Is jou versekeraar bewus van die nuutste inligting wat jou premie kan beinvloed?

Versekeraars bereken ‘n premie aan die hand van inligting wat aan die versekeraar verskaf word. Hierdie inligting is gewoonlik net beskikbaar deur ‘n volledige verklaring of blootstelling vanaf die versekerde klient. Veral met die direkte versekeraars is dit belangrik om in ag te neem dat die versekeraar waarskynlik nie ‘n makelaar of agent sal uitstuur na die perseel van die versekerde klient ten einde hierdie inligting te bevestig nie.

Dit is dan ook die rede waarom na die versekeringskontrak verwys word as ‘n ooreenkoms in goeie trou. Indien dit blyk dat die korrekte inligting nie verskaf is nie sal sodanige late beskou kan word as kontrakbreuk aan die kant van die klient.

Ons is dikwels geneig om nie voldoende te kommunikeer met ons versekeraars nie. Ons aanvaar dat ons na die ondertekening van die kontrak behoorlik verseker is – en laat dikwels na om nuwe inligting te mee te deel.

Deur ons eie nalatigheid/ luiheid stel ons nie net ons ooreenkoms in gedrang nie – maar ons verloor ook die geleentheid om moontlik te spaar met goedkoper versekering.
Ek wil dit graag illustreer aan die hand van ‘n voorbeeld:

Ek het verlede week vir my moeder gehelp om te trek vanaf die woonhuis waar sy 35 jaar lank gebly het in Oudtshoorn na ‘n aftree-oord ook in Oudtshoorn. Dit is belangrik in so ‘n geval om met die versekeraar te kommunikeer en nuwe inligting te verskaf – en meer as net die nuwe adresbesonderhede! [In hierdie geval is daar ook afstand gedoen van een voertuig wat vanselfsprekend die premie vir motorversekering sal beinvloed.]

Waarom is dit belangrik?

Ons moet in ag neem dat alhowel die dorp nog dieselfde mag wees – daar wel ander faktore mag wees wat die risiko vir versekeraars mag verminder. Belangrike inligting sal insluit:

• Toesluit motorhuis [steeds]
• Voertuie [Voorheen 2 voertuie = nou net een]
• Sekuriteitsomheining om kompleks v Sekuriteitsomheining om alleenstaande woning
• Diefwering & Alarmstelsel [Noodbeheer]
• 24 Huur beveiliging en sentrale ingangsbeheer
• Sekuriteitskeuring van alle werkers binne kompleks
• Grootte van woning en waarde van huisinhoud wat verminder
• Verminderde bestuur agv sentrale eetsaal en beskikbare dienste

‘n Verandering in lewensomstandighede bring ‘n verandering mee in ‘n versekeringsprofiel. Dit is die ideale geleentheid om verskillende produkte van verskillende versekeraars te vergelyk. Nie net is die ‘n noodsaaklike stap om te verseker dat jy korrek verseker is nie – maar kan ook meebring dat jy spaar op jou huidige versekeringspremie!

Posted on by jonckie

Comments Off on Is jou versekeraar bewus van die nuutste inligting wat jou premie kan beinvloed?