Al meer motoreienaars soek versekering by direkte versekeraars

Die afgelope naweek het Adri Van Zyl berig in Rapport rakende die impak wat strenger regulering het op die kleiner versekeraars. As voormalige nakomingsbeampte by ‘n kleiner finansiële dienste maatskappy is ek vertroud met die streng vereistes deur wetgewing gestel.

Ek is heeltemal ten guste van steng regulering en die beskerming van die verbruiker. Dit is miskien ook die rede waarom ek ontsteld raak wanneer beleggers miljoene rande verloor in ongereguleerde skemas terwyl die kleiner professionele adviseur toegegooi word met papierwerk terwyl hy oor dieselfde kam geskeer word as die kansvatters in die bedryf.

Dit is miskien ook hierdie kansvatters wat al meer kliënte laat beweeg na die groot rolspelers in die versekeringsbedryf. Dit is nie net die geval met beleggings nie maar ook met behoeftes vir korttermynversekering.

Hierdie verskynsel verdien ook melding in die artikel van Adri Van Zyl en ek haal graag aan:

“Volgens die mees onlangse oorsig van die versekeringsbedryf deur KPMG het nuwe toetreders tot korttermynversekering, soos regstreekse en spesialisversekeraars, 10% markaandeel van die groot versekeraars weggerokkel.

Die grotes oorheers steeds korttermynversekering, maar het drie sterk mededingers wat regstreekse versekering aanbied.

Ian Kirk, uitvoerende hoof van Santam, sê die regstreekse versekeraars wen markaandeel in die versekering van motors en persoonlike besittings.

Volgens hom gaan sowat 50% van alle nuwe versekeringsake na die regstreekse versekeraars en tussen 30% en 40% van van kragsake.

Sulke mededinging is goed vir verbruikers en hou die versekeringsmaatskappye op hul tone, sê Kirk.”

Gevolgtrekking

Die nuwe generasie motoreienaars is deeglik vertroud met die internet en baie gemaklik met die aankoop van produkte oor die internet.  Hulle het grootgeword met aanlyn- bankdienste en neem veel makliker finansiële besluite of oefen keuses oor versekering uit oor die internet.

Hierdie eienaars word aangeraai om nie net aankope te doen oor die internet maar ook ander stappe te neem ten einde die regte ingeligte besluite te neem:

  • Doen navorsing oor die produkverskaffer of versekeraar
  • Lees wat geskryf word oor daardie versekeraar op ander webwerwe as die produksverskaffer se eie webwerf.
  • Let op bevindings, advies en waarskuwings van die Ombudsman
  • Vergelyk produkte van verskeie verskaffers en maak seker dat jy die produkte verstaan
  • Moet geen oorhaastige besluit neem nie!

Posted on by jonckie

Comments Off on Al meer motoreienaars soek versekering by direkte versekeraars