Veiligheidswenke van die SAPD by die outomatiese teller masjiene

Hoe kan ons onsself beveilig wanneer ons geld trek by die outomatiese teller masjiene of soos ons dit in Engels noem – die ATM?

Die Suid-Afrikaans Polisiediens het die volgende wenke aanbeveel:

Wees waaksaam en bewus van jou omgewing by die OTM.

Moet nooit jou kaart of PIN [Persoonlike Indentifikasie Nommer] vir enigiemand gee nie -onder geen omstandighede nie!

Moet nooit jou PIN neerskryf op die kaart of enige iets naby die kaart nie.

Moet nooit jou kaart in die masjien inskuif voordat jy gevra word op die skerm om dit te doen nie.

Moet nooit die OTM gebruik as dit ‘n “blanko of wit skerm” [Blank screen] het nie. Indien die skerm nie duidelik sigbaar is nie of onbehoorlik belig is -verlaat die OTM en gebruik ‘n ander.

Staan naby die skerm en gebruik jou liggaam of hand as skerm ten einde te verseker dat niemand waarneem hoe jy jou PIN insleutel nie.

Hou jou hand oor die kaartgleuf ten einde te verseker dat niemand jou kaart kan neem of ruil nie.

Moet nooit hulp aanvaar van vreemdelinge by die OTM nie. Wees versigtig vir enige aanbod om hulp.

Kriminele werk dikwels in spanne – een trek jou aandag terwyl een jou kaart steel.

Indien jou kaart “gesluk” word deur die OTM is dit wenslik om dadelik jou bank se tolvrye nommer te skakel ten einde die kaart te stop en te kanselleer.

Moet nooit ‘n omstander vra om die tolvrye nommer namens jou te skakel nie -jy mag bedrieg word om te dink die kaart is gestop.

Sekuriteitswagte is daar om die toneel te beveilig -nie om transaksies uit te voer nie!

Indien jy hulp benodig – vra ‘n bankbeampte binne die bank!

Dit is goeie advies om ‘n limiet /perk te plaas op die bedrag geld wat elke dag by die OTM onttrek kan word!

Posted on by jonckie

Comments Off on Veiligheidswenke van die SAPD by die outomatiese teller masjiene