Wat is die beste stappe om te neem wanneer jy jou selfoon verloor?

Photo from Phototalk

Wat moet jy doen wanneer jy jou selfoon verloor of vermoed dit is nie net weg nie maar wel gesteel?

’n Gesteelde of verlore selfoon is genoeg van ’n ergernis, sonder om jou nog hoef te kwel oor oproepe wat dalk nog daarop gemaak word.

Die aangewese ding om te doen in die geval waar ’n selfoon gesteel of verloor word, is om dit dadelik by die betrokke diensverskaffer aan te meld en op die swartlys te plaas.

Sodoende sal die foon onbruikbaar op Suid-Afrikaanse netwerke wees.

Die stappe om te volg om ’n Vodacom-selfoon te swartlys is soos volg:

1. Skakel 111 van ’n Vodacom-foon of 082 111 van enige ander telefoon om die verlore foon aan te meld.
2. Verskaf jou ID-nommer, naam en van, die selfoon se nommer, maak, model en reeksnommer (IMEI) en wanneer die foon verloor is.
3. Meld die voorval by die polisie aan en hou die verwysingsnommer wat Vodacom verskaf byderhand.
4. Verskaf aan Vodacom die polisie se saaknommer, die tyd wat die voorval by die polisie aangemeld is en by watter polisiekantoor die saak ingedien is.
5. Meld die voorval by jou versekering aan as jou foon wel verseker is.

Om die selfoon van die swartlys te verwyder, faks ’n kopie van jou ID en ’n beëdigde verklaring waarop die IMEI-nommer verskyn, die selfoon as gevind aangedui word en dat daar nie ’n versekeringseis uitbetaal is nie na 011 546 9020. Dit kan ook telefonies gedoen word by dieselfde nommer waar dit geswartlys is.

Vir Cell C is die swartlys-stappe dieselfde as Vodacom, maar die nommer om te skakel is 140 van ’n Cell C-foon of 084 140 van enige ander telefoon.
Die versoek kan ook per e-pos by custserv@cellc.co.za of per faks by 084 143 29 ingedien word. Om die foon van die swartlys te verwyder gebruik dieselfde nommers.

MTN se prosedure is ook soortgelyk aan dié van Vodacom. Meld die voorval aan by 808 van ’n MTNfoon of 083 808 van ’n ander telefoon. ’n Faks kan ook gestuur word aan 083 705 7171.

MTN sal net ’n foon swartlys as daar ’n MTN-SIM-kaart in die foon was toe dit verloor of gesteel is. Die SIM-kaartnommer moet ook verskaf word wanneer die voorval aangemeld word. Om die foon van die swartlys te verwyder moet ’n e-pos gestuur word na business@-mtn.co.za met dieselfde inligting wat verskaf is toe dit op die lys geplaas is.

Nadat ’n selfoon geswartlys is, kan ’n SIM-uitruiling versoek word om dieselfde telefoonnommer te behou.

(Inligting van CrisisOnCall en Beeld 4 Junie 2012)

Besoek ook gerus:

How do I find the best insurance for my laptop, iPhone and smartphone?

Posted on by jonckie

Comments Off on Wat is die beste stappe om te neem wanneer jy jou selfoon verloor?