Toyota 86 aangewys as as die beste koepee in die 2012-Skotse Motor van die Jaar-kompetisie

Die Toyota 86 (wat in Europa die GT86 genoem word) het sy eerste toekenning in die Verenigde Koninkryke (VK) losgeslaan toe dit as die beste koepee in die 2012-Skotse Motor van die Jaar-kompetisie gekroon is.

Die 86 het sy eerste sukses op die renbaan in die onlangse Britcar-uithouren oor 24 uur opgevolg deur sy afdeling in Skotland se voorste nuwemotortoekennings, waarvoor lede van die Vereniging van Skotse Motorskrywers gestem het, te wen.

John Murdoch, die president van die vereniging, het die volgende gesê: “Die nuwe koepee-afdeling het ’n paar knap mededingers opgelewer en dit het vir die grootste deel van die jaar gelyk asof die stemmery een rigting sou loop. Toe keer Toyota met erns na dié segment terug en verbaas almal. Die GT86 is nie net ’n ongelooflike motor om te ry nie, maar vir ’n sportkoepee is hy verbasend suining met brandstof.”

Die 86, wat in Julie bekend gestel is, is van meet af ontwerp om ’n suiwer bestuurdersmotor te wees wat lig is, ’n lae swaartekragmiddelpunt en lewendige reaksie het, met belowende hantering wat deel van die ontwerp en ingenieursvoorkeure is.

Die Toyota-koepee, wat op puik Toyota-sportmotors van desjare gegrond is – veral die 2000GT van die 1960’s en die Corolla GT/AE86 van die 1980’s – is ’n 2+2-koepee met ’n tweeliter-bokserenjin in die snoet en wat die agterwiele teen hoë toere aandryf. Toyota het doelbewus standaard-bande – dieselfde as dié wat in die geval van die Prius gebruik word – eerder as hoëverrigtingsrubber voorgeskryf om te verseker dat eienaars hul GT86 se hanteringsmoontlikhede ten volle kan benut.

John Murdoch het die 86 se prys vandeesweek aan Scott Brownlee, Toyota Skotland se hoofbestuurder vir die pers en openbare aangeleenthede, by die ASMW se jaarlikse prysuitdelingsgeselligheid in Glasgow oorhandig.

Die 86 is baie gunstig in Suid-Afrika ontvang. Plaaslike motorskrywers het die nuweling onomwonde geprys, en die feit dat die 86 op die voorblaaie van al Suid-Afrika se voorste motorpublikasies gepronk het, bewys net weer hoe gewild die nuwe motor is.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota 86 aangewys as as die beste koepee in die 2012-Skotse Motor van die Jaar-kompetisie