Vermindering van bedrog is ‘n voorvereiste vir goedkoper versekering!

Ons almal kla oor voortdurend stygende versekeringspremies! Wanneer ons kyk na die dodetal op ons paaie en die onverskillige bestuur om ons verstaan ons waarom voertuigverskering al duurder word. Misdaadsyfers en nuusberigte oor inbrake en roof is weer ‘n aanduiding waarom huishoudelike en besigheidsversekering al duurder word!

Die waarheid is egter dat dit nie net hierdie vreemde naamlose kriminele is wat verantwoordelik is vir premiestygings nie, maar ook dikwels vriende , kollegas en familielede wat niks vreemd daarvan dink om valse versekeringseise in te dien nie!

Meeste van ons moet erken da tons al gehoor het hoe iemand spog oor geld wat hy uitbetaal gekry het van sy versekeraar terwyl hy nie ‘n geldige eis gehad het nie. Dit word meestal regverdig met die verskoning dat daar mos al jare premies betaal word en dat dit mos regverdig is om iets terug te kry via al hierdie premies al was dit eis nie ‘n geldige ene nie!

Maar wat is versekeringsbedrog en hoe groot is die probleem werklik. In die Rapport van nandag is daar ‘n artikel deur Adri Van Zyl van Sake24 wat ek graag wil aanhaal ten einde die omvang van versekeringsbedrog te illustreer:

Koste van Versekeringsbedrog

“In die korttermynversekeringsbedryf vier bedrog hoogty – dit kos die bedryf tussen R2 miljard en R4 miljard per jaar.

Om die waarheid te sê, net die Oos-Europeërs pleeg meer versekeringsbedrog as Suid-Afrikaners. Mnr. Hugo van Zyl, bedryfshoof van die Suid-Afrikaanse versekeringsmisdaadburo (SAICB), sê 75% van die bedrogsake wat aangemeld word, hou verband met voertuig­versekering.

Die amptelike raming van die ­versekeringsbedryf is dat tussen 10% en 15% van die totale premies van R70 miljard wat vir voertuigversekering gevorder word, bedrog subsi­dieer. Die nie-amptelike syfer is nader aan 35%.

Die eerste les is dat motorversekering vir baie meer mense bekostigbaar sal wees as bedrog uitgeroei word. Mnr. René Otto, uitvoerende hoof van MiWay, sê versekerings­premies kan dan deur die bank tot 20% laer wees.

Mnr. Ian Kirk, uitvoerende hoof van Santam, sê tot ’n derde van die eise wat ontvang word vir skade aan motors is vals of daar is ’n element van bedrog. “Party mense beskou hul versekeringspolis as ’n spaarplan, en vals ­eise neem veral teen die einde van die jaar toe,” sê hy.

’n Ondersoeker by die SAICB sê by versekeraars staan Januarie en Februarie bekend as “inkopietyd”.

Dit is wanneer die oordaad van Desember tot vals eise lei. “Jy sal verbaas wees as jy hoor hoeveel vroue verloor hul duur diamantringe en dik goue kettings in die see . . . ”

Kirk sê al word baie gedoen om versekeringsbedrog te bekamp, is die stryd nog lank nie gewonne nie.

Mnr. Hennie Nortje, uitvoerende hoof van versekeringsdienste van Santam, sê in Oktober verlede jaar is 448 vals eise by dié versekeraar in­gedien.

Wie is almal betrokke by Versekeringsbedrog?

Die probleme met versekerings­bedrog word vererger omdat soveel mense daarby betrokke is. Dit sluit in die versekerdes self, duikkloppers, insleepdienste, assessors én versekeringsmakelaars. Van Zyl sê diensverskaffers was betrokke by 87% van die gevalle van bedrog wat deur die SAICB ondersoek is. Nog ’n bron sê 100 uit elke 140 assessors is betrokke by die indiening van vals of opgeblase eise by versekeraars.

Versekerdes is betrokke by of speel ’n rol in 20% van alle gevalle van vals of bedrieglike eise wat ingedien word, sê Otto.

Duikkloppers en insleepdienste is rolspelers waaroor die versekeraars noodgedwonge ’n ogie moet hou, sê die bestuurshoof van ’n versekeraar.

Bestuurders van insleepvoertuie sleep dikwels beskadigde voertuie na duikkloppers met wie hulle “bevriend” is omdat hulle ’n gunsloon kry.

Indien die versekeraar nie die kwotasie van die betrokke duikklopper goedkeur nie, word vrystellingsgelde gehef. Dit is ’n manier waarop versekeraars uitgebuit word. Insleepdienste speel ook ’n rol in gevalle waar ongelukke nageboots word. Daar is ook gevalle waar versekeringsmakelaars en insleepdienste kop in een mus is.

In gevalle waar voertuie verwoes is en by ’n skrootwerf aankom, neem sodanige makelaars ’n polis op hul eie naam uit en dien ’n maand of wat later ’n eis in vir die skade. Sommige makelaars help ook hul kliënte om polisse terugwerkend te maak en voor te gee dat hul polis uitgeneem is voordat ’n ongeluk plaasgevind het.

Nog ’n probleem met insleepdiens­te is dat 70% van alle motors wat in ongelukke betrokke is, nie ingesleep hoef te word nie omdat dit nog kan ry. Baie van die voertuie word wel ­ingesleep en by die duikklopper geparkeer totdat die herstelwerk goedgekeur is. Intussen betaal óf die versekeraar óf die kliënt vir ander vervoer.

Duikkloppers

Duikkloppers is nog ’n kwessie. Hulle voel dikwels dat versekeraars hulle te na kom deur hulle nie mark­verwant te vergoed nie en ook dat hulle ’n groter as die ooreengekome persentasie wil hê op onderdele wat hulle koop.

Die versekeringsbedryf het die vereiste dat versekeraars drie kwotasies vir herstelwerk moet kry, afgeskaf juis omdat duikkloppers en ­assessors onderling ooreenkomste sluit. Duikkloppers skryf dikwels aan assessors voor wat die herstelkoste moet wees en die eis word met ’n paar duisend rand gelaai. Hulle deel dan die verskil tussen die werklike bedrag en die opgeblase eis.

Duikkloppers werk ook dikwels onderling saam en besluit wat die bedrag op ’n spesifieke kwotasie moet wees.

’n Eis vir skade aan ’n spesifieke motor kan ook gelaai word om ’n soortgelyke, onversekerde voertuig te laat herstel.

Die gebruik van ongelukstelle (“crash kits”) is ook nie ongewoon nie. Dit beteken dat beskadigde dele van motors gehou word en as ’n soortgelyke motor herstel moet word, word onbeskadigde panele vervang deur die beskadigde panele, wat die assessor om die bos lei.

’n Algemene praktyk is dat duikkloppers eise indien vir nuwe, oorspronk­like panele en onderdele, maar dan tweedehandse panele gebruik. Die versekeraar betaal on­wetend vir nuwe panele.

Versekerdes lieg en bedrieg ook dikwels, veral as hulle nie ’n bybetaling op ’n eis kan bekostig nie. In dié gevalle sal die duikklopper met die medewete van die versekerde die eis opblaas en die bykomende geld word as die “bybetaling” aan die versekeraar terugbetaal.

In maer finansiële tye kan dit taamlik maklik gereël word dat ’n motor “gesteel” of “gekaap” word sodat ’n versekerde ’n eis kan indien.

Versekerdes dra soms tot die probleem met bedrog by bloot omdat hulle nie lus is om ’n bohaai op te skop nie of voel dat die versekeringsmaatskappy dit toelaat en daarom maar moet opdok.

’n Baie groot probleem in Suid-Afrika is dat net 30% van alle voertuie op die pad verseker is. Dit stel nie net individue bloot aan groot finansiële skade nie, maar bedreig ook die versekeringsmaatskappye.

Skuldiges ry aan die pen

Die Suid-Afrikaanse versekeringsmisdaadburo (SAICB) het reeds nege mense suksesvol vervolg weens versekeringsbedrog van altesame R4 miljoen. Al nege mense is skuldig bevind en opgeskorte vonnisse opgelê. Die geld wat by die bedrog betrokke was, is aan die versekeringsmaatskappye terugbetaal.

 

Die mees onlangse geval was verlede maand, toe die beskuldigde ’n opgeskorte vonnis van drie jaar gekry het nadat hy versekering uitgeneem het op ’n motorwrak wat by ’n skrootwerf gekoop is, hy ’n ongeluk nageboots het en vir skade van R250 000 geëis het. Die bestuurder van die insleepvoertuig was voorheen betrokke by ’n soortgelyke geval.

Nog twee sake sal na verwagting binne die volgende twee maande afgehandel word. Die SAICB ondersoek 18 sake ter waarde van R450 000 waarby sindikate betrokke is.

Tot dusver vanjaar is drie nuwe klagtes ontvang waarby R6 miljoen betrokke is. Die SAICB sê al die sake sal gelyklopend ondersoek word.

Die buro ondersoek tans net bedrogsindikate wat betrokke is by misdaad in korttermynversekering, maar dit sal later uitgebrei word na sindikate in langtermyn- en gesondheidsversekering.

 

Wat gedoen kan word

– Versekeringsbedrog of die vermoede dat versekeringsbedrog gepleeg is, kan anoniem by die Insurance Fraudline by 0 0860 002526 of per e-pos by insurance@fraudline.co.za aangemeld word.

 

– Die Raad op Finansiële Dienste kan skuldige makelaars se lisensie as finansiële tussenganger teruggetrek.

– Duikkloppers wat hulle skuldig maak aan versekeringsbedrog kan verwyder word van versekeraars se lys van goedgekeurde duikkloppers.

– Die naam van assessors wat bedrieg, kan geskrap word van die rol van goedgekeurde assessors.

 

Nóg maniere waarop bedrog gepleeg word

– Verskillende polisse word by verskillende versekerings-maatskappye uitgeneem. In sommige gevalle verskil die naam op die polis, maar deel ’n bankrekening. Eise vir dieselfde skade word by die verskillende maatskappye ingedien en die uitbetalings word in dieselfde rekening gedoen.

– Voertuie word êrens weggesteek of verkoop en by die versekeraar as gesteel aangemeld.

– Terugwerkende eise. Dit word gedoen in gevalle waar ’n onversekerde voertuig beskadig word, ’n polis terugwerkend uitgeneem word en ’n eis ’n maand of wat later ingedien word. Dit word ook gedoen in gevalle waar een versekeraar ’n eis verwerp. ’n Nuwe polis word dan by ’n ander versekeraar uitgeneem en ’n eis later ingedien – vir dieselfde skade.

Gevolgtrekking

Dit is tyd dat ons versekeringsbedrog erken as misdaad en ons deel doen om hierdie korrupte aktiwiteit uit te roei. Daar is geen verskoning wat dit regverdig nie en die versuim om dit te rapporteer maak ons elkeen medepligtig tot die rede vir stygings in versekeringspremies.

Besoek ook die volgende skakels in Engels:

Where can we report insurance fraud in South Africa?

Insurance Fraudsters are getting caught and punished!!

 

Car Insurance and Insurance Fraud

Versekeringsbedrog

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Vermindering van bedrog is ‘n voorvereiste vir goedkoper versekering!