Is my huis of gebou behoorlik verseker teen stormskade?

Tornado in Bethlehem in foto van ER24

Die afgelope naweek is daar groot skade veroorsaak deur stormwinde en selfs ‘n tornado in die Oos-Vrystaat. In Suid-Afrika is ons gelukkig om min blootgestel te word aan aardskuddings, siklone of ‘n tornado – dit is gewoonlik haelskade, vloedwater of stormwinde wat die skade veroorsaak. Hierdie naweek se stormweer was egter ‘n waarskuwing om seker te maak dat ons wel gedek is teen alle moontlike rampe! Daar is dikwels skade wat nie dadelik met die oog waargeneem kan word nie en waarvoor jy moontlik nie verseker is nie…

Maar wat word gedek deur my versekering en wat bepaal die polis ten opsigte van skade aan die gebou waarin ek woon of waar ek werk?

Ek haal graag aan uit die polisbewoording van die versekeringspolis van Virseker:

Geboue

Hier mag jy vir skade aan die fisiese struktuur van jou huis en buitegebou(e) eis.

Wat jy betaal wanneer jy eis – die bybetaling(s)

Elke keer wanneer iets gebeur waarvoor jy eis, is jy verantwoordelik vir die basiese bybetaling. Jy moet ook enige van die bykomende bybetalings op die skedule, bo en behalwe die basiese bybetaling, betaal.

Ons sal jou vergoed vir:

Verlies van of skade aan jou eie huis, motorhuis, buitegeboue, swembad (maar nie boorgat- en swembadtoerusting nie), mure, hekke, grensdrade, tennisbane en vir die bybehore en vaste toebehore by die adres op die skedule.

Verlies of skade veroorsaak deur:

1 brand, weerlig, ontploffing en/of ’n aardskudding;
2 die bars van waterpype;
3 storm of vloed, maar nie wanneer die skade aan jou hekke, heinings of steunmure is nie;
4 botsing met jou huis en buitegeboue veroorsaak deur diere, karre en vallende bome (maar nie terwyl hulle afgekap word nie);
5 lugvaartuie of goed wat daaruit val;
6 kwaadwillige of doelbewuste skade, maar nie as jou huis vir meer as 60 dae per jaar leegstaan nie;
7 inbraak of diefstal, maar indien jou huis of ’n gedeelte daarvan verhuur word, slegs as ons die skade wat deur die inbraak aangerig is, kan sien; en
8 Ineensakking van grond:

As jou skedule meld dat jy ’n premie vir dié versekering betaal, sal ons jou vergoed vir verlies of skade aan jou huis, motorhuis en buitegeboue, wat deur ineensakking, deining of grondverskuiwing van die grond waarop die geboue staan, veroorsaak is, solank die verlies of skade nie veroorsaak is deur of toegeskryf word aan:

a ander uitgrawings behalwe mynuitgrawings;
b veranderinge, aanbouings of herstel aan die woning;
c die verdigting van vulstof;
d foutiewe ontwerpmateriaal of vakmanskap; of
e normale besinking, inkrimping of uitsetting van die woning nie.

Onder die versekeringstoevoeging sal ons jou ook vergoed vir jou huisinhoud wat beskadig of verlore raak as gevolg van ineensakking, deining of grondverskuiwing, as jy ’n huisinhoudspolis met ons het by dieselfde versekerde adres, en daarvoor op dieselfde tyd geëis word as wat jy vir jou geboue eis en die geboue-eis goedgekeur word.

9 Geisers:

a verlies of skade veroorsaak deur die bars of oorloop van geisers, toerusting of pype geheg aan die geisers, tot die maksimum soos op jou skedule aangetoon; en
b verlies of skade aan geisers, bytoestelle en pype, maar slegs indien jou skedule aantoon dat jy vir geiserversekering betaal.

Tornado skade in Bethlehem

Die maksimum vergoeding vir elk van die volgende items verskyn op die skedule:

Verlies van huurinkomste

Die huurinkomste wat jy verloor het omdat jou huurder die versekerde gebou(e) moes verlaat as gevolg van skade wat veroorsaak is deur enige van die gebeure wat deur hierdie polis verseker word.

Huuronkoste om elders te bly

Die onkoste wat jy moes betaal om ’n ander plek te huur omdat jou gebou/e beskadig is deur enige van die gebeure wat deur die polis verseker word en jy nie daarin kan bly nie.

Professionele fooie

Jou koste vir professionele fooie en koste van openbare owerhede na skade veroorsaak deur enigiets wat deur die polis verseker word.

Glas- en badkamertoerusting

Jou vaste glas- en badkamertoerusting wat per ongeluk beskadig is.

Elektrisiteitsvoorsiening

Jou openbare elektrisiteitsvoorsiening of hoofkragverbindings wat per ongeluk beskadig word.

Antennas

Jou klankstelsel/televisieantennas of -maste en satellietskottels indien dit per ongeluk breek of gesteel word.

Brandweerkoste

Brandweerkoste as daar ’n brand by jou huis is.

Slopingskoste

Die koste om jou huis te sloop en die bourommel te verwyder indien dit deur enige iets beskadig word wat deur hierdie polis verseker word.

Aanspreeklikheid as ’n huiseienaar

Indien jy volgens wet aanspreeklik gehou word, sal ons jou vergoed:

1 indien enige persoon behalwe jy of ’n lid van jou gesin wat saam met jou woon, of iemand wat vir jou werk, in ’n ongeluk sterf of beseer word;
2 indien die eiendom van enige persoon per ongeluk beskadig word, maar dit nie joune of ’n lid van jou gesin of iemand wat vir jou werk s’n is nie. (Let wel: iets wat nie aan jou en jou gesin behoort nie, maar wat jy vir iemand anders oppas, is nie verseker nie); en
3 vir die verhaalbare regskoste van die persoon wat teen jou eis.

Aanspreeklikheid teenoor huishoudelike werkers

As jy volgens wet aanspreeklik gehou word, sal ons jou betaal indien jou huishoudelike werker seerkry of sterf in ’n ongeluk by jou huis terwyl hy/sy besig was om te werk.

Ons vergoed jou nie vir:

Brandskade aan ’n grasdakgebou

Brandskade as jou huis of buitegeboue ’n grasdak het, tensy die skedule aantoon dat dit verseker is.

Skade aan nie-goedgekeurde geboue

Enige skade indien die betrokke plaaslike owerheid nie die konstruksie van die gebou goedgekeur het of sou goedkeur nie.

Aanspreeklikheidseise

Eise vir dood, besering of skade wat veroorsaak is deur of gebeur het as gevolg van:
1 eienaarskap, besit of gebruik van hysers of karre; of
2 bedryf van enige handel, besigheid of beroep.

Ineensakkings-, deinings- of grondverskuiwingseise vir:

1 skade of verlies van soliede vloerblaaie of enige ander deel van die gebou as gevolg van die beweging van die vloerblaaie, tensy die fondasie wat die buitemure van die geboue ondersteun, deur dieselfde oorsaak en op dieselfde tyd beskadig word;
2 skade of verlies aan swembaddens, tennisbane, binnehowe, terrasse, rylane, paadjies, rottings- of bewaringstenke, afvoerpype, waterweë, mure, hekke, pilare en heinings, tensy die privaatwoning of buitegeboue deur dieselfde oorsaak op dieselfde tyd beskadig word; of
3 die koste van noodsaaklike werk wat gedoen moet word om verdere verlies of skade weens ineensakking, deining of grondverskuiwing te vermy, behalwe waar toepaslike ontwerpvoorsiening tydens die oorspronklike konstruksie van die woning en verdere byvoegings daartoe gemaak is.

Gevolgtrekking

Dit is duidelik uit hierdie inligting dat versekeringsdekking veel meer omvattend is as net vir daardie skade wat met die oog waargeneem kan word. Dit is belangrik dat ons noukeurig let op ons versekering en deeglik bewus is waarvoor ons wel verseker is. Vergelyk jou huidige polis ook met ander versekering en vra enige vrae wat daar dalk mag ontstaan ten einde onduidelikhede uit die weg te ruim. Onthou dat verskillende versekeraars mag verskil in die dekking wat hul verskaf!

Tornado skade in Bethlehem

Posted on by jonckie

Comments Off on Is my huis of gebou behoorlik verseker teen stormskade?