Padveiligheid op die pad na die KKNK en tydens die Paasnaweek

Die KKNK, waarskynlik die grootste Kunstefees in Suid-Afrika neem more in aanvang in Oudtshoorn. Duisende Suid-Afrikaners en veral Afrikaanssprekendes sal die pad aandurf om vertonings by te woon van hul gunsteling sangers en kunstenaars.

Ek is bevoorreg om ‘n bietjie hieroor te kan skryf vanuit Oudtshoorn, die dorp waar ek grootgeword en gematrikuleer het. Voordat die Fees begin is dit egter ook gepas om wenke oor padveiligheid in Afrikaans te deel met almal wat die pad na die Klein Karoo gaan aandurf. Dit is belangrik om in ag te neem dat daar baie padwerke op al die vernaamste roetes plaasvind en dat daar ‘n bietjie meer geduld nodig sal wees op die roete! Dit sal ongeveer ‘n uur langer neem om te reis vanuit die Vrystaat en Gauteng na Oudtshoorn!

Wenke vir Padveiligheid

1 Gehoorsaam padreëls en hou jou bestuurslisensie byderhand.

2 Beplan jou roete sorgvuldig en laat jouself met genoeg tyd om jou bestemming te bereik.

3 Gaan die padwaardigheid van jou voertuig na voordat jy vertrek. Gee veral aandag aan ligte, ruitveërs, remme, stuur van die voertuig, uitlaatstelsels en bande.

4 Moenie die voertuig oorlaai nie.

5 Vermy bestuur laat in die nag indien moontlik.

6 Rus behoorlik voordat jy op die pad gaan en hou ‘n energiedrankie byderhand.

7 Neem ‘n ruskans van die bestuur elke sowat 2 uur of 200km

8 Vermy bestuur na enige inname van alkohol! Moet nooit drink en bestuur nie!

9 Wees op die uitkyk vir gevaarlike bestuurders en voetgangers langs die pad en handhaaf ‘n veilige distansie van hulle af!

10 Wees sigbaar – Bestuur met jou ligte aangeskakel en gedomp.

11 Hoofligte moet gedomp word vroegtydig om nie aankomende bestuurders te verblind nie.

12 Bestuur met jou veiligheidsgordel behoorlik vasgegordel en maak seker dat passasiers almal in die voertuig vasgegordel is.

13 Bestuur verdedigend en gefokus op die veiligheid van alle padgebruikers.

14 Bestuur binne die spoedgrense te alle tye.

15 Gaan slegs verby ander voertuie indien dit duidelik is dat dit veilig is om so te doen.

16 Vermy daardie goed soos selfone wat jou aandag aftrek  – bestuur te alle tye met jou aandag ten volle gefokus op die pad!

17 Handhaaf ‘n minimum van 2 sekondes volgafstand  – hierdie afstand moet vergroot word tydens bestuur in die donker, mis, reën of as die pad nat is.

18 Verwag dat nie alle bestuurders so verantwoordelik soos jy gaan wees nie – verwag dat die onverwagse te enige tyd kan gebeur!

19 Wees bedagsaam teenoor ander padgebruikers – hou jou humeur in toom en vermy reaksionêre optrede!

20 Wees bedag op veranderende pad en weersomstandighede.

Deel gerus hierdie aanbevelings met vriende , kollegas en familielede  – mag die paastyd ‘n tyd wees van seën en veiligheid!

[Wenke van die padveiligheidswebwerf ArriveAlive.co.za en vennote in padveiligheid]

Posted on by jonckie

Comments Off on Padveiligheid op die pad na die KKNK en tydens die Paasnaweek