Vermy versekeringseise met versigtige bestuur by padwerke!

Die Suid-Afrikaanse bestuurder se ongeduld op die pad kom veral duidelik na vore by padwerke! Ons is eenvoudig maar ‘n ongeduldige nasie en word dikwels te vinnig warm onder die kraag!

Padwerke is egter nie net iets wat ons ongeduldige geaardheid toets nie. Vir die roekelose en haastige  bestuurder is dit ook ‘n gevaararea wat baie maklik sy versekering kan toets. Daar is verskeie gevare waarteen gewaak moet word ten einde te verseker dat daar nie onnodige skade veroorsaak word nie.

Op die Arrive Alive webstuiste het ons ‘n redelik volledige bladsy ontwikkel met inligting oor padveiligheid by padwerke! Dit is belangrik om te let op die volgende gevare:

–          Werkers en voetgangers – let op die manne en vroue met die vlae!

–          Padboutoerusting en voertuie

–          Ander voertuie van mede-padgebruikers

–          Los konstruksiemateriaal soos klippe en gruis

–          Afgeleide aandag / “Distracted driving”

In hierdie areas van konstruksie is dit besonder belangrik om spoed te verminder, volgafstande te vermeerder en seker te maak dat die aandag op die pad en moontlike gevare is. Baie bestuurders word so meegevoer met die aktiwiteite langs die pad dat hul voertuie voor hulle stamp in die sogenaamde buffer botsings!

Dit is ook belangrik om ag te gee op die aanwysings van die padwerkers met vlae sowel as die verkeerstekens ten opsigte van beide rigting en spoed!

Maatskappye wat aangestel word om padkonstruksie te doen moet ook by die toekenning van tenders kan aantoon dat hul oor die nodige professionele verskering beskik en kan aanspreeklik gehou word vir skade wat deur hul nalatigheid veroorsaak word. Die proses om jou voertuig te herstel en skade te herstel kan egter ‘n moeisame en lang proses wees!

Dit is dus belangrik dat ons as bestuurders alles moontlik doen om versigtig te bestuur en die moontlikheid van skade te beperk!

Uit die oogpunt van versekering is dit belangrik dat ons verstaan wat beide ons regte en verpligtinge is nie net wanneer ons bestuur in areas van padkonstruksie nie, maar ook waar ons ongelukkig is en skade aan ons voertuie veroorsaak word. Op ‘n paar van die webtuistes oor versekering is daar belangrike inligting waarna ons graag wil verwys.

Besoek dus ook die volgende skakels in Engels:

Road Safety near Construction Zones

When are road construction companies deemed negligent for vehicle damage?

Where do I claim from damage caused by road construction?

[Fotos deur Pierre Steenkamp/ Phototalk]

Posted on by jonckie

Comments Off on Vermy versekeringseise met versigtige bestuur by padwerke!