

Wees veral versigtig wanneer jy kruisings en treinoorgange nader.

Gaan slegs verby wanneer dit heeltemal veilig is!

Volg ten minste ‘n 2 sekondes volgafstand – en dit moet vermeerder word indien jy saans, in reën,  mistige of minder sigbare toestande en op enige nat  oppervlakke bestuur.

Vermy dit om in die blindekol van ‘n ander voertuig te bestuur.

Wees bedagsaam teenoor ander padverbuikers  – hou jou humeur in toom en moenie sommer aggressief reageer nie.

Wees versigtig wanneer jy alleen bestuur en vermy om te stop in afgeleë plekke.

Wees versigtig vir gevaarlike plekke waar skaking en slaan-en-gryp misdade moontlik mag voorkom.

Plaas waardevolle items veilig weggepak in die bagasieruim en sorg dat items soos selfone, handsakke en beursies uit die sig van verbygangers is.

Erkenning van die Veiligheid van ander Padverbruikers

Probeer potensieël gevaarlike motoriste en voetgangers identifiseer en probeer veilig buite hul bereik bestuur.

Hou kinders weg van die padoppervlak – Dit is nie die plek om te speel nie!

Waneer jy in die verkeer moet stap – vermy goeters wat jou aandag aftrek en wees sigbaar vir motoriste!

Motoriste moed bedag wees op voetgangers en diere langs die padoppervlak, veral by die meer informele woonbuurte.

Motorfietsryers moet bestuur met die ligte aan en met sigbare en beskermende kleredrag.

Motorfietsryers moet veral versigtig wees vir die blindekol agter vragmotors of “No-Zone”.

Wees veral versigtig en gee aandag aan die rigtingwysers en remligte van ander voertuie.

Waneer jy fietsry die vakansie onthou dat daar krag en sigbaarheid te vind is in getalle.

Moenie alleen op die pad gaan nie en kry liefs ‘n mederyer – dit is veral waardevol in die geval van nood.

Hou familie of vriende ingelig van jou roete en wanneer jy behoort terug te wees of jou bestemming behoort te bereik.

Hou altyd ‘n gelaaide selfoon byderhand ten einde hulp te verky in nood.

Die padreëls vereis dat jy in enkel gelid ry en met ‘n veiligheidshelm.

Veilige Bestuur in Moeilike Omstandighede

Pas jou bestuur aan by die bestuurs- en weersomstandighede.

Indien dit reën – skakel dadelik jou ligte en ruitveers aan. Vermeerder jou volgafstand en probeer om spoed te verminder en nie te skielik te rem nie. Daar mag olie en brandstof op die pad wees wat kan meebring dat jou voertuig gly.

Indien daar mis is – verminder jou spoed, vermeerder jou volgafstand,  gebruik jou ligte op domp en gebruik jou misligte. Gebruik die padmerkers en kant van die pad as ‘n gids en wees baie versigtig vir skielike blokkades in die pad.

Neem altyd in ag – indien jy nie kan sien en die voertuig veilig bestuur nie – mag jy nie bestuur nie!

Reis met kinders is altyd ‘n uitdaging. Hul word maklik verveeld – maak dus seker dat daar iets is om hul besig te hou of om aan te peusel.

Indien kinders maklik “motor-siek” word sal dit help om gereeld te stop en vars lug in te neem. Maak ook seker dat die regte medikasie byderhand is voor jy vertrek.

Noodsituasies en Ongelukke

Probeer om stilhou op en langs die hoofweg te voorkom – neem liewer ‘n afrit en stop in ‘n publieke area. Hou noodnommers byderhand en nommers wat jy moontlik mag skakel vir padbystand.

Hou noodsaaklike toerusting vir padbystand byderhand – noodhulpkassie, ‘n tou vir trek van voertuig, waarskuwings-driehoek, flits en moontlik ‘n brandblusser.

In die geval van ‘n ongeluk – stel dadelik vas wat die skade of besering mag wees en of mediese bystand verlang word.

Neem fotos met jou selfoon van die toneel en skade  – dit mag waardevol wees by die aanmeld van die ongeluk. Verskaf besonderhede soos name, adresbesonderhede, ID nommers en kontaknommers van bestuurders.

Deel gerus hierdie besonderhede met vriende en familie en geniet ‘n veilige Feesgety!

[Advies van www.arrivealive.co.za]

 

Wat doen ek in geval van Nood?

Ken die Noodnommers

Polisie: 10111

Ambulans: 10177

Nood:  112

ER24: 084 124

Netcare: 082 911

 

Waar Rapporteer ek Roekelose Bestuur?

Nasional Inbelsentrum:         0861 400 800

Wees behulpsaam in geval van nood deur:

  • Te verseker dat nooddienste die regte inligting verkry – akkurate adresbesonderhede en inligting oor die aard van die noodsituasie is uiters belangrik.
  • Landmerke is waardevol waar geen straatname bestaan nie – besluit saam op ‘n ontmoetingspunt of landmerk waarheen gehaas moet word.
  • Gee aan noodvoertuie die reg van weg deur veilig uit die pad te beweeg.
  • Gee aan nooddienste toegang en ruimte tot die pasient.
  • Ontmoet die nooddienste of maak seker dat toegangsbeheer by sekuriteitskomplekse weet van die naderende noodvoertuie en situasie.
  • Skakel snags die ligte aan in die area waar noodbystand verlang word.
  • Verwyder blokkasies en maak seker dat gevaarlike diere toegesluit is.

• Hulp is byderhand!

Padveiligheidswenke op jou selfoon – www.arrivealive.mobi

[Sketse deur ons vriend Fred Mouton]

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Padveiligheid met ‘n glimlag hierdie Feesgety