Versekeraar wys eis van hand na pensioentrekker R1,8miljoen eis van kerk na val


Dit is nie sommer dat ‘n lidmaat van ‘n kerk dit waag om ‘n eis teen ‘n kerk in te stel nie – veral nie wanneer die bedrag soveel as R1.8 miljoen is nie! Dit het egter wel gebeur in Bloemfontein en ons wil graag hierdie interessante feite ook hier deel. Dit bied interessante insae in die vereistes vir aanspreeklikheid en ‘n bevinding van nalatigheid. Ons haal aan:

“‘n Pensioentrekker van Bloemfontein wat ses gebedsboekies by die Rooms-Katolieke Sacred Heart-katedraal in die stad wou gaan afhaal, eis nou R1,8miljoen van die kerk nadat hy van ’n stoepie afgeval en sy enkel gebreek het.

Dié eisbedrag van Ray Fayle (67) van Bainsvlei sal waarskynlik verdubbel nadat sy regterbeen in Maart vanjaar net onder die knie afgesit is weens die val die oggend van 4 Augustus 2008.

Hy was dié oggend op die kerkperseel in St. Georgestraat om te hoor of die gebedsboekies wat hy bestel het, al gekom het, toe hy in ’n kraak in die vloer van ’n stoep getrap, sy enkel geswik en sowat ’n meter na onder van die stoep afgeval het.

Sy regtervoet het in ’n potplant tussen die plant en die rand van die pot vasgedruk en sy enkel is gebreek.

Daar was geen veiligheidsreling op die stoep nie en die kerk was dus nalatig, word in die eis beweer.

Hy het reeds verskeie operasies aan sy enkel ondergaan. Net sy mediese koste wat reeds betaal is, is R308705. Verder eis hy R500000 elk vir algemene skade, verlies aan lewensgenietinge en die skending van sy waardigheid. Volksblad verneem hy het aanvanklik die kerk gevra om sy mediese koste te betaal. ’n Eis is toe na Santam, die kerk se versekeraars, ingestuur.

In verlede jaar het Kurt Hendrikse, ’n spesialis in die aanspreeklikheidseenheid van Santam, in ’n brief geantwoord dat die eis afgekeur is en dat Santam enige regsaksie sal teenstaan.

In sy verweer op die eis sê die kerk dat Fayle feitlik daagliks op die kerkperseel was en die stoep baie goed ken. Hy het agteruit geloop en toe van die stoep afgeval.

Dit was weens sy eie nalatigheid dat hy geval het. Hy het nie gekyk waar hy loop nie.

Mnr. Chris Gerber van Gerber Junius-prokureurs stel die eis namens Fayle in. Van Zyl Le Roux-prokureurs van Monumentpark tree vir die kerk op. Die eis sal in Februarie volgende jaar bereg word.

-[Mike van Rooyen, Volksblad]”

Posted on by jonckie

Comments Off on Versekeraar wys eis van hand na pensioentrekker R1,8miljoen eis van kerk na val