Verskuilde gevaar van voertuigritte onthul

‘n Foto van Bill McElligot wat in die New England Journal of Medicine verskyn het om die velskade te illustreer wat hy in sy werk as bestuurder van ‘n afleweringswa opgedoen het.

Verskeie studies oor ‘n aantal jare dui op die verskuilde gevaar vir die insittendes van motorvoertuie wat oor langer tydperke aan die UV-strale van die son blootgestel word, en sommige kankerorganisasies en ‘n dermatoloog van Malta beskou getinte motorruite as ‘n goeie manier om velkanker te voorkom.

Hoewel die studies handel oor velkanker by volwassenes, waarsku kankerorganisasies dat die meeste UV-verwante velskade reeds aangerig is teen die tyd dat kinders 18 word. Dus behoort veral die ouers van kinders en die werkgewers van voertuigbestuurders van die uitslae kennis te neem.

Van die onderskeie kankersoorte kom velkanker die algemeenste in Suid-Afrika voor, met sowat 20 000 gevalle en 700 sterftes jaarliks, sê die Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA). Na Australië is Suid-Afrika ook die land ter wêreld waar velkanker die meeste voorkom. Tog lyk dit of navorsing oor die uitwerking van UV-strale op die insittendes van voertuie agterweë bly en kon geen inligting oor plaaslike navorsing op die Internet opgespoor word nie.

Die mediese wêreld is onlangs geskok toe Dr. Jennifer Gordon van die Northwestern University in Chicago ‘n foto van die 66-jarige vragmotorbestuurder Bill McElligot in die New England Journal of Medicine gepubliseer het, wat die skade toon wat blootstelling aan die son aangerig het in die 28 jaar wat hy ‘n melkafleweringswa bestuur het.

Die linkerkant wat naaste aan die venster is, lyk sowat 20 jaar ouer as die regterkant. Gordon sê dis foto-veroudering vanweë die UVA-strale wat deur die glas stroom.

WorkCover Authority van Nieu-Suid-Wallis (Australië), ‘n staatsagentskap wat produktiewiteit, gesondheid en veiligheid in die werkplek bevorder, meld ‘n geval van ‘n vragmotorbestuurder wat Sydney Electricity oor sy velkanker gedagvaar het.

Hy het aangevoer dat sy werk die kanker veroorsaak het of die omvang daarvan vererger het. Hy het ‘n eis vir die gevolglike  verlies van gehoor, sig in albei oë, die doeltreffende gebruik van sy regterbeen, spraak en reuk sowel as vir ernstige gesigskending ingestel. Hy is oorlede voor die saak afgehandel is.

Dr. Scott Fosko, hoof van die departement dermatologie aan die Universiteit van St. Louis in die Verenigde State, het reeds in 2004 ‘n studie gelei wat die gevalle van 1 047 pasiënte ondersoek het wat by die departement aangemeld het. Daar is bevind dat lang ure agter die stuurwiel die risiko van velkanker kan verhoog.

Die studie is in die Desember 2010-uitgawe van die  Journal of the American Academy of Dermatology gepubliseer.

In die geheel het sowat 54% van die gevalle van velkanker aan die kop en nek aan die linkerkant voorgekom. Melanome, die dodelikste vorm van velkanker, het in 75% van die gevalle aan die linkerkant voorgekom.

Hoewel die wetenskaplikes nie die oorsake bestudeer het nie, het hulle die aandag gevestig  op die blootstelling aan die UV-strale deur motorruite omdat Amerikaanse bestuurders aan die linkerkant sit. Al beskerm motorruite teen UVB-strale, beskerm dit nie teen die gevaarliker UVA-strale nie.

Behalwe die gebruik van sonbrandmiddel, beveel Fosko aan dat vensters met getinte glas en UV-filters kan help om die hoeveelheid UV-strale te verminder wat die vel tref.

‘n Studie wat ‘n jaar later deur navorsers van die Universiteit van Washington in Seattle in dieselfde tydskrif gepubliseer is, het byna 85 000 gevalle van velkanker bestudeer en tot die slotsom gekom dat die meeste gevalle aan die linkerarm en die linkerkant van die gesig voorgekom het.

Dr. Paul Nghiem, wat die verslag geskryf het, het gesê die patroon is presies wat ‘n mens kan verwag wanneer jy ‘n motor bestuur en die UV-blootstelling wat jy daardeur kry. Hy het motoriste aangeraai om met hul ruite opgedraai te bestuur en lang moue te dra om velkanker te voorkom.

Medeskrywer Kelly Paulson het aan USA Today gesê vragmotorbestuurders as groep behoort bewus te wees van die UV-strale waaraan hulle blootgestel word terwyl hulle bestuur. “Passasiers wat lang tye in ‘n voertuig reis, moet ook bedag wees op die blootstelling aan die son.”

Volgens die sentrums vir siektebeheer en –voorkoming (CDC) in Atlanta, Georgia kan onbeskermde son in selfs slegs 15 minute deur die son se UV-strale beskadig word. UV-strale rig die skade aan, nie hitte nie.

Die kankerrraad in Australië (die land waar velkanker die meeste voorkom) sê daar is getuienis dat kindstydse blootstelling aan die son betekenisvol bydra tot die velkanker-risiko oor ‘n leeftyd, en beveel aan dat babas die eerste twaalf maande sover moontlik uit die son gehou moet word.

In die Verenigde State glo die velkankerstigting die toename in melonome is te wyte aan sonblootstelling en –brand in die kinderdae, toenemende sonblootstelling oor tyd en die gebruik van sonbeddens. Dit verwys na studies wat toon dat byna 80% van sonskade aangerig word voor ‘n kind 18 word.

Kinders en babas moet gedurende motorritte teen die son beskerm word, sê die Nieu-Seelandse kankervereniging, nog ‘n land met ‘n hoë voorkoms van velkanker. Die gebruik van sonskerms en vensterfilm word aanbeveel.

Veiligheid van passasiers

‘n Dokter van Malta het ‘n oproep gedoen dat getinte motorruite gebruik word om velkanker te help voorkom. The Malta Independent Online berig dat Dr. Lawrence Scerri van die departement dermatologie aan die Boffa-hospitaal sê motorruite filtreer slegs UVB-strale. ‘n Mate van tint kan ook ‘n gedeelte van die UVA-strale filtreer.

Dit stem ooreen met die aanbeveling van die Amerikaanse velkankerstigting dat voertuigruite met vensterfilm bedek moet word, wat bykans 100% UVA- en UVB-strale kan keer sonder om sig te belemmer.

Richard Burton van LLumar Films SA, verskaffer van vensterfilm vir sondoeleindes aan die Suid-Afrikaanse mark, sê LLumar-film keer 99% van die gevaarlike  UV-strale af. Dit beskerm nie net die insittendes teen moontlike velkanker nie, maar ook die binnekant van die motor teen verbleiking, veroudering en kraking.

“Die vensterfilm vir sondoeleindes het die bykomende voordeel dat dit van die son se hitte uitfilter en ‘n koeler, gemakliker omgewing vir die insittendes skep.”

PG Glass-dienssentrums installeer LLumar-vensterfilm. Besoek www.pgglass.co.za of bel 0860 03 03 03 vier en twintig uur per dag, sewe dae per week om vas te stel waar jou naaste sentrum is.

Besoek ook in Engels:

Skin Cancer and Safety on the Road

LLumar Window Film and Road Safety

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Verskuilde gevaar van voertuigritte onthul