Bridgestone gee vyf beste bandewenke vir vakansie

Johannesburg (10 Desember, 2012)

Die bandevervaardiger Bridgestone het sy vyf beste bandwenke om bandeprobleme hierdie vakansie te voorkom aangekondig, en die goeie nuus is dat bande-ondersoeke maklik binne bereik van die gemiddelde motoris is.

“Goeie bande-instandhouding is ’n geval van weet wanneer om dit na te gaan,” het Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, gesê. “Die eerste op ons lys wenke is om seker te maak jou bande is reg gepomp.”

Bande word met die verloop van tyd stelselmatig papper, en as dit vir lang tye nie nagegaan word nie, kan hulle gevaarlik pap word, wat daartoe sal lei dat hulle buitensporig warm word. Die bykomende hitte en meegaande wrywing wat in ’n papperige band opbou, kan uiteindelik daartoe lei dat dit meegee en bars.  Dit verg baie energie om daardie soort hitte deur bykomende wrywing op te bou, en bande wat nie styf genoeg gepomp is nie, kan brandstofverbruik ook skerp laat styg.

“Gaan die banddruk elke twee weke na wanneer hulle nog koud is om seker te maak jy kry die beste bandlewe en om jou te help om ’n band op te spoor wat dalk ’n stadige lek opgedoen het,” het Lovell gesê. “Koop jou eie banddrukmeter sodat jy nie van vulstasies se wisselvallige banddrukmeters wat dikwels onakkuraat kan wees, afhanklik hoef te wees nie. Die koste is onbenullig in vergelyking met die veiligheidsvoordeel en besparings,”het sy bygevoeg.

Bridgestone se tweede wenk is om die bande gereeld vir oneweredige slytasie te ondersoek en seker te maak daar is nog genoeg loopvlak oor. Die loopvlak (groewe) verplaas water op die pad, en as dit te veel afgeloop is, kan die voertuig makliker bo-op die water gly sonder dat die bestuurder beheer daaroor het. Kyk ook vir goed wat in die loopvlak steek wanneer jy jou bande se loopvlak ondersoek. Hoe gouer ’n mens dit sien, hoe gouer kan jy dit laat verwyder en die band laat herstel – indien moontlik – voordat dit verder beskadig word of ’n stadige lek ontwikkel.

Die derde wenk is om die bande se wande te ondersoek om seker te maak dit het nie snye of blase nie. Moenie vergeet om jou kop onder die motor in te steek om na die sywande aan die ander kant te kyk nie – bande kan skade aan al twee kante opdoen. Groot snye maak ’n band onwettig gevaarlik, en ’n blaas in die wand is ’n ramp wat sit en wag om te gebeur – só band gáán bars. Sulke beskadigde bande moet oombliklik vervang word.

Die vierde wenk is om seker te maak die bande het nie ’n lekplek wat vloeistowwe soos olie of pakolie van die wielnaaf, of selfs remvloeistof, inlaat nie. Buiten die feit dat dit op veiligheidskritieke probleme dui, kan olie en pakolie die rubber beskadig.

Bridgestone se vyfde en laaste groot wenk is om seker te maak dat al die verskillende stelsels wat jou help om die beste uit jou bande te kry, in perfekte werkende toestand is. Verweerde skokbrekers verminder padhouvermoë aansienlik en kan ook tot vervroegde bandslytasie lei. Oneweredige wielsporing doen dieselfde, en maak die voertuig moeilik om te bestuur.

“Band-verwante noodgevalle kan omtrent altyd voorkom word,” het Lovell gesê. “Hierdie vyf eenvoudige wenke sal jou ook help om geld te bespaar en die gevaar te verminder dat jou bande jou in die steek laat,” het sy afgesluit.

Vir skakels in Engels besoek ook:

Road Safety and Tyre Safety

For more on Tyre Safety and Car Insurance:

Car insurance might not cover accidents with smooth tyres on your car!

Tyres and Road Safety

Tyres and Car Insurance

What is the causal link required before a car insurer can reject your claim?

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone gee vyf beste bandewenke vir vakansie